Talle Suidooster-kykers sien deesdae rooi oor die liefdesdriehoek tussen Wade (Dean Smith), Zoë (Lauren Joseph) en Angie (Char Carrie). Dit krap hulle liederlik om, en dis deels te wyte aan wat ses jaar gelede in dié kykNET-sepie gebeur het. Suidooster-kykers vergeet en vergewe mos nie maklik nie.
Zoë het destyds die arme Wade se hart gebreek toe sy vir Tim (Marco Spaumer) bo hom gekies het. Sy het toe nog met Tim getrou ook. Met die verbrokkeling van haar en Wade se wisselvallige verhouding verlede jaar, het kykers gedink dis finaal, veral toe die liefde weer tussen Wade en Angie opgevlam het.
Maar die afgelope paar weke het daar groot krake in hul verhouding begin wys, en Wade en Zoë het besef hulle hoort tog wel bymekaar. Maar dit was makliker gesê as gedaan. Nadat Wade oop kaarte met Angie gespeel en hul verhouding beëindig het, het Angie uitgevind sy is swanger – en Wade is die pa.

Dié verwikkeling het natuurlik die hele Ruiterbosch onkant gevang, nou staar dié drie karakters ’n baie onsekere, potensieel onstuimige toekoms in die gesig. Hoe en waar gaan hulle in mekaar se lewens inpas? Lauren gesels oor dié storielyn.
Waarom dink jy Zoë en Wade vind altyd hul pad terug na mekaar toe?
Ek dink die konneksie tussen hulle is veel meer as bloot net aangetrokkenheid. Hulle is al deur soveel dinge saam, insluitend oomblikke wat hulle werklik beproef het. Daardie is geskiedenis wat nie sommer maklik in die niet verdwyn nie.
Daar’s ’n diep emosionele band tussen hulle, amper soos ’n sielsverbintenis. Dit maak nie saak hoe ver hulle van mekaar af wegdryf nie – daar’s altyd iets wat hulle weer bymekaar bring. Dis nie altyd maklik of perfek nie, maar dit voel deurentyd asof daar iets tussen hulle is wat nog nie afgehandel is nie, en hulle probeer dit nog steeds verstaan.
Wat maak die konneksie tussen hulle anders as die ander verhoudings waarby hulle betrokke was?
Dit wat Zoë met Wade het, is gevestig in iets wat werklik is, en dis vir haar moeilik om dit met iemand anders te hê. In haar ander verhoudings, veral met Tim (Marco Spaumer), het dit vir haar gevoel of sy iewers ’n gat probeer toestop of probeer om iets te herskep wat sy verloor het, eerder as om iets opreg en nuut te bou. Daardie verhouding was nie deurentyd op liefde gebaseer nie, en dit het dit veel duideliker gemaak wat werklik daar geskort het.
Met Wade is daar ’n gevoel van tuiskoms. Hulle verstaan mekaar vanweë hul gedeelde emosionele ervarings, en dit skep ’n veel dieper band.
Hoe sal jy nou Zoë se gevoelens beskryf?
Zoë is nou beslis baie versigtiger. Sy is steeds lief vir Wade, maar sy is ook bewus van wat alles nou op die spel is. Ek dink daar’s ’n gedeelte van haar wat die gewig van hul verlede dra, insluitend keuses wat gemaak is wat beide baie diep getref het. Sy probeer tog vorentoe beweeg op ’n meer doelbewuste manier. Daar is hoop, maar ook die behoefte om haarself emosioneel te beskerm.
Wat geniet jy die meeste daaraan om hul romantiese geskiedenis te vertolk?
Ek geniet die emosionele vlak die meeste. Daar is net soveel geskiedenis tussen die twee wat dit by tye onnodig maak om reguit daaroor te praat, maar dis altyd daar iewers onder die oppervlakte. Dit maak elke interaksie net meer betekenisvol. Selfs die stil oomblikke tussen hulle dra gewig.
Wanneer Ingrid Paulus in die regisseurstoel sit, herinner sy ons altyd aan die intense geskiedenis wat Zoë en Wade deel en nog steeds met hulle saamdra. Wanneer dit in ’n toneel ingewerk word, word die gevoelens en gewigtigheid daarvan soveel meer, en dit skiet werklik diep wortel.

Wat kan kykers van Zoë verwag wat probeer om beide haar hart en haar toekoms met Wade te beskerm?
Zoë is besig om te leer om meer eerlik met haarself te wees, veral oor dit wat nie in die verlede gewerk het nie, asook die rol wat sy sélf daarin gespeel het. Daar is nou ’n vlak van verantwoordbaarheid in hoe sy haar verlede met Wade beskou.
Terselfdertyd betree sy nou ’n fase waar sy haarself kies. In die verlede was haar besluite baie sterk deur haar Auntie Bee [Bridgette, vertolk deur Denise Newman] beïnvloed. En sy het werklik groot waardering vir daardie waardes, maar dit het haar gereeld haar eie ware gevoelens laat ontken. Hierdie keer probeer sy om na haar hart te luister, selfs al beteken dit dat sy teen Bridgette se raad besluit.
Kykers gaan sien hoe sy meer bewustelik met Wade omgaan. Sy’s meer kwesbaar en druk haar gevoelens nou uit, maar sy is ook meer bedag op dit wat sy gewillig is om te beskerm.
Hoe het Zoë gegroei in vergelyking met hul verhouding vroeër?
Sy het emosioneel baie gegroei en is ook baie meer bewus van haar eie waarde. Sy moes reflekteer op besluite in die verlede en wat dit vir haar en Wade beteken het. Hierdie groei maak haar meer eerlik oor haarself en wat sy wil hê, en sy is so reg daarvoor. Verby is die dae toe Zoë op suiwere impuls reageer het. Deesdae oordink sy haar besluite beter.
Hoe beskou Zoë Wade se verhouding met Angie? En wat wil jy hê kykers moet hierdie keer oor haar liefde vir Wade weet?
Zoë beskou Wade en Angie se verhouding as ’n deel van sy persoonlike reis, maar nie die einde van daardie reis nie. Sy ken vir Wade baie goed en juis daarom besef sy dat dit wat tussen hulle twee is, veel dieper is as net iets op die oppervlak. Daar’s ’n gevoel van vennootskap en groei wat sy nog nie iewers anders gevind het nie.

Ek wil baie graag hê die kykers moet verstaan dat Zoë se liefde vir Wade nie daaroor gaan om iets van iemand anders weg te neem nie. Dit kom van ’n plek van hul geskiedenis, hul verbintenis en daardie band met Wade wat sy vir geruime tyd probeer onderdruk het. Hulle deel iets wat diep beproef is en tog bly vind hulle hul pad terug na mekaar toe. Dít is wat dit vir Zoë werklik maak.
