Deur Anlie Janse van Rensburg
Ons ken mos almal die gesegde – “minder is meer”. Vir lank het ek dit nie geglo nie, maar deesdae is dit my uitgangspunt. Ek, my man en my kat bly in ’n tweeslaapkamer-meenthuis, want dis groot genoeg vir die drie van ons se behoeftes.
Elke bruikbare spasie is slim beplan. Die voormalige stoorkamer van besems en bakke het die perfekte klein wynkamer geword. (’n Mens kan nooit genoeg wyn hê nie!). En die vermorste spasie onder die trap het ’n ingerigte tuiskantoor geword. Alles pas soos ’n legkaart inmekaar. Ons noem dit ons “house for ants” omdat die spasie so klein is. Dit is juis hierdie eenvoud wat ons huis so uniek maak dat ons nie sommer ’n groter plek sal oorweeg nie.
Ons het wat eens net ’n leë stuk grond was in ’n kuierstoep verander waar ons tot ses gaste beperk is, want dan is die stoep vol, maar die kuiers intiem. Hoe lekker is dit nie om regtig aandag aan jou kuiermense te gee nie? Om elkeen se storie in detail aan te hoor. Ek het ’n kleintjie dood aan kuiers waar almal op een slag bymekaar kom, en aan die einde van die aand het jy skaars drie (sinvolle) woorde met elkeen gepraat.
Tog raak ons “house for ants” soms vol onnodige items. Daar is te veel potte en panne en te veel klere en skoene. Daar heers ’n onrustigheid in my binneste as die kaste uit hul nate begin peul, selfs al is dit agter toe deure. Jy weet dis daar en jy moet daarvan ontslae raak. Dan breek die tyd vir uitgooi aan. Uit met die rok wat al vir vyf jaar nie meer aangetrek word nie! Ná so ’n skoonmaaksessie daal daar ’n verligting oor my neer. Ek maak die netjiese kas sommer ’n paar keer daardie dag weer oop net om die lekkerte daarvan te ervaar.
’n Eenvoudige wit bloes trek soms meer aandag as ’n opgesmukte Gucci-modestuk. ’n Resep met net ’n paar eenvoudige bestanddele kan veel beter as ’n ingewikkelde dis met 20 duur bestanddele smaak. Ons hoef nie met baie oor die weg te kom nie. Dinge is eenvoudiger wanneer ons bagasie min is. Gooi weg wat nie meer vir jou werk nie, hetsy dit ouma Ans se gehekelde lappie is wat oor jou bank hang en wat jy eintlik verpes, of ’n toksiese verhouding wat jou kragte dreineer. Leef lig en sorg vir jou siel!
Ek glo dat ’n eenvoudige en beskeie manier van lewe die beste vir almal is, die beste vir die liggaam sowel as die gees.
– Albert Einstein
Ons lewe word deur detail versmoor. Vereenvoudig, vereenvoudig.
– Henry David Thoreau, Amerikaanse natuurkenner, digter en filosoof
Eenvoud is die uiteindelike sofistikasie.
– Leonardo da Vinci, Italiaanse genie
Die vermoë om te vereenvoudig, beteken om die onnodige uit te skakel sodat die nodige kan praat.
– Hans Hofmann, Duits-Amerikaanse kunstenaar
Lees ook: Uit die redakteur se pen: Om te Luister
