Deur Maretha Botes (uit rooi rose Okt. 2022)
Wanneer dit by die instandhouding van jul verhouding kom (wat geldsake betref) is twee dinge belangrik, sê Carla Oberholzer, ‘n skuldadviseur by DebtSafe. Dit is gereelde en oop kommunikasie oor jul finansies, insluitend skuld, en tweedens, proaktiewe stappe om saam jul finansiele doelwitte te bereik. Sy beantwoord ‘n paar vrae hieroor:
Hoekom is oop geldgesprekke so belangrik in ‘n verhouding?
Dit is belangrik om as paartjie te weet wat elke party se finansiele prentjie weerspieël. Só kan julle saam aan finansiële doelwitte werk. As daar nie ‘n groter prentjie is nie, sal die verhouding uiteindelik geraak word. Die doel is tog om saam te groei en leer, veral wat geldsake betref, nie waar nie? Deur nie gereeld, of glad nie, oor geldsake te praat nie, kan ‘n verhouding laat verbrokkel. Dit skep wantroue en agterdog en vrae oor hoekom dit nodig is om inligting oor finansies geheim te hou. Dit kan daartoe lei dat die party wat in finansiele besluitneming uitgesluit word later minderwaardig voel.
Watter wenke het jy vir paartjies om gesprekke rondom geldsake te vergemaklik?
Sien geldgesprekke as iets wat elke dag moet plaasvind, en nie as ‘n taboe nie.
Hê empatie met jouself en jou maat se geldsituasie sonder om te oordeel en wilde aannames daaroor te maak. Aannames kan vertroue in ‘n verhouding verwoes.
Buiten die gesprek oor geld wat belangrik is, is dit belangrik dat julle as paartjie moet oorgaan in aksie om jul doelwitte as paartjie (wat nou finansiele doelwitte insluit) saam te kan bereik. Kyk wat is julle stand van sake en soek die volhoubaarste oplossing om julle te kan help.
Gaan sien dalk ‘n finansiële beplanner, raadgewer, jul bankier of in erge skuldsituasies ‘n geregistreerde skuldberader. As julle oop kommunikasie oor geld gevoer het en tot die gevolgtrekking gekom het dat een of albei van julle geldelike probleme het, gaan doen saam navorsing oor wat die beste sal wees om die situasie op te los. As julle reeds pogings aangewend het om skuld uit die weg te ruim en steeds sukkel, is skuldberading (onder die Nasionale Kredietwet) ‘n opsie.
As julle sukkel om mekaar se boodskappe en kommunikasie-gedrag te verstaan, is dit dalk ‘n goeie idee om met ‘n kundige te gesels wat julle kan help om oplossings hiervoor te vind.

Sien geldgesprekke as iets wat elke dag moet plaasvind, en nie as ‘n taboe nie. Foto: Mikhail Nilov, Pexels
Hoekom sukkel sommige paartjies om oor geld te praat?
Die redes wissel. Soms het dit te doen met hoe iemand grootgeword het. As jou ouers nooit geldgesprekke gehad het en jou daarby betrek het nie, het jy nie die raamwerk om dit self aan te voer nie.
Dit was nooit vir jou normaal om oor geld of skuld te praat nie. Dit kan ook wees dat jy in die verlede oordeel ervaar het oor hoe jy jou geldsake bestuur en bloot nie vir kritiek kans sien nie. Dit kan ook moontlik wees dat jy of jou geliefde reeds in ‘n moeilike geldsituasie sit en skaam of verleë daaroor is. Dit is menslik om in so ‘n situasie nie daaroor te wil praat nie. In so ‘n geval raak oop geldgesprekke ‘n tameletjie.
Wanneer is dit tyd om ‘n finansiële kenner te sien?
Die meeste mense voel dat hulle eers op ‘n latere stadium van hul lewe van ‘n finansiele kenner gebruik wil maak. En eintlik is dit ‘n kwessie van hoe vroeër, hoe beter. Deur vroegtydig jou finansiele beplanning op die regte pad te kry, vermy jy om in ‘n latere stadium heelwat herstrukturering van jou geldsake te moet doen. Deur so gou moontlik vir aftrede te begin wegsit, in die regte produkte en op die regte platforms te belê, kan noemenswaardige voordele oor tyd inhou.
Lees ook: Finansiële mishandeling en wetlike beheer | rooi rose
