Deur Anlie Janse van Rensburg
Ek weet nie van jou nie, maar ek vind dit soms baie moeilik om te luister. Wanneer iemand te veel praat, verloor ek belangstelling. Wanneer iemand nonsens praat, verdwyn my aandag. Wanneer iemand in ’n luidrugtige stemtoon praat, vind ek dit moeilik om in te neem wat hy of sy sê, want dit voel of hulle op my skree.
Nie almal van ons kry dit reg om altyd na die regte dinge te luister nie.
Hoe luister jy? Dwaal jou gedagtes wanneer jou vriendin oor haar kinders spog of jou wederhelf oor die dag se gebeure mor? Luister jy dalk eerder aandagtig as jou buurvrou oor jul ander buurvrou skinder? Wanneer spits jy jou ore en wanneer slaan jou ore toe? Luister jy na die regte dinge? Of luister jy net met ’n halwe oor, want jy wil graag jou mening oor ’n onderwerp lug en kan amper nie wag dat jou gespreksgenoot moet klaarpraat sodat jy ’n beurt kan kry nie?
Luister jy na die persoon wat jou venynig afkraak, en hoor jy minder die opbouende woorde wat jou dierbares vir jou sê? Ons moet kies om die koring van die kaf te skei en te luister om ag te slaan op dit wat positief en opbouend is.
Ons almal is seker een of ander tyd daaraan skuldig dat ons na die verkeerde dinge luister, of soms glad nie na mekaar luister wanneer ons juis moet nie.
Ek gaan probeer om ’n goeie luisteraar te wees en my ore vir die regte dinge te spits.
Joernalis en aanbieder Lourensa Eckardt sê dit was nog altyd vir haar belangrik dat ’n mens moet luister. “Dit is elke dag die belangrikste deel van my werk. Ek dink ons lewe in ’n tyd waar daar te min klem gelê word op die feit dat ’n mens moet luister. Omdat ons so min luister, vervlak dit diskoers en praat ons dikwels verby mekaar. Om te luister, beteken ook dat jy ná die tyd moet absorbeer om na te dink oor wat jy gehoor het.”
Lees ook: Gee om – dis goed vir jou!
