Verskaf deur IndiHub Music
Juanita du Plessis, Franja du Plessis en Ruan Josh span kragte saam vir hul nuwe enkelsnit, Boots & All – ’n energieke, lekkerluister-liedjie oor die lewe met alles aanpak wat jy het.
Die titel sê eintlik alles: as jy iets doen, doen jy dit boots and all. Geen ge-halfpad nie. Geen terughou nie. Jy spring kop eerste in, gooi jou hele hart daarin en as dinge skeefloop, staan jy op en probeer weer.
Met ’n aansteeklike ritme, sterk country-invloede en ’n koor wat sommer vinnig in jou kop kom sit, bring Boots & All Juanita, Franja en Ruan se drie unieke stemme op ’n vars en speelse manier bymekaar.
Die liedjie se boodskap word vasgevang in die woorde “Alles of niks, ek gooi my hele hart in” – ’n eenvoudige lewensuitkyk waarmee al drie kunstenaars sterk identifiseer.
Maar die liedjie probeer beslis nie te ernstig wees nie. Die liedjie is gemaak om hard gespeel, saamgesing en op gedans te word. Van voete wat stamp op die beat van die drom tot ’n behoorlike yeehaw, het die snit ’n lekker loslit-energie wat hom ideaal maak vir die dansvloer, ’n langpad-playlist of enige plek waar daar gekuier word.

Die gesinsamespel gee die enkelsnit ook ’n besondere karakter. Juanita, Franja en Ruan het oor die jare elkeen hul eie plek in die Afrikaanse musiekbedryf gevestig, maar wanneer dié drie stemme saamkom, is daar ’n natuurlike gemak en energie wat moeilik nageboots kan word.
Boots & All is uiteindelik ’n liedjie oor voluit leef – saam met jou mense. Om nie bang te wees om te val nie, want jy weet julle sal weer saam opstaan.
Met sy positiewe boodskap, onweerstaanbare ritme en lekker saamsing-koor beloof dit om gehore vinnig op hulle voete te kry. Want soms is daar net een manier om die lewe aan te pak: Alles of niks. Boots & All.
Boots & All deur Juanita du Plessis, Franja du Plessis en Ruan Josh is 28 Augustus beskikbaar op alle digitale musiekplatforms. Die musiekvideo sal 4 September op alle digitale platforms beskikbaar wees.
Lees ook: Semi-Soet is gesinsvermaak wat soet op die sak sal val + WEN dubbelkaartjies
