Verskaf deur DStv
Hoeveel van jouself sal jy prysgee om te behoort?
Dit is die vraag aan die hart van ONTWAAK, Sonvelt Media se nuwe Afrikaanse psigologiese riller-reeks wat vanaf 14 Julie eksklusief op DStv Stream beskikbaar is. Dié reeks van agt episodes, geskryf deur Wessel Pretorius en met André Velts in die regisseurstoel, ondersoek die fyn lyn tussen invloed, geloof en manipulasie – en wat gebeur wanneer die behoefte om aanvaar te word gevaarlik raak.
Die hoofkarakter is Melissa Human (Cindy Swanepoel), ’n psigiater wat ná jare oorsee terugkeer na Suid-Afrika om by Noordlig, ’n tronk vir krimineel versteurdes, te begin werk. Haar nuwe lewe neem ’n onverwagte wending wanneer sy weer gekonfronteer word met mense en gebeure uit haar verlede.
Die ondersoek na ’n reeks ritualistiese moorde lei na Horisonne – ’n afgesonderde gemeenskap wat kwesbare mense lok met die belofte van identiteit, veiligheid en ’n plek waar hulle uiteindelik kan behoort. Maar agter dié belofte skuil ’n donker werklikheid. Wanneer Melissa dieper delf, ontbloot sy ’n wêreld waarin trauma, manipulasie en geloof gevaarlik met mekaar verweef is.

Chris Chameleon in ‘ONTWAAK’. Foto: Verskaf
Vir Wessel het die reeks ontstaan uit ’n belangstelling in die manier waarop mense hulself binne groepe en gemeenskappe definieer.
“Ek is gefassineer deur kuddementaliteit,” sê hy. “Die vraag waaruit ONTWAAK ontstaan het, was: Hoeveel van jouself sal jy prysgee om te behoort?”
Volgens Wessel is die reeks nie bloot ’n verhaal oor kultusse nie – dit gaan oor ’n universele menslike behoefte.
“Meeste mense smag daarna om deel te wees van ’n groep of ’n beweging. Ons wil nie agtergelaat of uitgesluit word nie. Selfs al resoneer die stam se etos nie noodwendig met ons nie, sal ons soms persoonlike etiek prysgee om aanvaar te word.”
Vir André was dit belangrik dat die wêreld van ONTWAAK onheilspellend voel sonder om ongeloofwaardig te raak.
“Die ruimtes dra gewig en geskiedenis,” sê hy. “Die stel word amper ’n karakter op sy eie. Van die beligting en kameralense tot kostuums en klank het elke element bygedra om die sielkundige spanning van die verhaal te ondersteun.”

Cindy Swanepoel in ‘ONTWAAK’. Foto: Verskaf
Die reeks spog met ’n ensemble-rolverdeling wat, onder andere, Cindy Swanepoel, Chris Chameleon, Minke Marais, Carel Nel, Sean-Marco Vorster, Deon Lotz, Rikus Strauss, Kenley Swart, Louis Auret, Maude Sandham, Fezile Mpela, Christopher van der Westhuizen en Ray Buso insluit.
ONTWAAK het al die spanning en tergende raaisels van ’n misdaadriller, maar vra ook groter vrae oor identiteit, invloed en die behoefte om êrens te behoort. Wessel hoop die reeks sal gesprekke oor hierdie kwessies ontlok en dat kykers hulself ná afloop van die laaste episode sal afvra: Dink ek vir myself, of volg ek maar net die kudde?
ONTWAAK word vervaardig deur Sonvelt Media wat ook verantwoordelik was vir programme soos Reënboogrant, Pronk Primêr en Ek, hy en jy.
ONTWAAK begin 14 Julie eksklusief op DStv Stream wanneer die eerste twee episodes beskikbaar gemaak sal word. Daarna volg ’n nuwe episode weekliks.
Lees ook: Silwerskermfees bied voorsmaak van opwindende nuwe TV-reekse
