Deur Thinus Ferreira
Nee. As jy gewonder het: Nico Panagio wat weer as JP in die fliek Semi-Soeter te sien is, paradeer nie weer in ’n rooi Speedo rond nie. Hy ruil dié slag wél babadoeke om, Pappie!
Die aanbieder van die Survivor SA-faam is terug saam met Anel Alexander in ’n opvolgfliek van Semi-Soet, 13 jaar sedert die Afrikaanse romantiese komedie van 2012 ware kultusstatus bereik het.
In Semi-Soeter wat op 20 Junie op Netflix vrygestel is, wag daar ’n nuwe storie en hoofstuk in die geliefde Jaci en JP se lewens.
Die twee moet dié keer hulself as ouers van ’n baba voorgee in ’n poging om ’n bemarkingskontrak los te slaan – maar dis natuurlik makliker gesê as gedaan.
Meer oor die storie durf ’n mens nie verklap nie, want daar wag verrassings en skaterlag-oomblikke. Sandra Vaughn as Karla, Louw Venter as Hertjie en Diaan Lawrenson as Chadrie is almal weer te sien. En die rolverdeling sluit hierdie keer ook Neels van Jaarsveld, Hélène Truter en Pierre van Pletzen in.
Lees ook: Semi-Soeter is hier! Anel Alexander gesels oor haar en James se laaste projek saam
“My heel eerste vraag was: ‘Gaan ek weer in die rooi Speedo moet wees?’” lag Nico toe rooi rose met hom oor Semi-Soeter gesels het.
“’n Speedo verg ’n voorbereidingstyd van minstens drie tot ses maande. Ons het nie geweet wanneer presies ons gaan verfilm nie en dan moet jy heeltyd in ’n Speedo-lyf-situasie wees. Dit is nie ’n maklike taak nie.”
Hoewel dit nie die hoofstorie is nie, verduur JP se karakter voortdurend spot oor hoekom hy en Jaci dan nog nie kinders het nie en wat met hom “fout” is – iets waarmee miljoene Suid-Afrikaners kan identifiseer wat nie kinders kan hê nie, of sukkel om swanger te raak, of bloot (nog) nie kinders wil hê nie.
“Dis vir my nogal ’n teer sakie in die sin dat ek presies weet hoe dit voel om te wonder oor of jy ’n ouer gaan wees,” vertel Nico.
“Ek en my vrou, Christi, wou sonder twyfel ouers wees waar Jaci en JP dalk nie so seker is daarvan nie. Ek het geweet ek wil ’n pa wees en Christi het geweet sy wil ’n ma wees. Ons probleem was ons kon nie. Jaci en JP se probleem is hulle moet nou kies, want as hulle nie nou kies nie, is daar nie omdraaikans nie.”
Openhartige kommunikasie
Nico sê Semi-Soeter gaan ook oor kommunikasie.
“Die een persoon sê nie regtig vir die ander persoon hoe hulle regtig voel nie. Dit veroorsaak goeie oomblikke vir komedie waar die een nie weet wat aangaan nie, omdat nie een weet wat die ander een dink nie.”
“Dis ook wat in die regte lewe gebeur,” sê hy.
“Jy voel sterk oor iets, maar jy is bang vir hoe jou lewensmaat dit gaan opneem. En dan bly jy stil daaroor, jy deel dit nie, en dan vind jy dalk te laat uit julle was albei op dieselfde bladsy of kon op dieselfde bladsy gewees het.”
“Ek dink dis ’n werklike deel van verhoudings – die kommunikasie tussen ’n paartjie en hoe belangrik dit is om van die begin af te sê: Dis hoe ek hieroor of daaroor voel. Hoe voel jy?”

(Foto: Verskaf/Netflix © 2024)
Oor kind en kraai
Oor die maak van ’n opvolg en die herspeel van ’n bekende karakter soos JP, vertel Nico dit het gevoel asof hy in ’n ou, geliefde paar skoene terugklim.
“Ek het my karakter en die ander karakters gemis. Ek is lief vir al daardie akteurs. Ons het almal al so baie saam aan ander goed gewerk dat dit soos ’n tipe reünie gevoel het,” vertel hy.
“Almal bring altyd hul A-game. Dis nie chemistry wat nog moet ontwikkel nie, dit bestaan reeds, en dit was wonderlik om weer saam as ’n groep te werk,” sê Nico.

(Foto: Verskaf/Netflix © 2024)
Semi-Soeter is nou op Netflix te sien.
Lees ook: ‘Die ongemak was tasbaar’ – Wilhrisca, Die brug se kanniedood, terug in Suidhuis