Die kunstenaar Jan Hendrik Viljoen, of Portchie soos hy bekend was, is Vrydagoggend, 12 Junie oorlede.
rooi rose deel graag die onderhoud wat ons in 2024 met hom gedoen het:
Dit voel of ’n mens in die son instap terwyl Portchie Viljoen se skilderye deur jou kop blaai. Sy enorme sitkamer is ’n warboel van kleur, kwaste, mini-lugballonne, skilderye en kussings vol kleurspatsels. Jou oë raak oorweldig en wil eintlik hensop. Boonop sit die bekende Stellenbosse skilder se vriende oor die sitkamer versprei. Iemand swot op ’n rekenaar terwyl ’n vriend met wit en blou kolle onder Portchie se wakende oog eksperimenteer. Dan groet geverfde katte, varkies en ’n blou boks vol reuse-kleurpotlode besoekers.

“Ek verf met die spoed van wit lig,” erken die man, wat net so lief vir sy verfdoeke as vir mense is. Hy beduie: “Hierdie skilderye waarmee ek nou besig is, besweer my vrese, veral om alleen oud te word. Dit bars deur daardie grense wat mense vir hulself stel om hulle te verbeel iets is onmoontlik.”
Maar vrees? Van ’n man wat in ’n drieverdiepingkasteel woon waar vriende en familie gereeld kuier? “Toe ek begin het, het ek ’n sakkie om my nek gedra. Toe ek my eerste skilderye in die jare negentig verkoop het, was daar nie kaartmasjiene nie. Ek het die geld sommer in die sakkie gedruk. En ek vertroetel dit vandag nog. Dis my skans teen vrees.”
Met sy Volkswagen Fox en ’n Ventertjie het hy destyds Stellenbosch toe gery, in ’n garage gaan woon en die drie kamers van sy huis uitverhuur. “Tien jaar lank was ek vol onsekerheid. Ek het in ’n stadium net tien rand in my beursie gehad. Ek moes skuld afbetaal. Maar ek het teen die vrees geverf met tonele uit my kinderjare waar kinders veilig speel, met hoepels baljaar en touspring. Met hul arms na mekaar uitgestrek om vriendskapsbande te smee.”
Elke skildery het ’n koper, en Portchie wag net vir daardie persoon om sy skildery te kom haal.
In sy kombuis pryk ’n ou Aga-stoof uit Beaufort-Wes. Hy wys met ’n verfkwas: “Dit herinner my aan my ma. Sy het altyd stowepatats gekook wat ek geskil het. Dan nooi sy vreemdes uit die kerk om by ons te kom eet. As jy eers jou voete onder iemand se tafel ingestoot het, is hulle vriende. En bring hulle nuwe vriende wat kleur en geluk na jou lewe bring. Gelukkige mense sorg vir ander gelukkige mense.”
Hy werk aan ’n skildery van sy vleuelklavier waar vele pianiste al uitvoerings in sy huis kom gee het. Portchie speel self klavier, gewoonlik geestelike liedjies. Maar hy beveel vir Alexa om Jim Reeves te speel. “Ek het met Charles Jacobie grootgeword,” onthou hy. “Vrolike musiek. En altyd kleur – orals.”
Hy kyk na houteiers vol patrone. “Iemand het hiermee moeite gedoen om iets moois te maak, en ek wil daarin deel.”

Portchie het ’n YouTube-kanaal waarop hy van sy kerkliedjies speel. En hy het boonop inkleurboeke met kodes ontwerp. Mense kan die prentjies inkleur deur op die kode te klik.
Portchie verskyn dan en verduidelik wat waar gedoen moet word.
“Mense verwys dikwels na my werk as kinderlik en naïef. Ek motiveer graadeentjies en inspireer hulle om my werk na te boots. Daar kan jy sien dat hulle nog nie die kuns van komposisie en kleurvermenging verstaan nie. Dis moeiliker as wat dit lyk.”
Sy skilderye spreek van die regte mengsel van helderrooi, -geel, -blou en ander baldadige kleure. Ek merk geen stiltes in sy skilderye nie. Geen oop ruimtes nie. Alles word gevul met wat hy as kind van sy ouers se groentewinkel onthou. “Daar het die skilder- en kleurmens begin,” erken hy met ’n kwas, wat die vleuelklavier op die doek afrond.
“Dit gaan oor watter kleur jy langs watter kleur sit. Wortels links en beet doer regs beteken niks. Plaas hulle langs mekaar. Eiervrug, tamaties, patats, dan beet. Daardie kombinasie van kleur sal die koper se oog vang en dit laat verkoop. Want dis die spel met kleur wat mense trek. Dis waar die noukeurige kombinasie van kleur in my werk vandaan kom. Die teen mekaar plaas van kleure, maar dan moet dit mekaar komplementeer, nie teen mekaar baklei nie.”
Opmerklik tussen die kleurmallemeule is ’n skildery van ’n vrou wat vasberade staar. “Ek het dit by ’n pandjieswinkel op Barrydale gekoop. Ek is mal oor pandjieswinkels. So merk ek toe die eensame vrou op wat maar net daar tussen vreemdes hang. Sy was dalk die voorsitter van die VLU, ’n sterk mens wat nou alleen in ’n oorvol winkel hang.
“Ek het haar net daar gekoop en vir haar ’n huis gegee.”
En dis wat so merkwaardig van Portchie se woning is. Die skilderye, veral van ander skilders, vind tuistes. Hul skilderye skuur skouer met syne, soos een deur Pierre Volschenk van ’n dame wat met haar rug na ons toe staan en kos maak.

Portchie lag asof hy van ’n ou vriendin praat. “Dis vir my ’n toonbeeld van outydse gasvryheid. Daar staan sy en roer in ’n pot, nes my ma. Altyd voor die stoof, terwyl ek haar dophou en groente vir haar skil.”
Daar staan ook rye bekers, sommige vol water waarin suurlemoene of bessies dryf, die geel van die suurlemoene prikkelend op die oog soos die son wat sy huis vol spikkels skyn.“Skilder bly ’n manier om vrese te oorkom. Dit help nie die kleure en kolle sit in jou kop vas nie. Meng dit op ’n palet en verplaas dit na ’n doek. Wat help dit die skoonheid is net in jou gedagtes, maar jy deel dit met niemand nie? Die fragmente verf in my kop word prentjies soos op ’n slimfoon. Ek vee met my vinger oor die foon en dan kry die skilderye gestalte op
’n doek.”
Sy werkplek is die ene verfbuise en kwaste wat soos ruikers met fyn puntjies of klosse hare uitgestal is. Hy weet presies hoe en waar om elke kwas aan te wend. Hy raak aan sy esel waarop hy geliefde werke geskilder het waarvan reeds derduisende verkoop is. “Ek verkies ’n esel met twee sparre wat stewig staan sodat dit nie rondwikkel nie.” Onder die doek is ’n palet vasgeskroef onder ’n stuk hout wat hy sommer self prakseer het. “My hand raak moeg om die palet vas te hou.”
Rondom hom lê verskeie palette vol krabbels: malse werke waarop kleur en verf met mekaar dans. “Ek verkoop selfs van my palette. Dit gee my vreugde as mense dit koop, want dis waar alles begin het.”
En die katte wat orals staan? “Hoewel ek nie diere het nie, is ek ’n katmens. Hulle is eerlike diere, en laat my iets onthou wat Andy Warhol gesê het. Iets wat ook teen vrees waarsku. Al koop iemand nie dadelik jou werke nie, gaan voort met skilder terwyl hulle besluit. Moenie sit en niksdoen nie. “Skep meer en meer kuns. Dis hoe jy dit verkoop.”
Naby hom, waar hy met ’n glimlag sit en skilder, is sy skildery van ’n vrou met haar rug na ons wat ingedagte met ’n brief staan. “Ek glo dat ’n brief steeds een van die beste maniere is om met mekaar te kommunikeer. Jy kan die woorde weer lees en oordink, anders as wanneer iemand net iets vir jou in die verbygaan sê.”

Terwyl die suidoos buite om die huis loei, wonder ek of hy ooit alleen word, waar hy op sy eie in die kasarm van ’n huis woon.
Hy lag en skud sy kop. Verwys weer na die mense wat voete onder sy tafel instoot en immer kom en gaan. “Hier is altyd iemand. Mense wat omgee. Wat mooiheid saam met hulle bring.” Hulle is soos die kleure op sy skilderye wat kom, maar hulle op die doek tuismaak.
Die gesprek beweeg terug na vrese. Portchie was bang dat sy pryse te hoog is, en het sy waarde vroeër onderskat. “Maar toe ek my pryse opstoot, besef ek dat die mense nou éérs koop. Want hierdie skilderye word net meer werd. Jy moet deur daardie vrees in jou kop breek.”
Gedurende die onderhoud berei hy voor aan ’n uitstalling in die Stellenbosch-stadsaal. Die sitkamer is met plakkate besaai wat teen lamppale gaan pryk. Duisende gaan die uitstalling bywoon. As Portchie iets doen, doen hy dit ordentlik.
Saans klim hy halftwaalf in die bed en speel eers ’n potjie brug op sy selfoon. “Ek is soos Pawlof se hond. Iets trigger my en dan raak ek aan die slaap.”
Daardie aand wen die Springbokke die Wêreldbeker en almal sit af na ’n plaas buite Stellenbosch. Ek dwaal tussen sy skilderye rond soos ’n kind in ’n lekkergoedwinkel. Ek het die hartklop van Portchie se wêreld net vir myself: Ek maak my tuis tussen vrolike verfvarkies en skilderye van Bert van Wyk van plattelandse kerke; ek gooi my toe onder ’n kombers met ’n afdruk van een van Portchie se skilderye, knus in die vriendelike warmte. Die skilderye dans om my en tref my oë met ’n kaleidoskoop van kleure.
Sy werk huisves nie vrees nie. Hy besweer dit streep vir streep met sy kwaste. En verhelder telkens die lewe wat daardeur geraak word. Iewers, ver op die agtergrond, beaam Jim Reeves dié filosofie.

Lees ook: 10 redes waarom jy rooi rose se Junie-uitgawe móét lees
