Episode 12 van Op my eish! het kykers op ’n reeks intieme afsprake tussen Ruan en sy topvier geneem, maar dit was ’n onverwagse afskeid wat uiteindelik die grootste impak gemaak het.
Elkeen van die oorblywende dames het die geleentheid vir ’n spesiale een-tot-een-afspraak gekry. Charlene se dag het begin met ’n soort speletjie. Leidrade en ’n tweerigtingradio het haar diep die bos in gelei – tot sy uiteindelik vir Ruan gevind en hulle hul eerste soen gedeel het. Daar was vonke, en Ruan het later erken dat hy ná die dag saam met haar onseker oor sy eie emosies gevoel het.

Cindy-Lee se afspraak het ’n meer intieme wending geneem in ’n ondergrondse kelder, waar sy haar kwesbare kant gewys en erken het dat sy besig is om vir Ruan te val. Haar eerlikheid het ’n indruk gemaak, en Ruan het dit waardeer dat sy begin het om haar mure af te breek.

Bejanke se tyd saam met Ruan het in ’n rustige tuin afgespeel, waar hul gesprekke op die toekoms en selfs haar kinders gefokus het. Sy het erken dat hy haar vlinders in haar maag gee en dat sy haarself saam met hom kan sien.

Minette se afspraak was ewe spesiaal. Sy het te perd opgedaag en ’n romantiese aandete onder liggies geniet. Hul gesprekke was diep en gefokus op die pad vorentoe. Niks het ’n mens laat raai dat dinge kort daarna dramaties sou verander nie.

Nadat Minette na die groep teruggekeer het, het Ruan onverwags opgedaag en aangekondig dat hy iemand huis toe gaan stuur. Tot almal se skok was dit Minette.
’n Gespanne gesprek het tussen die twee gevolg, waarin Ruan erken het dat hy die afgelope paar dae verskillende kante van haar gesien het. Minette het haarself probeer verduidelik, maar die situasie het vinnig intens geraak, en Ruan het uiteindelik weggestap – ’n oomblik wat haar in trane gehad het.

By terugskoue het Minette deelname aan die program as ’n “baie brawe ding om te doen” beskryf. Sy meen kykers sien nie altyd al die komplekse dinamika wat agter die skerms afspeel nie. “Noudat daar afstand is, kan ek objektief na alles kyk,” het sy gesê.
Hoewel die uitslag nie was waarop sy gehoop het nie, het sy die moontlikheid van seerkry van die begin af verstaan. “Dit bly ’n realiteitsprogram.”
Wat haar deur die moeilike besluit gedra het, was haar sterk geloof en selfkennis. Sy beskryf haarself as iemand wat gegrond is. “Ek weet wie ek is – ek is ’n dogter van die Koning. Dit anker my.”
Ten spyte daarvan dat dinge nie uitgewerk het nie, onthou sy haar tyd saam met Ruan as opreg en betekenisvol. “Elke laggie uit die maag, gesteelde kykies… maar ook elke genuine, diep gesprek. Ek koester dit alles.”
Sy glo ook dat daar meer diepte in Ruan is as wat mense noodwendig sien en dat hy ’n sterk begeerte het om te groei en ’n beter man te wees. Die ervaring het nie net haar perspektief op verhoudings verstel nie, maar haar ook herinner aan haar eie groei. “Ek is nog steeds elke dag ’n work in progress, maar hierdie ervaring het my gewys hoe ver ek al gekom het.”
Wanneer sy terugkyk, kies sy om die goeie saam met haar te dra. “Elke ervaring in die lewe slyp jou as persoon. Behou die goeie, laat die res van jou afspoel en beweeg aan.”
Vir Minette bly dit belangrik om getrou aan haarself te wees, ongeag die omstandighede. “Integriteit is ALLES. Ek stap trots hier weg met die wete dat ek altyd getrou gebly het aan die vrou wat ek elke dag probeer wees.”
Sy neem ook waardevolle lesse saam vorentoe – om haar eie waarde te ken en nie te settle nie, en om steeds oop te bly vir liefde. “It is never rejection – it is either protection or redirection.”
Hoewel haar Op my eish!-reis tot ’n einde gekom het, bly sy hoopvol oor wat voorlê. Sy glo dat daar vir elkeen ’n pasmaat is en sien met verwagting uit na haar eie liefdesverhaal. “Ek is hoopvol dat my trouman iewers daar buite ook besig is om homself voor te berei vir ons liefdesverhaal.”
Op my eish! word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Twee geliefde karakters groet Suidooster ná vyf jaar

