Die span van kykNET se telenovela Diepe waters het op Nelson Mandela-dag, Vrydag 18 Julie, hul harte oopgemaak en hande uitgesteek na die viervoetige inwoners van PAWS R US (SA) – ’n dierewelsynsorganisasie wat sedert 2011 hoop bring vir geredde en agtergelate honde in Gauteng.

Met arms vol hondekos, komberse, lekkernye en ’n geldskenking het die Diepe waters-span hul dag deurgebring saam met die honde en toegewyde personeel van die PAWS-skuiling in Fourways. Die besoek was nie net ’n daad van mededeelsaamheid nie, maar ook ’n oomblik van bewuste teenwoordigheid – iets wat die aktrise Marijke Coetser (René) pragtig verwoord:
“Tyd is iets wat ons nie kan beheer nie, maar dis ook een van die waardevolste skatte wat ons het. Om bewustelik te besluit hoe jy jou tyd deurbring, het ’n groot impak op jou geluk. Ons is bly ons kon op Nelson Mandela-dag ons tyd by Paws R Us spandeer.”
Sandi Schultz (Zelda) het ook ’n sagte plek in haar hart vir diereskuilings:
“Reddingsorganisasies doen sulke ondankbare maar ongelooflik belangrike werk met verlate diere. Dit is te danke aan ’n organisasie soos Paws R Us dat ek my hondeseun, Harley, in my lewe het. Daarom ondersteun ek hulle met graagte.”
Natasja Jacobs (Bianca) beklemtoon hoe belangrik dit is om die stem van diere te wees:
“It takes nothing away from a human to be kind to animals. Diere het nie ’n stem nie. Ons moet hul stemme wees. Al wat hulle gee, is liefde, en hulle verdien dieselfde. Deernis, geduld en hope liefde maak die wêreld se verskil.”
Werner Coetser (Jacques) deel ook sy indrukke van die dag:
“Ons raak so vasgevang in ons daaglikse roetines dat ons vergeet wat daar buite aangaan en dat daar groot nood is. Soms moet ons net ’n oomblik vat en tyd en energie gee aan dié wat dit werklik nodig het.”
PAWS R US (SA), wat tans na sowat 85 honde omsien, is ’n geregistreerde niewinsgewende organisasie wat sonder enige staatsfondse funksioneer. Hulle is ten volle afhanklik van skenkings en die ondersteuning van diereliefhebbers soos dié van Diepe waters.
“Ons is so dankbaar dat die Diepe waters-span vandag tyd kom maak het vir ons honde. Dit is ’n ware getuienis van vriendelikheid-in-aksie en het ongelooflik baie beteken vir ons almal,” sê Charmain, ’n verteenwoordiger van PAWS R US (SA).
Die besoek het nie net lig en liefde gebring aan die honde nie – dit het ook bewys dat ware verandering begin by empatie en optrede. Diepe waters se betrokkenheid is ’n inspirasie vir ons almal om, in Madiba se gees, elke dag met betekenis te leef.







