Ons het ’n paar jaar gelede vier weke se kosblikresepte saamgestel. Hier is ’n handvol van die resepte:
Herderspastei met basiese maalvleissous
Genoeg vir 4

Bestanddele
- 15 ml (1 e) sonneblomolie
- 1 klein ui, fyn gekap
- 600 g maalvleis
- 1 wortel, gerasper
- 375 ml (1½ k) tamaties, gekap
- 30 ml (2 e) tamatiepuree
- 15 ml (1 e) Worcestershire-sous
- 125 ml (½ k) hoenderaftreksel
- 250 ml (1 k) bevrore ertjies
- ’n hand vol gekapte pietersielie
Kapokaartappelbolaag
- 3 aartappels, geskil en in blokkies gesny
- 80 ml melk
- 30 g (3 e) botter
- 250 ml (1 k) gerasperde cheddarkaas
- gerasperde neutmuskaat
Metode
- Verhit die olie in ’n middelslagkastrol oor hoë hitte.
- Voeg die ui by en soteer vir 1-2 min. of tot sag.
- Voeg die maalvleis by en soteer vir 5 min. of tot die vleis bruin is en breek moontlike klonte met ’n houtlepel.
- Voeg die wortel, tamaties, puree, Worcestershire-sous en hoenderaftreksel by. Bring tot kookpunt en verlaag die hitte. Laat prut vir 10 min. of tot die mengsel effens begin verdik.
- Kook intussen die aartappels sag en geur met sout. Roer die ertjies en pietersielie by. Haal van die hitte af en hou eenkant.
- Kapokaartappelbolaag: Dreineer die aartappels en sit terug in die kastrol.
- Voeg die melk, botter en 2/3 van die kaas by en druk fyn.
- Geur met neutmuskaat. Verhit die oondrooster.
- Sit die maalvleis in 4 oondvaste bakkies met ’n inhoudsmaat van ±250 ml (1 k), skep die kapokaartappels bo-oor en strooi die oorblywende kaas oor.
- Sit die bakkies op ’n bakplaat en sit vir 4-5 min. in die oond of tot die kaas gesmelt en goudkleurig is.
Mout-en-jogurt-doopsous met vrugte
Genoeg vir 6

’n Heerlike en heilsame snoephappie vir kinders.
Bestanddele
- 250 ml (1 k) volroom- Griekse jogurt
- 5 ml (1 t) vanieljegeursel
- 15 ml (1 e) heuning
- 30 ml (2 e) moutmelkpoeier (Horlicks)
- 125 ml (½ k) gekapte neute
- 125 ml (½ k) klapper
- verskeidenheid vrugte om te doop, soos aarbeie, dik skywe piesang en appelkwarte.
- stokkies of vurkies om in die vrugte te druk om die doopslag te vergemaklik
Metode
- Meng al die bestanddele tot voor die neute in ’n bakkie.
- Sit die neute en klapper in twee afsonderlike bakkies.
- Pak die gesnyde vrugte uit op bordjies. Die kinders doop eers die vrugte in die jogurtsous en rol dit dan in die neute en/of klapper.
Nog idees: Maak ’n vinnige doopsous vir allerlei groente soos selderystokkies en worteltjies: Meng gelyke hoeveelhede gladde maaskaas met volroom- Griekse jogurt, geur met sout en peper en gekapte kruie soos pietersielie of vinkel.
Broodjies met maaskaas en aarbeikonfyt
Genoeg vir 2

Gebruik liefs volgraanbrood vir die kinders se toebroodjies – hulle het die vesel in hul dieet nodig én dis gesonder. Sny met ’n stervormige koekiedrukker ’n patroontjie uit die boonste snytjie van elke toebroodjie om die broodjie mooier te laat lyk.
- 4 snye volgraanbrood
- margarien
- geroomde maaskaas en aarbeikonfyt
- Sny met ’n koekiedrukker ’n vormpie uit die boonste snytjie van elke toebroodjie.
- Smeer genoeg margarien op die onderste broodjie gevolg deur maaskaas.
- Smeer laastens ’n lagie aarbeikonfyt oor en sit die broodjie met die vormpie bo-op.
Onthou wanneer jy toebroodjies maak:
- Gebruik ’n verskeidenheid brode soos rogbrood en ciabatta sodat die moeilike eters nie verveeld raak met die daaglikse broodjies nie. Pitabrode en tortillas is ’n lekker variasie op die gewone broodjie.
- Smeer die broodjies met gegeurde botter: Maak die botter sag en geur dit met suurlemoenskil of ’n verskeidenheid gekapte kruie en rol dit in rolletjies in kleefplastiek toe. Gebruik wanneer nodig.
- Fyn biltong gemeng met botter is heerlik, en ewe lekker as dit oor geroomde maaskaas gestrooi word.
- Sit oorskiet soos boerewors, hoender, maalvleis of lamsvleis op die toebroodjies. Gerookte en geblikte vis soos forel, snoek, salm en tuna werk uitstekend.
- Smeer die botter tot op die hoeke van die broodjies sodat die brood nie pap word of uitdroog nie.
- Avokado is superkos vir kinders – gooi net suurlemoensap oor sodat dit nie verkleur nie.
- Rasper aan die begin van die week genoeg kaas en hou dit in ’n digsluitende houer in die yskas om tyd te bespaar.
Springmielies met heuning en klapper
Genoeg vir baie

- Sonneblomolie, genoeg om die boom van ’n middelslagkastrol te bedek
- ½ k springmielies
- 250 g (1 k) suiker
- 100 ml (1/3 k + 2 e) water
- 185 ml (3/4 k) heuning
- 80 g (1 k) klapper
- papierkegels
- Gooi genoeg olie in ’n middelslagkastrol om die boom te bedek.
- Gooi die mieliepitte in en skud die kastrol ’n bietjie sodat die pitte eweredig oor die boom versprei is en die pitjies met ’n bietjie olie bedek word.
- Sit die deksel op en verhit die kastrol oor matige hitte. Hou die deksel op tot die pitte ophou skiet.
- Smelt intussen die suiker in die water oor lae hitte.
- Laat kook ná dit heeltemal gesmelt het. Hou die heuning ’n entjie bokant die mengsel en giet stadig by. Kook vir nog ’n minuut.
- Giet die suikermengsel oor die springmielies en roer die klapper deur. (Ons het vierkantige velle papier in kegels gerol en die springmielies daarin geskep, maar jy kan dit ook in kleurryke papierkoppies of kolwyntjiepapiertjies gooi.)
Heuning-en-sesamsaad-hoenderboudjies
Genoeg vir 6 kindertjies

Dié boudjies is heerlik taai, en kan ook oor die kole gebraai word.
- 60 ml (¼ k) heuning
- 60 ml (¼ k) sojasous, verkieslik ligte soja wat minder sout bevat
- 30 ml (2 e) olyfolie
- 30 ml (2 e) sesamsaad
- 12 hoenderboudjies
- Meng al die bestanddele tot by die sesamsaad in ’n glas- of plastiekbak en laat lê die hoenderboudjies vir sowat ’n halfuur daarin in die yskas.
- Verhit die oond tot 180 °C en bak die hoender vir ±20 min. tot gaar. Sit voor met kapokaartappels of aartappelslaai en soetmielies.
Hoenderburgers in pitabroodjies
Genoeg vir 4

Die gekrummelde hoenderstukke is gou gaar en heerlik op toebroodjies en burgers of in pitas en tortillas.
- 2 hoenderborsies, vel en been verwyder
- 125 ml (½ k) koekmeel, gegeur met sout
- 125 ml (½ k) vars broodkrummels, (gebruik liefs volgraanbrood)
- 60 ml (¼ k) gerasperde parmesaan
- 2 eiers, liggies geklits in ’n klein bakkie
- 4 klaarbereide pitabroodjies, verhit volgens die vervaardiger se aanwysings
- 125 ml (½ k) bevrore soetmieliepitte, ontvries
- ’n hand vol kersietamaties, gehalveer
- slaai of kruieblaartjies vir opdiening
- ’n skeppie mayonnaise vir elke pitabroodjie
- Sny die hoenderborsies in die dwarsste middeldeur sodat jy 4 identiese, dunner filette het. Sit elke filet tussen twee stukkies kleefplastiek en slaan met ’n rolstok plat.
- Sit die koekmeel in ’n bakkie en meng die krummels en kaas saam in ’n ander bakkie.
- Doop elke filet eers in die eier, laat die oortollige eier afloop, dan in die koekmeel en rol laastens in die krummels.
- Die filette kan in die stadium in afsonderlike vriessakkies gevries word, of onmiddellik in ’n bietjie olyfolie in ’n pan gebraai word.
- Braai oor matige hitte, anders brand die krummels aan voor die hoender gaar is.
- Sny elke filet middeldeur en “bou” die pitabroodjies so: Sny elke pitabroodjie middeldeur en sit ’n halwe filet in elk gevolg deur mielies, tamaties en blaartjies.
- Skep laastens ’n bietjie mayonnaise in elke helfte.
Basiese macaroni-en-kaas
Genoeg vir 4

Dis maklik om die geurige, basiese macaroni te maak. Ons het soetmieliepitte, ertjies en klein kersietamaties deur die macaroni gemeng, maar jy kan dit net so voorsit.
- 200 g macaroni
- 125 ml (½ k) room
- 310 ml (1¼ k) melk
- 375 ml (1½ k) gerasperde cheddar
- sout en swartpeper na smaak
- gerasperde neutmuskaat na smaak
- Kook die macaroni in ’n kastrol met kokende water en ’n bietjie sout tot nét sag. Dreineer en sit terug in die kastrol. 2 Voeg die room, melk en kaas by en plaas oor lae hitte tot die kaas gesmelt is. 3 Geur met sout, peper en neutmuskaat. Roer versigtig deur en dien op.
Maniere om dit voedsamer te maak
- Voeg ’n hand vol soetmieliepitte, ertjies en gekapte kersietamaties net voor opdiening by.
- Vlok ’n gerookte forel, snoek- of makrielfilet met jou vingers en roer deur die pasta. Geblikte tuna of salm wat deeglik gedreineer is, werk ook goed. Gaar oorskietvleis soos hoender of lamsvleis kan vinnig deur die macaroni geroer word.
- Popeye se kos: Was ’n hand vol spinasieblare deeglik, sny die stingels af en soteer oor lae hitte in ’n pannetjie met ’n bietjie olyfolie. Roer deur die macaroni.
- Kombineer dié basiese resep met die basiese maalvleismengsel van Maandag, Week 1. Rasper ekstra kaas oor en sit vinnig onder die oondrooster vir ’n heerlike aandete.
Heilsame snoephappie-idees
- AVOKADO is superkos vir kinders en ’n lekker middagete.
- GROENTE soos kersietamaties, klein worteltjies, mielies, ertjies en komkommerstokkies werk goed.
- SPRINGMIELIES is ’n goeie alternatief vir aartappelskyfies.
- DROËVRUGTE, neute en sade is voedsaam en uitstekende bronne van energie.
Lees ook: Lekker maklike aandetes vir ’n week

