Deur Maryke Roberts
Maak gereed vir ’n aand van pure teater-towerspel, dromerige romanse en spitsvondige humor. Die bekroonde en immergewilde Stephen Sondheim se musiekblyspel, A Little Night Music, open op 30 Junie by die Theatre on the Bay in die prentjiemooie Kampsbaai. Hierdie glansproduksie is slegs tot 12 Julie op die planke, so bespreek sommer gou jou sitplek!
Die storie speel af in die romantiese Swede aan die begin van die 20ste eeu – ’n tydperk van reuse- sosiale veranderinge waar mense van die platteland na die stede gestroom het op soek na nuwe drome. Teen hierdie ryk historiese agtergrond spin die musiekblyspel ’n meesleurende, sensuele web van minnaars se misstappe, nostalgiese herinneringe en intense begeertes onder die dowwe Sweedse somerse lig.
Asof die pragtige storie nie genoeg is nie, spog die produksie met van ons land se toptalent waaronder die pragtige Kaapstadse sangeres en kunstenaar, Liné Jordaan, wat uitblink in die rol van Anne Egerman, die naïewe 18-jarige vrou, van die middeljarige prokureur, Fredrik Egerman (gespeel deur Jonathan Roxmouth).

Liné Jordaan (Anne Egerman) en Jonathan Roxmouth tydens “A Little Night Music”-repetisies. Hy speel haar man, Fredrik. Foto: Quiver Films
Ander gewilde lede van die rolverdeling is onder andere Aviva Pelham as Madame Armfeldt; Samantha Peo as Desiree Armfeldt; Brittany Smith as Petra; Marcel Meyer as Graaf Carl-Magnus Malcolm; en Kate Normington as Gravin Charlotte Malcolm.
Die stuk is geïnspireer deur Ingmar Bergman se ikoniese 1955-rolprent, Smiles of a Summer Night, en leen by die tradisies van die klassieke Franse klug. Dis vol skreeusnaakse, onwaarskynlike situasies. Maar die ware polsslag van die storie is Sondheim se deurdringende eerlikheid oor die menslike hart: die karakters se verlange, besluiteloosheid en misplaaste begeertes word met pure elegansie en deernis ontbloot. Dit is gelyktydig so lig en borrelend soos vonkelwyn, maar ook diep roerend.
Die titel is die direkte Engelse vertaling van Mozart se bekende “Serenade No. 13, Eine kleine Nachtmusik”.
Liné Jordaan is beslis ’n ster om dop te hou! Sy het haar BMus-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf (waar sy in musikologie en klassieke sang gespesialiseer het) en het reeds as student haar buiging gemaak in samewerkingsproduksies van Kaapstad Opera en AGL Opera, soos Die Fledermaus.
Sy het haar kontemporêre- en musiekteatervaardighede verder gaan slyp by LAMTA (geleë net daar by Theatre on the Bay!) en is in 2020 bekroon met die gesogte Fleur du Cap-teaterprys vir Belowendste Student. Sedertdien het sy gereeld gehore betower in FollowSpot Productions se treffers soos You Should Be Dancing en Rouge. Wanneer sy nie die verhoog aan die brand sing nie, deel sy haar passie as stemafrigter en musiekonderwyseres in die Moederstad.

Liné Jordaan in “Rouge” by Theatre on the Bay (2025/26) in Kampsbaai. Foto: Quiver Films
Sedert A Little Night Music in Februarie 1973 op Broadway geopen het, het dit wêreldwyd harte gesteel – van Londen se Weseinde tot groot operahuise. Dit is in 1977 selfs vir die wye doek aangepas met ikone soos Elizabeth Taylor en Diana Rigg in die hoofrolle.
Dit is natuurlik ook die tuiste van een van die mees ikoniese teaterliedjies van alle tye: die aangrypende “Send in the Clowns” (wat oorspronklik vir Glynis Johns geskryf is).
Stephen Sondheim (wat ons helaas in 2021 ontval het), het as komponis en liedjieskrywer sy stempel afgedruk en word beskou as een van die invloedrykste figure in die 20ste-eeuse teatergeskiedenis. Met ’n gros toekennings agter sy naam insluitend ’n Oscar, agt Grammy’s en ’n Pulitzer-prys, het hy die Amerikaanse musiekblyspel herdefinieer met emosionele diepte en musikale sofistikasie.

Jonathan Roxmouth as Frederik German en Samatha Peo as Desiree Armfeldt. Foto: Quiver Films
Liné beantwoord ’n paar vrae:
Jy het ’n stewige agtergrond in klassieke sang en het al vroeg in jou loopbaan saam met Kaapstad Opera gewerk. Waarom dink jy is ’n loopbaan in opera en klassieke musiek vandag nog ’n goeie en verrykende rigting vir jongmense om te kies?
Klassieke musiek, in teenstelling met musiekteater of meer kontemporêre musiek, kom uit die 16de eeu en sy grondslag lê in die 8ste/9de Middeleeuse musiek. Hierdie musiek is gevorm deur honderde jare se invloede. ’n Jong kunstenaar wat klassieke musiek beoefen, leer nie net daardeur hoe om te sing of ’n instrument te speel nie, maar hulle leer ook hoe om musiek werklik te verstaan en te waardeer. Klassieke opleiding druk ’n mens nie in een rigting vas nie, en dit is gewoonlik waar jongmense wat aan die begin van hul loopbaan is, verkeerd gaan. Deur klassieke musiek leer ’n mens vaardighede aan wat in verskeie genres, musiekteater, onderrig en selfs kontemporêre musiek gebruik kan word. Vir my was dit die beginpunt van alles wat ek vandag doen.
Baie mense dink steeds opera is formeel of dalk ’n bietjie oudmodies. Hoe wys ’n produksie soos A Little Night Music dat hierdie genre en klassieke sangtegnieke eintlik vreeslik relevant, modern en propvol pret kan wees?
Ek dink mense is dikwels verbaas wanneer hulle besef hoe snaaks en bekend hierdie stories eintlik is! A Little Night Music gaan oor liefde, verhoudings, verkeerde besluite (en regte besluite!) en mense wat hul eie psiges in die oë moet staar. Die musiek is ongelooflik slim geskryf en die stuk neem homself nie te ernstig op nie. Die klassieke styl kleur die hele prentjie pragtig in. Daar is baie humor, baie hart en baie oomblikke waar jy ’n stukkie van jouself in die karakters herken.

Liné Jordaan in “Rocking the Bar” (2024) by Theatre on the Bay in Kampsbaai.
Jy het ná jou klassieke graad by LAMTA gaan studeer om jou kontemporêre klank te slyp. Hoe help jou opera-agtergrond jou om die uitdagende en dikwels ingewikkelde musiek van Sondheim baas te raak?
Sondheim hou jou beslis wakker! Sy musiek is ongelooflik presies en daar gebeur baie op dieselfde tyd, en ’n mens moet dus kophou. My klassieke opleiding help my baie met goed soos asembeheer, musikale akkuraatheid en om vinnig moeilike musiek te leer. Ons sit die hele produksie in vier weke bymekaar. Ek is ook dankbaar vir my opleiding in musiekteater, want dit help my om die teks natuurlik en eerlik oor te dra. As akteur, wil jy altyd die “waarheid” speel. Solank die voornemens eerlik is, sal die humor volg. Vir my werk die twee style eintlik baie mooi saam.
A Little Night Music word beskryf as “so lig soos sjampanje, maar deurdringend eerlik”. Sonder om te veel te verklap, hoe balanseer julle as geselskap daardie heerlike komiese elemente met die dieper, emosionele trefkrag van die storie?
Ek dink die geheim is om die karakters ernstig op te neem. Sondheim gebruik humor om ongemaklike emosies ligter te laat voel. Tussendeur al die chaos lê daar eintlik baie moeilike en eerlike vrae wat ’n mens soms nie weet wat om mee te maak nie. Die komedie lê in die dialoog. Die gevoel wat die stuk skep en die passie lê in die musiek. Dit is ’n metafoor vir menslike gedrag – alles lyk op die oog af piekfyn, maar die musiek sê iets anders.

Liné Jordaan en Jonathan Roxmouth tydens repetisies “A Little Night Music”. Foto: Quiver Films
Die musiekblyspel spog met die wêreldberoemde lied “Send in the Clowns”. Wat gaan deur jou kop as kunstenaar wanneer so ’n ikoniese, emosionele oomblik op die verhoog afspeel, en hoe dink jy praat dit vandag nog met gehore?
“Send in the Clowns” raak ’n mens omdat ons uiteindelik ’n baie weerlose kant van die karakter sien nadat sy vir die hele produksie baie selfversekerd voorgekom het. Om moeilike lewenskeuses te moet maak, is iets waarmee almal hulle mee sal kan vereenselwig. Dit gaan oor daardie oomblikke in die lewe waar jy terugkyk en wonder of dinge anders kon uitdraai.
Ek dink daar is ontsettend baie mense wat die lied ken, maar hulle weet nie wat die konteks daarvan is nie, so ek sien uit dat gehore die lied kan ervaar soos Sondheim dit bedoel het.

Liné Jordaan tydens repetisies vir “A Little Night Music”. Foto: Quiver Films
Benewens jou eie verhoogloopbaan is jy ook baie aktief as stemafrigter en musiekopvoeder vir die jonger generasie. Sien jy ’n nuwe opgewondenheid by jongmense vir musiekteater en klassieke musiek wanneer hulle aan produksies soos hierdie blootgestel word?
Absoluut. Ek sien dit heeltyd by my studente. Baie jongmense dink klassieke musiek of musiekteater is dalk nie vir hulle nie, totdat hulle dit beleef. Hulle besef dan hoe emosioneel, uitdagend en opwindend dit eintlik is. Ek dink veral om hulle aan musiekteater bloot te stel, maak baie deure oop, want dit kombineer sang, toneelspel, dans en storievertelling op so ’n toeganklike manier. Daar is definitief ’n nuwe generasie wat opgewonde raak oor hierdie kunsvorms en ek kan nie wag om te sien waarmee die kunste ons in die toekoms gaan verras nie.
- Geen o/13’s weens volwasse temas en seksuele inhoud. Bespreek by Webtickets.
Lees meer oor ander produksies van Kaapstad Opera by www.capetownopera.co.za
