Resep deur Rediscover Dairy
- Volroommelk is propvol belangrike voedingstowwe soos kalsium, proteïen en vitamien B12.
- Hierdie koesterkos kan as ’n nagereg of ligte maaltyd bedien word.
- Hou in gedagte dat hierdie nostalgiese Suid-Afrikaanse gereg se tekstuur klonterig moet wees, nie glad nie.
Genoeg vir 6–8.
Bestanddele
- 2 liter volroommelk
- 1 heel kaneelstokkie
- 300 ml koekmeel
- 5 ml (1 t) fyn sout
- 50 g botter, in blokkies gesny
- Kaneelsuiker, vir opdiening
Metode
- Gooi die melk in ’n groot kastrol. Voeg die kaneelstokkie by en verhit dit stadig oor medium-lae hitte.
- Sif intussen die meel en sout in ’n mengbak. Werk die botter saggies met jou vingerpunte by die meel in om groot frummels te vorm. Moenie oorwerk nie. Sit eenkant.
- Sodra die melk begin kook, sprinkel die frummelmengsel in die kastrol. Roer heeltyd anders brand dit vas.
- Verlaag die hitte en laat die mengsel prut. Laat dit vir 10 minute stadig prut, terwyl jy aanhoudend roer en dit begin verdik en die frummels uitswel.
- Bedek en laat dit vir nog 5 minute prut. Haal dan van die hitte af.
- Strooi kaneelsuiker in die opdienbakkies. Skep die melkkos in en strooi nog kaneelsuiker bo-oor. Bedien dadelik.

