Deur Milan Murray.
Christi Panagio lig haar sonbril vir ’n oomblik om my in die oë te kyk. “Kan ons mekaar net gou eers behoorlik groet?” lag sy vriendelik voor sy weer die sonbril laat sak. Die Desember-son weerkaats wit teen die elegante banke van die Mediterreense restaurant op Kalkbaai. Nico maak seker dat sy vrou gemaklik in die skaduwee sit voor hy my hartlik groet. Die prentjie herinner ’n mens aan ’n klassieke fliek. ’n Bogart en ’n Bergman.

(Foto’s: Willem Botha; Hare en grimering: Willem Botha Beauty; Groen rok: Elrico Zarr)
Hoewel die Panagios gereeld oorsee reis, meen hulle steeds dat Kaapstad een van die mooiste plekke in die wêreld is om te bly. Christi het ’n liefde vir dekor en binnenshuise ontwerp en haar huis is haar hawe.
“Ons het ’n 180-grade uitsig op die see en 180-grade uitsig op die berg. Dis so mooi.” Sy geniet dit om nes te skop en beskryf haar ontwerpstyl as beach-boho, oftewel strand-boheems, maar spot dat sy dit gereeld verander.
Nico lig sy hand om te onderbreek. “ As ek vir werk weggaan, is een van die hoogtepunte van my dag om my vrou se stem oor die telefoon te hoor, maar as sy in die middel van die gesprek ’n sin begin met: ‘Luister …’, dan weet ek hier kom ’n dekorversoek!”
“Dit help ook nie dat ek die kinders tuis onderrig nie. Ek is dus heeldag daar en sien gereeld dinge wat ek wil mooi maak,” verdedig sy.
Die besluit om hul twee dogters, Evah (15) en Shay (13), tuis te onderrig, is onlangs geneem. “Dit het eintlik stelselmatig begin gebeur. As ons gesin vir twee maande van ’n jaar vir die verfilming van Survivor weg is, moet ek noodgedwonge die studieverpligtinge oorneem. Daardie direkte betrokkenheid by hul opvoeding het my die voorreg gegee om my kinders in hul uniekheid te leer ken. Hulle het geblom. Toe ek dit begin vergelyk met hul houding en lewensuitkyk wanneer hulle weer terug in die formele skoolstelsel is, was tuisskool voor-die-hand-liggend.”
Dis egter vir haar ’n groot uitdaging en nie altyd maklik nie, erken sy. Die kurrikulum is iets nuuts om aan gewoond te raak en soms ver buite haar verwysingsraamwerk. “My een kind neem Latyn!” roep sy uit.
Nico beaam dat dit die beste besluit vir hul kinders is en hy kry ’n sagte blik in sy oë as hy van sy vrou praat. “Daar is min mense wat ek ken met sulke sterk oortuigings soos Christi. Haar onwrikbare geloof in ’n oortuiging of keuse asook haar persoonlike instink is iets waarop ek baie staatmaak. En sy is gewoonlik reg!”
Christi haal haar sonbril af en kyk na die diktafoon op die tafel. “Record hierdie ding? Maak seker dit het daardie stukkie opgeneem. Hy’t gesê ek is gewoonlik reg! Stuur vir my daai stemgreep!”
Die skerts en draaksteek tussen Nico en Christi is tipies van hierdie gelukkig getroude paartjie. Hulle is vanjaar reeds 20 jaar getroud en 26 jaar saam. “Ons is doodgewoon,” sê Christi ernstig. “Ons het ook uitdagings en druk en bekommernisse. Die prentjie na buite lyk idillies, ja, en ons tel ons seëninge elke dag, maar ek sukkel heel moontlik met dieselfde alledaagse dinge as wat die meeste mense doen.”
View this post on Instagram
Terwyl Nico homself verskoon om ’n oproep te neem, klink ek en Christi laggend ons glasies op peri-menopouse, die uitdaging wat ons tans in gemeen het.
Ons gesprek draai na druk. Nico erken dat sy grootste uitdaging finansiële druk is. In sy veertigerjare het hy baie bereik. Daar was suksesse, avonture en vooruitgang. Hy spot dat hy letterlik alles gedoen het waaraan ’n mens moontlik kan dink: Van onderhandelinge met ’n Indiese klerevervaardiger tot die in- en uitvoer van babastootwaentjies. Hy moes egter vrede maak met die feit dat hy ’n briljante kreatiewe brein het, maar ’n vrot sakeman is.
Die vyftigerjare is nou vir Nico ’n era waarin hy op sy liefde vir kreatiwiteit fokus. Tog rus die doelstelling om voorsiener en beskermer van sy gesin te wees, swaar op sy skouers en projekte word sorgvuldig gekies. Survivor bly sy lekkerste werk en dis duidelik dat die afgelope drie jaar waar daar nie nog ’n reeks vervaardig is nie, hom met ’n leemte laat.
Christi raak saam liries oor daardie tye. Die hele gesin trek na die plek waar die produksie verfilm word en tussendeur Nico se 16 uur-werksdag, het hy altyd tyd gemaak om goeie herinneringe saam met sy dogters te skep.
Is daar nog ’n seisoen van Survivor op pad? “Dis nie ’n kwessie van of nie, dis ’n kwessie van wanneer,” verklap hy.

(Foto’s: Willem Botha; Hare en grimering: Willem Botha Beauty; Rooi broekpak: Elrico Zarr)
’n Mens kan nie help om te wonder of hierdie twee rolprentmooimense tog ook heimlik voete van klei het nie. Christi vang my onkant deur te erken dat sy ’n beheervraat en perfeksionis is. Dis moeilik om te glo aangesien sy altyd warm, openhartig, opreg en vriendelik voorkom. “Noem my dan ’n vriendelike perfeksionis!” som sy haarself skertsend op.
Op die vraag of sy ooit aan haar eie vermoëns twyfel, antwoord sy oortuigend. “Ek dink nie aan myself ten opsigte van vermoë nie. Ek weet waarin ek goed is en waarin nie. En as ek iets moet aanpak waarin ek moontlik nog nie so goed is nie – soos byvoorbeeld tuisskool – dan glo ek in my deursettingvermoë, nie my vermoë nie.”
Nico, wat ’n kranige berghardloper en avonturier is, verstaan ook die belangrikheid van uithou en vasbyt, en sê dis juis wat hy sy kinders wil leer. Hy vertel dat hul twee dogters se vermoëns baie verskillend is en dat hy as pa kan belê in hoe hulle dit ontgin en ontwikkel. Albei neem gimnastiek as sport en dit bied hulle die geleentheid om fisiek te leer om self te val en op te staan. “Uithouvermoë, dis die waarde om na te streef,” sê hy.
Net so belangrik soos uithouvermoë, is kritiese denke, meen hy, en Christi vertel opgewonde hoe die tuisskool-kurrikulum haar dogters uitdaag om vrae te vra en standpunte te oorweeg.
Dis duidelik dat die Panagio-gesin hul waardes, lewenslesse en geloof in hul alledaagse lewe vervleg.
Hoewel hierdie hegte gesin graag tyd saam deurbring, het Nico en Christi verlede jaar vir die eerste keer in tien jaar vir twee weke alleen saam gaan reis.
“Nico het gesien dat ek ’n blaaskans nodig het. Toe die geleentheid hom voordoen en hy vir ’n werksgeleentheid Pole toe moes gaan, het hy daar en dan vir my ook ’n kaartjie bespreek.”
Hulle was ook in Kroasië, wat hulle as ’n droombestemming beskryf, en die Panagios het elke dag met oorgenoeg avontuur en genoegsame rus volgeprop. Nico beskryf sy vrou as die ideale reisgenoot. “Sy beplan alles haarfyn – van die uitstappies tot die paklysie. Maar sodra ons op die lughawe kom, neem ek die paspoorte en die reisplan, en sy ontspan. Sy ontspan so behoorlik dat sy haar kamera op die sitplek vergeet!”
Die luilekker dae van op die strand lê en tot lank ná middernag in die antieke strate van Dubrovnik rondloop, was van die hoogtepunte. Hulle het dit ook geniet om gereeld vroegoggend saam te gaan draf en só die stad te verken. Nico, wat reeds ’n paar bergmaratonne agter die rug het, sê sy vrou is ’n natuurlike drawwer. “Met daai lang bene is sy soos ’n sprinkaan. En anders as wat ’n mens sou verwag, is sy die een wat binne minute ná ’n vinnge stort reg is om die dag aan te pak. Sy moet gewoonlik vir my sit en wag om my hare klaar te doen!”
Die wegbreek het hulle goed gedoen. “Wanneer ’n mens op ’n gewone date night gaan of saans op jou stoep sit en gesels, draai die gesprek noodwendig terug na die kinders, die doen-lysie, die skedule en die alledaagse stressors,” vertel Christi. “Dis eers as ’n mens buite jou gewone omgewing is, dat jy werklik ontspan en mekaar kan geniet. Ons kinders was veilig, die doenlysie kon wag. Ons kon vir twee weke net op mekaar fokus. Ek wens dit vir elke ouerpaar.”

(Foto’s: Willem Botha; Hare en grimering: Willem Botha Beauty; Groen rok: Elrico Zarr)
“Wat is die gom?” vra ek voor ons groet. “As God jul grondslag en jul anker is, wat is die gom wat julle bymekaar hou?”
Christi huiwer nie vir ’n oomblik nie. “Ons het mos belowe om bymekaar te bly,” sê sy.
Die antwoord is verrassend eenvoudig. Opgee is nie vir hierdie paartjie ’n opsie nie.
Die belofte is die gom.
Soos die twee hand aan hand wegstap, verbeel ek my hoe die kameralens vernou en die slotwoorde oor die silwerdoek rol. ’n Ware klassieke liefdestorie.
Hierdie artikel het oorspronklik in ons Februarie-uitgawe van 2025 verskyn.
Lees ook: Vere, blomme en wolkwit: Die grootste mode-neigings by vanjaar se Oscars
