De Klerk Oelofse, dié aanbieder van kykNET se prettige Kyk wie praat en akteur (Die Boekklub, Nêrens, Noord-Kaap en Kanarie) gaan nou as Henog kykers in Suidooster verder bekoor. Kykers sal vanaf Donderdag, 17 Julie hom in Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar Suidooster afspeel, sien.

Hy vertel meer oor sy eerste sepierol:
Hoe sal jy jou karakter Henog beskryf en wat maak hy in Ruiterbosch?
Dit was nog nooit vir my so moeilik om hierdie vraag te beantwoord nie. Henog is vir my meer ’n gevoel, ’n kalmte. Ek dink hy is funksioneel in die sin dat hy vir Kate (Annelisa Weiland) raaksien en na haar luister wanneer dit vir haar voel asof niemand anders dit doen nie.
Dis jou eerste sepierol. Hoe sal jy die ervaring beskryf en hoe daag hierdie genre jou as akteur uit?
Ek moet sê, ek was nogal altyd baie bang daarvoor omdat ek nog nooit in ’n ateljee was waar soveel kameras op dieselfde tyd rol nie. Dit was ’n groot uitdaging vir my, maar een wat ek vreeslik geniet het. Dis grootliks daaraan toe te skryf dat dit die vriendelikste manier was waarop al my medespelers hulle oor my ontferm het en vir my touwys gemaak het waar hulle kon sien ek is bietjie uit my diepte.

In jou storielyn speel jy veral teenoor Annelisa Weiland (Kate). Hoe was dit om teenoor een van SA se grootste sepie-ikone te speel en hoe sal jy haar beskryf?
Dit was dalk my gunsteling ding van die hele ervaring. Dit was so ’n voorreg om my eerste sepie-ervaring met so ’n ou hand te kon deel. Ek het, terwyl ek aan Suidooster geskiet het, ook aan ’n teaterstuk gewerk. Ek en sy kon heerlik klets oor haar jongdae van verhoogproduksies met die destydse streeksrade. Sy is ’n lieflike mens en het werklik diep in my hart gekruip.

As jy terugkyk na jou loopbaan, watter projek of rol het die grootste impak op jou professionele groei gehad?
Sjoe, ek dink daar is klomp, maar almal vir verskillende redes. Die Boekklub was special omdat dit vir die eerste keer begin voel het of ek televisie-werk begin verstaan. Hotel was uniek in terme van die gehoor wat dit bereik het en die feit dat ’n mens saam met jou pêlle op so ’n manier werk dat dit nie soos werk voel nie. Maar ek sal altyd terugkeer na die teater toe. Die verskeie rolle waaraan ’n mens vir weke lank aan kan werk en skaaf – dit voel vir my dis die naaste wat jy ooit daaraan sal kom om werklik in iemand anders se skoene te staan.

Waarmee andersins is jy nou ook besig mee?
Ek is baie opgewonde oor een van die grootste teaterprojekte waarby ek tot nou toe al betrokke was. Marthinus Basson regisseur Breyten Breytenbach se Boklied by vanjaar se Woordfees en ek is gelukkig genoeg om deel te wees van die geselskap.
Suidooster, wat vanjaar sy tiende verjaarsdag vier, word weeksdae om 18:00 op kykNET, DSTv-kanaal 144, en om 18:30 op kykNET & Kie, DSTv-kanaal 145, uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream en Showmax.
Lees ook: Jannie du Plessis maak hart oop oor verlies in Silwerskermfees-dokumentêr

