kategorieë: Leef gesondGesondheid

13 dinge wat elke vrou oor eierselbevriesing moet weet

13 dinge wat elke vrou oor eierselbevriesing moet weet deur Salomé Delport. Foto: luismmolina/istock images

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Eierselvriesing: Kyk hierna

Die vriesbewaring van jou eierselle sodat jy jou eerste baba kan uitstel tot iewers in die veertig, of selfs tot op vyftig, is nie meer eksperimenteel nie. Dit is ook nie meer net vir jong vroue wat weens kanker of ander siektes hul kans op kinders probeer behou nie. Inteendeel. Dit is vir jóú. Veral as jy 30 plus is en nog nie met ’n gesin wil begin nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Die sukseskoers is nou so goed dat vrugbaarheidsklinieke hierdie diens roetinegewys aanbied.

Maar dis duur – en ’n mens wonder oor die risiko’s vir jou en jou potensiële baba wat uit hierdie diepbevrore eierselletjies moet ontwikkel. Wat moet jy vooraf hieroor weet? Ons gesels met dr. Gerhard Hanekom van die Kaapse Aevitas-vrugbaarheidskliniek.

1. Hoekom beveel jy as vrugbaarheidspesialis dit so sterk aan?

Die kort antwoord is “want jy kan, en ons kan”. Laat ek verduidelik: die grootste enkele faktor wat jou vrugbaarheid bepaal, is die ouderdom van jou eierselle – en dus jou ouderdom.

Min vroue besef hóé skerp hul vrugbaarheid na hul middel-dertigs val: ná 35 raak net ses uit elke tien vroue vanself swanger; ná veertig raak net twee uit tien vanself swanger. Die res moet hulp kry.

Maar as jy teen dertig (of darem voor 35) jou nog taamlik jong eierselle laat bewaar het, kan ons jou beslis help swanger raak. Dus glo ek dit is tyd dat die meerderheid vroue wat ’n vrugbaarheidskliniek besoek, vroue onder 35 behoort te wees wat kom om deur eierselvriesing voorkomend te beplan, eerder as vroue bo 35 wat kom vir behandeling weens verlore vrugbaarheid, soos dit nou die geval is.

2. As jou ova ouer word, word jou baarmoeder seker ook te oud om ’n baba te dra?

Glad nie! Die baarmoeder bly goed funksioneer tot selfs op sestig. Die bepalende faktor is nie jou baarmoeder nie maar die gehalte van jou ova. Oorsee word vroue van selfs 55 gehelp om swanger te raak. In Suid-Afrika is die informele afsnypunt rondom vyftig. ’n Mens moet in ag neem dat jy gesond genoeg moet wees om die kind deur te sien tot op minstens twintig – wanneer jy dan sewentig sal wees.

(Ons nota: die DBV laat jou nie toe om ’n babakatjie aan te neem as jy bo sestig is nie. Dit laat jou dink … )

3. Het jy met die skenking ook reeds manlike sperm nodig – met ander woorde kan jy skenk sonder dat ’n man betrokke is?

Ons kan ova (jou eie onbevrugte eierselletjies) of embrio’s (jou eierselletjies wat met sperm bevrug is) vriesbewaar. Embriovriesing word al baie lank en met groot sukses gedoen. Maar baie vroue onder 35 weet nog nie met wie hulle hul kinders gaan grootmaak nie. Daarom kom vriesbewaar hulle net hul ova. Die sperm – en wie s’n – kom dan eers ter sprake wanneer jy wil swanger raak.

4. Hoe maklik is die proses om jou eierselle te vries, en dan daarmee swanger te raak?

As jy die roete van vriesbewaring volg, dink aan swangerskap as twee prosesse: Eers doen jy ’n ovaskenking aan jouself, wat sowat twee weke van behandeling behels. Daarna, wanneer jy met ’n gesin wil begin en nie binne ’n jaar vanself swanger raak nie, volg die normale proses van vrugbaarheidsbehandeling, spermskenking van jou maat (of ’n skenker) en inplanting van jou bevrugte ova. Dit neem ook twee weke per probeerslag.

5. Laat die hormoonbehandelings jou sleg voel? Maak dit jou vet, soos vrugbaarheidsbehandeling?

Nee wat. Jy word maar net vir tien dae behandel. Daarom is die bietjie emosionaliteit, borsteerheid en buikswelling wat jy kan ondervind van verbygaande aard.

Daarby gebruik ons in ons land vir stimulasie dat jy eierselle vrystel uiters veilige en matige GnRH-agoniste, eerder as sterker hormonale stimulante wat dikwels in Derdewêreldlande gebruik word.

6. Die ova is belangrikste – wat word van hulle ná hulle geoes is?

Hulle word binne twee uur by -196 °C in stikstof gevries deur ’n embrioloog wat hierin spesialiseer. By hierdie temperatuur kom alle metaboliese prosesse heeltemal tot stilstand, en kan die ova onbepaald lank perfek behoue bly, tot jy dit benodig.

Ons weet dat ova maklik tien jaar behoue bly. Dit behoort langer ook te kan hou. Aangesien ovavriesing nog maar net sowat tien jaar algemeen gebruik word, weet ons nie wat ná twintig en dertig jaar sal gebeur nie – en ook nie of dit sinvol is om die ova van tieners te probeer bewaar vir moontlike gebruik in hul veertigerjare nie.

7. Gestel ek word vanself swanger ná my eierselvriesing. Word my ova weggegooi? Is dit nie oneties nie?

Dit sal jou baie geld spaar as jy vanself swanger raak! Dink so oor die etiek rondom ongebruikte eierselle: elke maand sterf sowat duisend van jou eierselle in elk geval – sonder jou toedoen, sonder dat jy dit weet, of daaroor bekommerd is, of daarvoor verantwoordelik is. As jy en jou dokter nie betrokke geraak het nie, sou die geoeste eierselle in elk geval nie in babas ontwikkel het nie. Daar is werklik geen rede om skuldig of aandadig aan enige iets te voel nie.

Onthou, jy is ten volle in beheer van wat met jou ova gebeur ná vriesing, en ons hanteer dit volgens jou wense. Ons kan dit nie vernietig, of sonder jou toestemming gebruik nie.

Gemiddeld word 12 – 20 ova geneem. Elke keer dat jy vir ’n swangerskapspoging terugkom, word sowat vyf ova ontvries en met jou maat se sperm of skenkersperm bevrug. As jy onder 35 is, is die kans op ’n suksesvolle swangerskap so goed dat ons net een embrio (bevrugte eiersel) terugsit; ná 35 sit ons twee embrio’s terug en by vroue bo 40 sit ons tot drie embrio’s terug. Ná die proses vries ons die ongebruikte embrio’s sodat jy later kan terugkom vir ’n boetie of sussie.

Jy besluit wat ons met die ongebruikte eierselle en embrio’s moet doen. Dit kan weggegooi word, of vir opleiding of navorsing gebruik word. Baie vroue is gewillig om dit vir ovaskenking aan kinderloses te gee. So help hulle iemand anders.

8. Wat as die vriesbewaringsmaatskappy hul deure toemaak?

Dit behoort nie te gebeur nie maar ova kan van een bergingsplek na ’n ander een oorgeplaas word. Jy kan selfs jou ova saamneem as jy emigreer of swangerskap in ’n ander land wil bewerkstellig.

9. Wat is die kans op ’n kind met ernstiger gestremdheid ná vriesbewaring? In jou liggaam bly ova immers altyd by liggaamstemperatuur?

Dit is al ondersoek. Sover wys die meeste ondersoeke dat gestremdhede soos Down-sindroom net so algemeen is onder die kinders van ouers wat natuurlik swanger geraak het, ouers wat hulp met bevrugting ontvang het, en selfs onder die kinders van ouers wat vriesbewaring gebruik het. Onthou ook dat gestremdhede soos Down-sindroom meer algemeen is onder kinders van ouer ma’s wat sonder hulp swanger raak. Dit het nie met die tegniek te doen nie maar met die ouderdom van die ova wanneer jy swanger raak.

10. Kan ek te oud raak vir ovavriesing?

Ja, beslis. Dit is juis die probleem. Ná veertig is daar nie genoeg voordeel ten opsigte van koste en kans op sukses dat eierselskenking nog voordelig is nie.

As jy oor dertig is en besef dat jy waarskynlik eers ná 35 met ’n gesin gaan begin, is dit wys om so gou moontlik ’n plan te maak. Hoe langer jy wag hoe groter is die kans dat jou ova nie meer so lewensvatbaar is nie.

11. Kan ek te oud word vir in vitro bevrugting?

Nee wat, aangesien jou baarmoeder nie drasties verouder nie. As jy taamlik gesond leef, kan ons bevrugting deurvoer tot en met vyftig. As jy bo vyftg is, sal ons dit na ’n etiese komitee verwys en eers deeglike mediese evaluering doen. Ná 55 sal ons dit nie in Suid Afrika doen nie. Maar jy moet in ag neem:

  • Jy gaan ’n ouer ma wees. Sien jy kans om op sewentig ’n tiener te hanteer?
  • Jou gesondheid as ouer vrou is bepalend. Vir swangerskap moet jou baarmoeder gesond wees – sonder probleme soos endometriose of servikale kanker.
  • Jy sélf moet gesond wees. Swangerskap as jy hartprobleme, diabetes of hoë bloeddruk het – almal baie algemeen onder vroue bo veertig – is gevaarlik vir jou en die baba.
  • En dan kan ons nooit, ooit sukses waarborg nie. Ons kan wel jou kanse op swangerskap verbeter.

12. Wat is die tipiese sukseskoers?

In vitro bevrugting (IVF) met eiers wat van ’n vrou jonger as 30 gevries is, kan tot ’n 70% suksessyfer hê. IVF met eiers wat tussen 30-35 gevries is, lê tipies tussen 40-50% en met eiers wat geoes is van vroue ouer as veertig is die sukseskoers onder 20%. Dit klink na ’n klein kans op sukses máár na veertig is jou kanse om natuurlik en vanself swanger te raak byna nul. Daardie 20% is dus dramaties hoër.

13. Hoeveel kos dit?

By ons kliniek kos ovavriesing rondom R32 000, met ’n verdere R10 000 tot R15 000 vir medikasie. Dit sluit wel vriesbewaring vir vyf jaar in, vir enige hoeveelheid ova.

Vir nog goeie gesondheidsraad, loer hier

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.