Deur Mynhardt Joubert
Hierdie kerrie, met sy oorsprong in Thailand, is vinnig en maklik om te maak. Maak dit meer vullend met vars, kleurryke groente. Maak die kerrie voor die tyd, marineer dit vir ’n rukkie en haal uit die yskas wanneer jy dit nodig het. Ek sit hierdie gereg graag saam met vars lemmetjies en hande vol gekapte vars koljander voor.
8–10 PORSIES
MARINADE
- 500 g ongegeurde dubbelroomjogurt
- 60 ml geelkerriepasta
- 2 knoffelhuisies, geskil en fyngedruk
- 5 cm-stuk gemmer
- 1 brandrissie, sade verwyder en gekap
- 1,5 kg ontbeende varknekblokkies
SOUS
- kanola-olie vir braai
- 2 rooiuie, geskil en in skyfies gesny
- 2 × 400 ml-blikkies klapperroom
- 30 ml vissous
VIR VOORSIT
Geblanseerde mangetout of suikerertjies, mungboontjiespruite, takkies vars koljander, skyfies brandrissie en geel peertamaties (bell tomatoes).
MARINADE
- Meng jogurt, kerriepasta, knoffel, gemmer en brandrissie en voeg varkblokkies by.
- Meng goed, bedek en verkoel vir 4 uur of oornag.
SOUS
- Haal vark uit marinade en gooi marinade weg. Verhit ’n bietjie olie in groot pan en braai vark in sarsies tot mooi bruin. Skep uit pan en plaas eenkant.
- Verhit nog olie en braai uie tot gaar en goudbruin. Roer klapperroom en vissous by en kook vir 5 minute.
- Plaas vark terug in pan en prut oor lae hitte vir 20–30 minute of tot gaar en sag.
SIT VOOR
Sit vark saam met mangetout, spruite, koljander, brandrissie en tamaties voor. Sit kerrie saam met jasmynrys voor wat jy met klappermelk en sitroengras kook.
WENK
Vir ’n selfs vinniger kerrie, gebruik varkfilet wat baie vinnig gaar word.
Lees ook: Ierse Bredie met Salsa Verde
