kategorieë: InspirasieJou lewe

10 wenke vir lewenslus

Jy ken hulle op ’n afstand uit: gewone mense met ’n ongewone liefde vir die lewe. Hulle is nie noodwendig jonk, mooi, gesond of suksesvol nie, maar hulle is oop vir ervaring, energiek en ’n plesier om in die omtrek te hê. Behalwe natuurlik wanneer hulle soos enige ander sterfling ’n slegte dag het!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Wat is lewenslus, en watter instellings of tegnieke kan dit aanhelp? Ons het twee vroue wat voluit leef en
ander leer om dit te doen, Catherine Glennie van Kaapstad en Annie Coetzee van Pretoria, se mening gevra.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Vir my beteken lewenslus die begeerte om wakker te word omdat die dag mooi gaan wees,” sê Annie. Annie is die direkteur van Creative Brain Management en is betrokke by korporatiewe spanbousessies, lewensafrigting en openbare optredes.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Catherine of Cat, ’n manifestasie-afrigter wat mense help om hul doelstellings te bereik deur universele en spirituele beginsels toe te pas, sien lewenslus as “iets in jou wat jou aanspoor om met vreugde en positiewe verwagting op te tree. Die hoogste vorm van lewenslus is die uitdrukking van jou siel”. Mense met lewenslus ervaar hul bestaan as betekenisvol, eien nuwe moontlikhede en takel die uitdagings. Hulle sukkel nie bloot sleepvoet voort nie.

Is lewenslus binne elkeen se bereik?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Ja, dis moontlik vir enigeen wat met bewustheid leef,” antwoord Annie. “Jy moet wéét jy kan groot droom, en dat jy nie noodwendig hoef te glo wat ander van jou sê nie. Die mense na aan jou kan jou lewenslus vernietig. As jou ma, kind, man of buurvrou nie glo in wie jý glo jy is nie, verloor jy jou joie de vivre. Jy moet daarteen waak om hul menings jou eie te maak.”

“Lewenslus kan gekelder word,” sluit Cat hierby aan. “Dikwels leer ouers of onderwysers kinders om die mens wat hulle werklik is, binne te hou. Pleks dat hulle kinders se lewenskrag in kreatiewe rigtings kanaliseer, dwing hulle die kinders om te konformeer. As volwassenes moet ons dít wat kleintyd ingeperk is, weer soek en vrylaat.”

Diepgaande respek vir wie jy is, wat jy nodig het en wat jy begeer, is dus ’n voorwaarde vir lewenslus. Hier volg Cat en Annie se wenke vir ’n lewe wat deur entoesiasme gekenmerk word.

1 Vertrou die lewe

My grootste uitdaging was om die lewe te leer vertrou en sáám met die lewensproses te vloei. Ek het glad nie oor hierdie vermoë beskik nie – inteendeel! Weens my gebrek aan vertroue in God, ander mense en die lewe het ek elke liewe dingetjie krampagtig probeer beheer. Omdat ek nie geweet het hoe om sáám met God, ander mense, of die oomblik te werk nie, het ek gedurig probeer wegbreek om my eie ding te doen. Die gevaarlikste aspek van hierdie stroomop manier van leef is die gevoel van afstand wat dit meebring.

Alle pyn is die gevolg van weerstand en alle lyding is die gevolg van ’n ervaring van afgesny wees. Omdat ek met niemand hieroor kon praat nie, moes ek ’n “persoonlike gelukspeurder” word. Ek het stapels selfhelpboeke gelees, leer mediteer en die kragtige leiding begin volg van die “innerlike leermeester” wat ek geseënd is om te hê. Mettertyd het ek besef wat my terughou en op tegnieke afgekom wat dit kon oplos. Eintlik is die proses volmaak! Ons het probleme. Hulle is so groot dat ons aandag aan hulle móét gee. Ons leer. Ons vaar beter.Ons beleef sukses. Ons kan ander wys hoe om dit te doen. Ons kan maar chill – alles sal uitwerk. In elkeen is daar ’n bloudruk vir jou eie groei, en met behulp van ons emosies en omstandighede sal ons siel ons na die regte ervarings lei.

2 Kry ’n gesonde balans

Waak teen uitbranding – ek het dit ook in ’n stadium beleef. Vir my beteken ’n gebalanseerde lewe om meer biblioteekboeke te lees en minder skryfwerk te doen, meer perd te ry en minder e-posse te beantwoord, tyd saam met my kleinkinders te bestee en in die tuin te werk.

Balans bevorder nie net lewenslus nie maar ook gesondheid. ’n Wanbalans op enige gebied lei tot siektes en kwale. Voorkoming is beter as genesing!

3 Volg jou intuïsie

Volg áltyd jou binnestem. As ek dit gedoen het, sou ek nie met ’n alkoholis getrou het, ’n aanval in die bos beleef het, of ’n rits ander onaangename dinge ervaar het nie.

4 Word stil

Om jou intuïsie te kan volg, moet jy in kontak wees met jouself. Wanneer ons hoofsaaklik na buite fokus, verloor ons maklik voeling met ons binnewêreld. Gereelde alleentydjies waarin jy byvoorbeeld deur bewuste asemhaling met God kontak maak, bevorder bewustheid van jouself, jou gevoelens en jou innerlike ruimte. Boonop kan dit na alternatiewe toestande van bewustheid of bliss states lei. Hierdie ervarings vul jou lewenslus-reservoir wonderbaarlik aan.

Daar is verskeie liggaamsgerigte tegnieke wat jou doeltreffend stil maak. Voordat ek hulle ontdek het, het ek myself altyd uit ’n probleem probeer dínk.

Met hierdie tegnieke systap ek my gedagtes en bereik ek onmiddellik my sellulêre geheue waar die oorspronklike knoop dikwels lê.

Vier liggaamsgerigte tegnieke wat ek gereeld gebruik, is bewuste asemhaling, YES breathing, Emotional Freedom Technique (EFT) en ’n klankmeditasie. Só werk die bewuste asemhalingstegniek:

– Gaan sit op ’n stil plek waar niemand jou sal steur nie.
– Stel ’n wekker vir drie minute.
– Maak jou oë toe en fokus op jou asemhaling.
– Trek jou asem vir vier tellings in terwyl jy voel hoe die lug jou maag laat rys. Hou dit vir ’n sekonde en blaas jou asem saggies vir ses tellings uit. Hou dit vir ’n sekonde.

Herhaal die patroon totdat jou wekker lui. Aanvanklik kan jy agterkom dat jou gedagtes maal, byvoorbeeld om alles wat jy later moet doen. Bring eenvoudig jou aandag terug na die proses. Wórd die ervaring van in- en uitasem. Met oefening word dit makliker en ’n diep vrede neem van jou besit.

’n Voorbeeld van die helende krag van hierdie tegnieke is die keer toe ek in ’n liefdesverhouding was en iets gebeur het wat my onverwags erg jaloers gemaak het. Pleks van my verhoudingsmaat in te vlieg of oor my eie aandeel aan die situasie te tob, het ek gaan sit en ’n ruk lank bewustelik asemgehaal. Kort voor lank het ek ’n geluksalige toestand van kalmte bereik.

Gaan kyk by www.catglennie.com hoe om die ander tegnieke toe te pas.

5 Ek kan!

Ek ondersteun myself met bemoedigende notas wat op ’n spesifieke projek fokus. Toe ek ’n ruk gelede getroud is, was die saam doen en -besluit vir my ’n uitdaging – ek het soveel jare alleen reggekom. Ek het regtig gesukkel om my onafhanklikheid prys te gee maar het besef dis noodsaaklik vir die welstand van my huwelik. Ek het “Ek kan verander” groot op ’n stuk karton geskryf en in my klerekas geplak. Elke dag as ek die kas oopmaak, het ek dit gesien en die woorde herhaal, al was dit party dae met geklemde kake! Dit het gewerk. Die goeie nuus is dat ek steeds besig is om te verander. My man dink waarskynlik dit kon alles ’n bietjie vinniger gebeur het!

Annie is aan die woord

6 ’n Toevlugsoord

Ek en my man, Louis, het vir my ’n “kreatiewe balkon” in ons huis ingerig. Dis nie deel van my kantoor nie en ek werk glad nie wanneer ek daar is nie. Ek doen joga, oefen met my gewiggies of sit in my uitskopstoel en luister na natuurgeluide terwyl ek dink en droom. Die lewe gee my ook soms ’n paar klappe – ek hou byvoorbeeld ’n toespraak en net mooi niks wil werk nie. Die klanktoerusting is foutief, ek stamp ’n glas water om en niemand lag vir my grappies nie, maar ek maak altyd seker dat ek van die swaar emosies ontslae raak – jou emosies beïnvloed jou immuunstelsel.

By die huis skop ek my skoene uit, sak in my stoel van kalmte neer en herleef doelbewus die verleentheid. Daarna besluit ek om dit neer te lê en ek dóén dit. So hou ek my emosionele ruimte skoon.

7 Reis lig

Die “skoonmaakbeginsel” geld ook wrokke wat jy koester of trauma wat jy beleef het. Dis goed om oor hierdie sake te bid, maar soms het jy ’n ritueel nodig. Ek help kliënte om die ervaring op ’n groot stuk papier te teken, dit op te frommel, in ’n boks te sit, met linte toe te draai en dan in ’n groot vullisdrom te gooi. Wanneer jy iets konkreets doen, is dit asof jou brein ’n foto daarvan neem. Die oomblik dat jy weer daaraan wil dink, flits die prentjie voor jou geestesoog en besef jy dis nou in die vullisdrom. Hoe ligter jy reis, hoe meer plek het jy vir lewenslus.

8 Koester jou verbintenisse

“Belê in jou vriendinne. As jy oud is, is hulle jou grootste rykdom,” het my ma op haar sterfbed gesê. Wees veral op die uitkyk na vriendinne wat saam met jou bly kan wees – hulle eggo jou lewenslus. Ek spring rond van vreugde wanneer my gholfvriende hul voorgee haal! Sommige mense sal saam met jou huil oor jou kinders en kleinkinders oorsee woon, maar koel optree wanneer jy vir jou werk bekroon word. Dis beter om sulke verbintenisse ’n stille dood te laat sterf.

9 Lees jou lyf

Jou lyf kan jou wys wanneer jy jou vreugde inperk. As jy gereeld maagpyn kry wanneer jy inkopies doen, sê dit iets. Ek het my liggaamseine leer ken: jeuk ek, voel ek senuagtig. Wanneer my kopvel saamtrek, voel ek ongemaklik in iemand se teenwoordigheid. Ek gebruik hierdie tekens om my lewensgehalte te verhoog.

10 Laat jou deur ’n mentor lei

Jare gelede, toe ek as dosent by die sielkundedepartement aan die Universiteit van Stellenbosch gewerk het, het die dekaan vir my gesê: “Jy hoort nie in ’n stelsel nie. Dit gaan jou dooddruk. Jy moet vlieg!” Sy insig, aanmoediging en die feit dat hy my na kongresse gestuur het, was die grondslag vir wat ek vandag doen. Net so het my vorige lewensmaat my aangemoedig om by Toastmasters International en Run/Walk for Life aan te sluit. Daar is wonderlike lewensafrigters wat jou kan help om te ontwaak en jou drome uit te leef.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.