Ná jare agter die mikrofoon sal Magdaleen Krüger op Sondag 27 September 2026 vir oulaas Loof die Here aanbied – dis die einde van ’n besonderse hoofstuk in die loopbaan van een van RSG en die SAUK se mees gerespekteerde radiostemme.
Vir talle RSG-luisteraars het Magdaleen se stem oor die afgelope sewe jaar deel van die ritme van ’n Sondagoggend geword. Loof die Here was immers veel meer as ’n musiekprogram: dit was ’n uur van rustigheid, besinning en inspirasie, ’n kans om vir ’n rukkie asem te haal voordat die nuwe week begin.
Die program het reeds in 1972, toe nog bekend as Alle volke loof die Here, begin uitsaai. Fanie Smit het dit sowat 44 jaar lank aangebied, gevolg deur Wouter de Wet van 2016 tot 2019. Magdaleen het daarna die leisels oorgeneem en haar eie warmte, musiekkennis en kenmerkende aanbieding aan die program gegee.
Sy het albei haar voorgangers persoonlik geken en baie by hulle geleer. Vir Magdaleen is die program se blywende aantrekkingskrag juis die manier waarop dit geslagte verbind. “Loof die Here is een van daardie programme wat van geslag tot geslag geluister word,” sê sy. “Dit gaan oor die musiek, die atmosfeer, die bekende wysies, die gerusstelling, die gevoel van ‘it is well, it is well with my soul’.”
Magdeleen se loopbaan
Magdaleen se eie loopbaan het lank voor Loof die Here begin. Sy het as nuusverslaggewer by die destydse SAUK begin en later as regisseur en redakteur van Monitor en Spektrum gewerk. Haar loopbaan het haar deur nuus, sport, musiek, godsdiens, taal, boeke en dokumentêre programme geneem, voordat sy sowat 15 jaar lank as RSG se stasiebestuurder aan die stuur van die stasie gestaan het.
Selfs ná haar aftrede as stasiebestuurder in 2021 het radio steeds ’n plek in haar hart gehad. “Dit was vir my ’n heerlike, verkwikkende taak om elke week mooi musiek uit te soek, saam te stel en ’n teks te skryf en aan te bied,” sê sy. “Ek gaan dit beslis mis, maar ek sien ook uit na nuwe avonture. En ek gaan die luisteraars met wie ek ’n baie mooi verhouding opgebou het, baie mis.”

Magdaleen Krüger. Foto: Verskaf
Die tyd vir daardie nuwe avonture het aangebreek. Magdaleen wil haar aftreejare voluit geniet: reis, by aktiwiteite betrokke raak, kuier en, soos sy dit self stel, “van tyd tot tyd sommer net niks te doen nie”.
Haar bydrae tot die Afrikaanse media is intussen ruim erken. Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees het haar vir haar lewensbydrae tot kuns en kultuur vereer, en in 2025 het die ATKV haar met ’n Prestige-toekenning vereer vir haar betekenisvolle bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur.
Die leemte wat sy laat
RSG-stasiehoof Louise Jooste sê Magdaleen het deur haar toewyding en professionaliteit ’n besonder hoë standaard gestel en konsekwent gelewer “met respek vir die musiek, die program en die luisteraars”.
In Oktober sal RSG ’n keur van Loof die Here-hoogtepunte uit die argief uitsaai, met programme wat deur Fanie Smit en Wouter de Wet aangebied is, as deel van die stasie se viering van die program se ryke geskiedenis én 90 jaar van die SAUK.
Op Sondag 1 November begin die volgende hoofstuk van Loof die Here, met ’n nuwe aanbieder wat binnekort bekend gemaak sal word.
Vir Magdaleen is die mikrofoon dalk nou stil, maar haar stem het reeds ’n blywende plek in die verhaal van Afrikaanse radio gekry.
Lees ook: Gewilde musiekblyspel se soete terugkeer na die planke | rooi rose
