Veerskaf deur kykNET
’n Maand nadat die reeks op kykNET begin het, is dit duidelik: Beter as gister roer kykers se hartsnare met diep menslike stories wat eerlik en aangrypend vertel word. Ons het met Elton Landrew gesels om uit te vind wat dit vir hom beteken om deel te wees van die reeks, hoe hy onder sy karakter se vel ingeklim het en wat hy hoop gehore daaruit kry.
Elton Landrew vertolk die rol van Tariq Cupido, ’n teleurgestelde eggenoot en pa wat homself onverwags in ’n situasie bevind waar hy ’n verhouding moet bou met sy nuuskierige kleindogter wat hy eers ná sy vervreemde dogter se afsterwe leer ken het. Dis ’n uitdaging wat hom stadig maar seker so ver kry om weer sy hart oop te maak.
Wat beteken dit vir jou om deel te wees van Beter as gister?
Dit was so ’n wonderlike, onvergeetlike ervaring om saam met die uitstekende regisseurs Corné en René van Rooyen te werk, wie se passie en visie hierdie pragtige storie lewe gegee het. Om saam met die ongelooflike rolverdeling, asook ons span en produksiespan te werk, is ’n herinnering wat ek altyd sal koester. Die kinders wat op die stel was, verdien spesiale vermelding – veral Alexis Newman, wat kykers se harte gesteel het. Ek haal aan uit een van die uitstekende artikels wat oor die reeks verskyn het: “Die storie word in Afrikaans vertel, maar die temas handel oor vaderskap en familiebande wat universeel is.” En om te weet ek was deel daarvan is ’n voorreg en ’n eer.
Uit ’n pa se perspektief, watter ooreenkomste sien jy tussen jou karakter in die reeks en wie jy in die werklike lewe is? Is daar enige waardes of lewenservarings wat jy na die rol toe kon bring?
Ek het nie my eie kinders nie, maar ek was bevoorreg genoeg om my oorlede suster se twee seuns te help grootmaak tot die jong manne wat hulle vandag is. Om hul oom te wees beskou as ek een van my grootste seëninge, en dit het my gehelp met die voorbereiding vir die rol wat ek in die reeks vertolk.
Wat hoop jy leer kykers uit jou karakter se storie?
Die boodskap is ’n universele een wat gaan oor verlies, berou, veranderinge en moeilike uitdagings. Of dit teenoor onsself is, in die lewe, of veral met geliefdes, kan die les wees dat dinge altyd “beter as gister” gemaak kan word as ons bereid is om die nodige tyd in te sit en te leer hoe om môre beter te maak.
Het jy die eerste paar episodes van Beter as gister misgeloop?
Haal in op DStv Stream of Catch Up en kyk nuwe episodes elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

