Deur Thinus Ferreira
Jaci en JP loop rond met ’n baba. Totdat hulle die dingetjie verloor. Ag, en dis nie eens hul eie kind nie.
Daar wag ’n snaakse nuwe storie en ’n bekoorlike tweede hoofstuk in Semi-Soeter, die splinternuwe opvolg op 2012 se lokettreffer, Semi-Soet, wat op Vrydag 20 Junie wêreldwyd op Netflix vrygestel word as die stroomdiens se heel eerste oorspronklike Afrikaanse rolprent.
Behalwe vir Anel Alexander en Nico Panagio, is Sandra Vaughn terug as Karla, Louw Venter is weer Hertjie en Diaan Lawrenson is weer as Chadrie te sien. Neels van Jaarsveld, Hélène Truter en Pierre van Pletzen het ook rolle in die opvolg.

(Foto: Verskaf/Netflix © 2024)
“As jy vir my 13 jaar gelede gesê het ek sou eendag ’n opvolg van Semi-Soet maak, dan het ek vir jou gelag. Are you kidding me? Nee. ’n Mens maak nie ’n opvolgfliek van ’n romantiese komedie nie,” vertel Anel Alexander.
“’n Mens mors nie met iets wat so geliefd is soos Semi-Soet nie, maar toe die geleentheid kom vir ons om ’n tweede een te maak, het alles baie vinnig in plek geval,” verduidelik sy.
“Vir Netflix, vanuit ’n besigheidsoogpunt, maak dit sin. Die hele wêreld draai om die belê in bestaande stories. Dit verminder die risiko. Omdat Semi-Soet so goed gedoen het, het dit vir Netflix sin gemaak om Semi-Soeter aan te pak, as iets wat op ’n bestaande handelsnaam kan voortbou.”
Anel sê sy is baie trots en opgewonde oor Semi-Soeter.
“Dis fantasties om te weet dis die heel eerste oorspronklike Afrikaanse fliek op Netflix wat in 190 lande gaan wys. Ek voel nog altyd sterk dat ons produksies vir niks en niemand hoef terug te staan nie.”
“Ek het lank genoeg oorsee gewerk en ek weet Suid-Afrika het van die beste talent en van die mooiste plekke om in te verfilm. Die een ding waarmee ons nog altyd gesukkel het, was om Suid-Afrika se inhoud internasionaal te versprei. Stroomdienste soos Netflix maak dit nou vir ons moontlik,” verduidelik Anel.
Lees ook: Nico Panagio se JP ruil rooi speedo vir babadoeke in Semi-Soeter
Proeflopie as voorgee-ouers
Volgens Anel is Semi-Soeter ’n gesinskomedie.
“Waar Semi-Soet ’n romantiese komedie was, is Semi-Soeter ’n gesinskomedie. Dis in ’n sin bietjie meer volwasse.
“Semi-Soeter kyk na, en vra die vraag wat enige paartjie een of ander tyd moet beantwoord: Gaan ons kinders hê of nie? Sommige mense het nie die luuksheid om daardie keuse te maak nie – die besluit word vir hulle gemaak, want hulle kan nie kinders kry nie.
“Ander mense raak per ongeluk swanger. Ander weet dadelik hulle wil vyf kinders hê. Maar ’n mens moet daardie gesprek hê. Ons karakters in Semi-Soeter is op die punt van hul lewens waar hulle alles bereik het – alles in hul werk en loopbane – maar hulle moet die vraag beantwoord: Kinders of nie?
“En dan kry Jaci en JP ’n voorsmakie deur voorgee-ouers te wees. Die ander kant wat die storie inbring, is dat daar hierdie wêreldbeskouing bestaan dat ons almal hierdie perfekte werk kan hê, dit perfek kan doen, en die perfekte gesin kan hê. En dis eenvoudig nie waar nie. Elke besluit in die lewe kom met ’n opoffering.”
- (Foto: Verskaf/Netflix © 2024)
- (Foto: Verskaf/Netflix © 2024)
Anel sê Semi-Soet het daarin geslaag om “weerlig in ’n bottel vas te vang”.
“Met Semi-Soeter haal ons die proppie van die bottel af en die weerlig skiet uit. Ek was so senuweeagtig daaroor dat ons ’n opvolgfliek probeer doen, maar ek hoop kykers voel ons verbeter en bou op dit wat Semi-Soet was.
“Ek hoop aanhangers gaan daarvan hou, lag en die klein inside jokes daarin sien.”
Baie babas
Anel vertel dit sorg vir “fantastiese komedie, maar ek en Nico het soms verskriklik gesweet!” om met ’n regte baba te werk.
“Ons het op ’n tipiese dag met drie tot 18 babas gewerk. Een dag het ons 18 babas op stel gehad – en liewe genade – as een begin huil dan is dit ’n domino-effek en almal begin huil. Maar ons het mooi daarin geslaag om al die oomblikke vas te vang wat ons vir Semi-Soeter wou hê.”
“Jy het net daardie oomblik nodig van ’n baba wat ’n vinger gryp of ’n giggeltjie of iets gee. Maar agter die skerms, het ek en Nico behoorlik gedans vir ons werk hoor!”

(Foto: Verskaf/Netflix © 2024)
Die fliek eindig met die woorde: “Vir James” – haar man, wat in April 2023 sy vyfjaarstryd teen kanker verloor het en ’n tekskonsultant op Semi-Soeter was.
“Daar sou nie ’n Semi-Soeter gewees het as dit nie vir James was nie,” sê Anel.
“Die oorspronklike fliek en storie was sy idee. Een aand toe ons rondgery het, het my baie Skotse man gesê: ‘Volgende moet jy ’n Hollywood-styl, Afrikaanse romantiese komedie maak vir die volk.’ Dit was Semi-Soet.
“Toe die idee vir die opvolg in 2019 kom, was James reeds siek, maar hy was my klankbord. Hy het die draaiboek ontwikkel en was deurslaggewend in die draaiboek waarmee ons geëindig het. Dit was nogals ’n baie spesifieke uitdaging om ses maande nadat my man oorlede is reëltjies te sê, wat hy vir my geskryf het.
“Op stel het dit ook gevoel asof almal regtig die fliek doen as ’n huldeblyk aan James. Dis die heel laaste projek waarop sy naam gaan verskyn.”
Semi-Soeter is vanaf 20 Junie op Netflix te sien.
Lees ook: ‘Die ongemak was tasbaar’ – Wilhrisca, Die brug se kanniedood, terug in Suidhuis