April is beslis geen grap in Suidooster nie, want daar is ’n epiese ontploffing van drama in Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die kykNET-sepie afspeel.
Lees ook: Suidooster waai stormsterk deur vanjaar se Suidoosterfees
Skokkende besluite skeur geliefdes uitmekaar, terwyl geheime en leuens dreig om alles te vernietig wat mense so hard probeer wegsteek. Soos dit in die sepiewêreld gaan, begin verhoudings wankel, lojaliteite word bevraagteken, spanning laai op en die skeidslyn tussen reg en verkeerd vervaag al hoe meer.
Intussen skuil daar gevaar in die skaduwees en magspeletjies dreig om die gemeenskap onherroeplik te verdeel.
Net wanneer dit voel asof dinge nie meer intens kan raak nie, veroorsaak onverwagse wendings – en ’n verrassende nuwe gesig – nóg skokgolwe in Ruiterbosch.
Kyk uit vir hierdie ses storiekinkels:
-
’n Bittersoet totsiens
April begin op ’n emosionele noot wanneer Susan (Natasha van der Merwe) en Elana (Esther van Waltsleben) ’n lewensveranderende besluit neem. Veral vir Bennie (Richard September) is dit baie swaar om van klein Bella afskeid te neem want sy is deur Susan en Elana aangeneem, en sy gaan saam met hulle weg. Hulle bring egter al hul vriende vir oulaas byeen vir Bella se doop – ’n mooi geleentheid wat Ruiterbosch vir altyd sal onthou.

-
Liefde, leuens en tweede kanse
Riaan (Daniel Coetzee) en Amanda (Lindie Strydom) knoop ’n geheime verhouding aan, maar gaan hul liefdesvlam deur twyfel en druk van buite geblus word? Wanneer Mike (Anrich Herbst) egter onverwags terugkeer en dit duidelik word dat hy steeds gevoelens vir Amanda koester, word alles op sy kop gedraai. Kate (Annelise Weiland) se inmenging maak sake nog meer gespanne, en Frankie (Mienke Ehlers) word ook verstrengel in hierdie emosionele chaos. Die mat word onder almal se voete uitgeruk wanneer Justin (Eden Classens) iets skokkend uitvind.

-
’n Avontuur wat bo blink, maar onder stink
Gary (Craig Adriaanse) se nuwe vriendskap met oom Willie (Pierre van Pletzen) neem ’n dramatiese wending wanneer hy ontdek dat die bejaarde man ’n geheime verlede het – een wat diamante, onreg en ’n ou rooftog insluit. Saam met Angie (Char Carrie) en Wade (Dean Smith) word Gary ingetrek in ’n plan om die verlore diamante terug te kry om reg te stel wat jare gelede verkeerd geloop het. Maar wat as ’n goeie daad begin, verander vinnig in ’n riskante affêre – veral wanneer gevaarlike karakters opdaag. Hulle besef dat hierdie missie groter en gevaarliker gevolge kan inhou as wat hulle ooit verwag het.

-
’n Oorlog om mag en grond
Die grootste konflik van April bou stadig maar seker op… Nazeem (Irvine van der Merwe) probeer homself as Ruiterbosch se wyksraadlid posisioneer as ’n “man van die mense”, maar sy dade en bedoelings begin al hoe meer verdag lyk. Wanneer hy JPD uitoorlê en grond bekom vir sy eie projek, is die gort behoorlik gaar. Siya (Gantane Kusch) word vasgevang in die nuutste oorlog tussen Bridgette (Denise Newman) en Nazeem. Wat volg, is ’n alles-of-niks stryd wat uiteindelik uitloop op ’n dramatiese openbare onthulling wat die magbalans in Ruiterbosch permanent kan verander. Siya moet besluit waar sy lojaliteit lê – en watter prys hy bereid is om daarvoor te betaal.

-
Verhoudings wat stadig begin skuif
Wade en Angie se verhouding word opnuut getoets en dit word duidelik dat hulle nie altyd op dieselfde bladsy is nie. Terwyl Angie impulsief en emosioneel reageer, probeer Wade meer logies dink. Dit verhoog net die spanning tussen die twee. Intussen begin Zoe (Lauren Joseph) stadig maar seker weer ’n rol in Wade se lewe speel, wat natuurlik olie op die vuur is. Gaan Angie en Wade se verhouding net deur troebel water, of is die skip besig om te sink?

-
’n Hollywood-ster verras Ruiterbosch
Ruiterbosch gons wanneer ’n wêreldbekende akteur skielik opdaag. Hugo (David Chevers) – ’n oud-inwoner wat groot naam vir homself in Hollywood gemaak het – trek onmiddellik aandag, maar nie almal is oortuig van sy bedoelings nie.

Suidooster word weeksdae om 18:00 op kykNET (DSTv-kanaal 144) en om 18:30 op kykNET & Kie (DSTv-kanaal 145) uitgesaai. Dit is ook beskikbaar op DStv Stream.
Lees ook: Trek jou visnetkouse aan en kom deel in The Rocky Horror Picture Show-pret!

