Verskaf deur VIA
Die borrelende Sherlin Barends die een wat KFM-luisteraars soggens laat glimlag, selfs al sit hulle buffer teen buffer in die mees geknoopte van verkeersknope. En dit wil gedoen wees! Maar nou het die lieflike 36-jarige ma van ’n tweeling weer ’n nuwe uitdaging aanvaar – as die nuwe aanbieder van die derde seisoen van Ons gesels balans op VIA.
Sy is darem nie ’n groentjie wat TV-werk behels nie. Kykers het reeds in 2012 met haar kennis gemaak toe sy deel was van Top Billing se soektog na nuwe aanbieders.
Vandeesmaand neem sy die teuels van Ons gesels balans oor by Katryn Kruger en daar gaan gefokus word op die vind van balans tussen skoonheid, velsorg, gesonde dieet en oefening.
Hoe sien Sherlin hierdie nuwe pad vorentoe vir haar uitspeel?
Hoekom moet mense na Ons gesels balans kyk?
Die lewe kan so maklik oorweldigend besig raak. Ons gesels balans is nie net ’n mooi herinnering daaraan om balans in jou lewe ’n prioriteit te maak nie – dit bied ons ook die geleentheid om elke week saam met ons gaste en kykers meer oor die proses te leer. Kykers kan uitsien na persoonlike verhale, praktiese demonstrasies en eerlike gesprekke waarin egtheid veel belangriker as perfeksie is.
Dit is boonop my eerste TV-projek sedert ek ma geword het en dit dra by daartoe dat hierdie reeks vir my besonder spesiaal is. Die tydsberekening is perfek; dit voel asof alles net mooi in plek geval het.
Jy is self iemand wat baie balle tegelyk in die lug hou. Wat is jou geheim om balans te vind én te handhaaf?
Ek kan net so ’n vol lewe lei en soveel verskillende dinge aanpak omdat ek hulp het. Ek doen nie alles self nie, en ek wil ook nie. Ek is ongelooflik dankbaar vir my ondersteuningsnetwerk – my village – wat dit vir my moontlik maak.
Wat is vir jou die gevaartekens dat iemand tred verloor het met sy of haar eie gevoel van balans?
Ek weet presies hoe dit vir my lyk en voel wanneer ek my eie balans begin verloor. Dit gebeur gewoonlik nie oornag nie, en daarom sal die pad terug na jou beste self ook nie noodwendig vinnig plaasvind nie.
My ma vra gereeld: “Hoe eet ’n mens ’n olifant?” Die antwoord is eenvoudig: stukkie vir stukkie. Dieselfde geld wanneer jy weer balans wil vind of jou lewe wil verbeter. Wees geduldig met jouself.
Vat dit een dag en een tree op ’n slag, en luister werklik na jou liggaam en vra jouself af: wat het dit nou nodig?
Jy glo dat ’n mens nooit moet ophou groei en leer nie. Waarop fokus jy tans in jou eie groeiproses?
Asemwerk. Ek het my studie deur Breathwork Africa vir eers uitgestel, maar beplan om dit volgende jaar voort te sit. Intussen beoefen ek steeds bewustelike asemhaling. Iets besonders gebeur wanneer ons ons aandag doelbewus na ons asem bring. Kykers gaan dit ook in een van die komende episodes ontdek.
My tweeling is tans besig met potty training, en glo my, dit verg baie geduld én diep asemteue! Ek het ook geleer dat dit vir my kleuters makliker is om hul emosies te reguleer wanneer ek sélf kalm en gereguleer is. Soms – eintlik gereeld – begin balans bloot by die manier waarop jy asemhaal.

Sherlin Barends is die nuwe aanbieder van ‘Ons gesels balans’ op VIA. Foto: Verskaf
Wie is vandag jou grootste inspirasie?
My ouers inspireer my elke dag. Hulle is albei afgetree, maar hulle leef steeds sulke vol en betekenisvolle lewens.
Ek put ook inspirasie uit my jonger self. Daarom hou ek altyd ’n foto van myself as vyfjarige dogtertjie byderhand. Dit is vir my belangrik dat daardie dogtertjie trots op my sal wees; dat sy die dinge sal nastreef waarna sy verlang én omdat sy dit waardig is. Ek wil vir ons die lewe skep waarvan sy nog altyd gedroom het.
As jy enigiemand ter wêreld as gas op Ons gesels balans kon nooi, wie sou dit wees en waarom?
Die Amerikaanse aktrise Tracee Ellis Ross (Girlfriends, Black-ish). Sy inspireer my omdat sy ’n gebalanseerde lewe lei wat sy op haar éie voorwaardes gedefinieer het.
Daar is ’n aanhaling van haar wat ek graag onthou: “Ek leer elke dag om toe te laat dat die ruimte tussen waar ek nou is en waar ek wil wees, my inspireer – eerder as om my bang te maak.”
Ek is opreg dankbaar vir waar ek my tans bevind, maar terselfdertyd ook baie opgewonde oor alles wat nog voorlê.
Ons gesels balans word Donderdagaande om 18:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Hierdie seisoen word deur Vitaderm Professional Skincare geborg.
Lees ook: Breyton Paulse se ‘Boerbokke’-rugbyreeks is reg vir afskop
