kategorieë: Ons menseBekendes

Adè van Heerden gesels oor Pink Day 2018

Deur Catherine Schenck. Foto’s verskaf.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Vrydag, 9 Februarie staan bekend as #PitchUpInPinkDay en op Saterdag, 10 Februarie (#PinkDay) sal die Proteas vir Indië aanpak ter bewusmaking van, en fondsinsameling vir, borskanker.  Mej. Suid-Afrika, Adè van Heerden, is een van hierdie veldtog se gesigte en sy het ’n tydjie afgestaan om met ons daaroor te gesels.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Vertel ons meer van die doelwitte van Pink Day 2018 en hoekom dit belangrik is om daaraan deel te neem?

Pink Day skep bewusmaking oor borskanker deur middel van sport. Soos ons weet, is ’n aktiewe lewenstyl baie belangrik vir goeie gesondheid en die feit dat ’n nasionale sportspan in pienk speel om te help met die bewusmaking van borskanker, trek bae aandag! Die doel was om vanjaar 1 miljoen rand in te samel vir die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal se Borskankersentrum. Dit is ook die eerste jaar wat ons mense aanspoor om op Vrydag, 9 Februarie pienk te dra en hul foto’s op sosiale media te deel met die hutsmerk #PitchUpInPink. Daar is verskeie ander maniere om te help en donasies te maak. Besoek die webblad om meer uit te vind.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Waarom dink jy is borskankerbewustheid belangrik?

Een uit elke 28 vroue in Suid-Afrika word met borskanker gediagnoseer en dit is nie nét vroue wat borskanker kry nie. “Early detection saves lives” is ’n belangrike leuse rondom kankerbewuswording en hoe meer ons mense kan bewus maak oor die tekens, en die belangrikheid van self-ondersoeke, hoe beter is die kans om daardie statistiek te verander.

As iemand wat self ’n mediese dokter is, watter raad sal jy vir vroue gee rakende borskanker en om daarvoor te toets?

As mediese dokter verstaan ek hoe belangrik dit vir ons as vroue (en natuurlik ook mans) is om maandeliks self-ondersoeke op ons borste te doen. Niemand ken jou liggaam beter as jyself nie en as jy jouself gereeld ondersoek, kan jy tot die kleinste verandering in borsweefsel onmiddellik optel.

Wat doen Charlotte Maxeke-hospitaal vir borskankerbehandeling?

Borskanker plaas ’n enorme finansiële las op die publieke sektor. Die hospitaal se eenheid probeer egter om die proses te stroomlyn en effektiwiteit te verhoog sodat pasiënte in vroeë stadiums van die kanker behandel kan word. Hoe vroeër daar met behandeling begin word, hoe groter is die kanse op genesing, wat dan ook die las op die staat se sak verlig.

Hoe kan die publiek betrokke raak by #PitchUpInPink en #PinkDay?

Die hele land kan deelneem aan #PitchUpInPink op Vrydag, 9 Februarie. Ons doen ’n beroep op mans en vroue om ten volle in pienk geklee te wees. Sulke bewegings laat die kollig val op probleme wat nie altyd die nodige aandag trek nie.

Jy is oorspronklik as Eerste Prinses gekroon, maar moes die titel van Mej. SA oorneem toe Demi-Leigh Nel-Peters as Mej. Heelal gekroon is. Jy en Demi-Leigh is ook vriendinne. Wat doen julle wanneer julle kuier?

Ek en Demi het albei besige skedules maar wanneer ons wel bymekaar kan uitkom, gesels ons graag oor ’n lekker koppie koffie en ontspan sommer net in mekaar se geselskap.

Lees hier oor Demi-Leigh se kroning as Mej. Heelal

Lees hier ons onderhoud met Demi-Leigh

Mej. Indië, Manushi Chhilar, wat nou ook Mej. Wêreld is, het haar rok vir jou geleen in een van die uitdunrondes tydens die Mej. Wêreld-kompetisie nadat joune geskeur het. Dit was nogal ’n gawe gebaar, al is daar egter die persepsie dat sulke geleenthede erg kompeterend is. Kan jy vir ons ’n kykie gee agter die skerms van sulke kompetisies en hoe dit werklik is om soveel jong vroue te ontmoet wat almal vir dieselfde titel mik?

Mej. Wereld is ’n ervaring wat ek beslis nooit sal vergeet nie. Om saam met 118 dames van regoor die wêreld vir ’n maand lank deur ’n vreemde land te toer, is nie altyd maklik nie. Ek het egter van die geleentheid gebruik gemaak om as mens te groei op maniere wat ek nie eers gedink het moontlik is nie. Die hele groep het oor die algemeen baie goed oor die weg gekom en ek het ’n ietsie van Frans, Spaans en selfs ’n bietjie Italiaans geleer. Ons het vir mekaar stories en avonture van ons kinderdae en ons land vertel op lang busritte. Aan die einde van ’n uitmergelende dag wanneer almal se voete seer was, het ons mekaar ondersteun en gedra – soms letterlik en soms emosioneel. Ons leef nie meer in ’n era waar vroue afbrekend is teenoor mekaar nie. Ons het mekaar werklik aangemoedig om net die beste weergawe van onsself te wees.

Ons leef nie meer in ’n era waar vroue afbrekend is teenoor mekaar nie

Hoe beïnvloed jou agtergrond as mediese dokter jou werk as Mej. SA?

As ’n mediese dokter wat in die publieke sektor werk, werk ek met mense in hul mees kwesbare oomblikke. Dit is waar ek geleer het dat die wêreld die sagte harte van vroue meer nodig het as enigiets anders. As Mej. SA probeer ek altyd om iets sag en positief na die tafel te bring, dit is immers waar ons krag as vroue lê.

Werk jy steeds as dokter? Wat is jou planne wanneer jou tydperk as Mej. SA verstryk?

Om Mej. SA te wees verg 100% van my aandag op die oomblik. Ek voel werklik geroep om met jong dames te werk en ek probeer om my mediese agtergrond en Mej. SA so te integreer dat dit ’n platform skep waar meisies van alle ouderdomme iets van hulself as vrou kan leer. Vroue moet sterk wees en saamstaan en as ek ’n impak kan maak deur jong dames te inspireer om in hulself te glo, hulle tot aksie oor te haal en ’n gemeenskap van dinamiese jong vroue te kan bou, sal dit my grootste drome oortref.

Jy is ook ’n tweede luitenant in die weermag. Wat is die belangrikste les wat jy uit hierdie ervaring geleer het?

Die SANDF het my finansieel ondersteun om my studies as mediese dokter te kon voltooi. Dis altyd goed om in ’n gestruktureerde en dinamiese omgewing te werk, en as jong dokter het dit my dissipline geleer.

Foto verskaf

Geestesgesondheid is baie belangrik vir jou en is een van jou fokuspunte as Mej. SA. Hoe wil jy belangrike punte in jou werk bewerkstellig?

Ek glo dat as jy as mens ’n verandering en ’n impak wil maak, moet jy oor ongemaklike kwessies soos geestesgesondheid kan praat. Jongmense ondervind toenemend druk om perfek voor te kom as gevolg van die beeld wat bekendes op sosiale media skep. In die mediese veld sien ons ’n kommerwekkende styging in angs, depressie en eetversteurings onder tieners: daarom probeer ek om so normaal en “werklik” voor te kom as wat ek kan. Ek verskyn gereeld sonder grimering, sweterig in die gimnasium of in my pajamas wanneer ek net wakker word op sosiale media platforms en so deel ek my “minder perfekte”-oomblikke.

Wat is die lekkerste en moeilikste deel daarvan om Mej. SA te wees?

Ek kom daagliks met nuwe en interessante mense in aanraking. Ek leer iets nuuts by elke persoon en dit inspireer my om as mens te groei, maar elke ontmoeting neem ook emosionele energie uit ’n mens. Jy kan maklik uitbrand as jy nie omsien na jou eie liggaam en gees nie.

As daar een ding is wat jy as Mej. SA kan regkry, wat sal dit wees?

Vir jong dames om na my te kyk en te sê: “Sy is nes ek, sy het net groot gedroom en hard gewerk en daarom kan ek ook my drome najaag.”

Vertel ons meer van jou gesin en waar jy vandaan kom?

Ek het twee sussies wat my absolute rotse is. Die drie van ons het ’n tyd lank saam in Kaapstad gewoon en hulle twee was deurgaans met die Mej. SA en Mej. Wêreld-proses my steunpilare. Saam kan ons drie enigiets vermag en ek hoop dat elke vrou daardie tipe ondersteuning in haar lewe kan ervaar. Ek dink dit is verseker die rede waarom ek so passievol is om ’n “vroue-netwerk” te skep. My ouers woon in Heroldsbaai en ek kan met sekerheid sê dat my ma my grootste ondersteuner van dag een af is. Sy glo amper meer in my drome as ekself.

Wat het jou geïnspireer om deel te neem aan Mej. SA?

Beslis die feminis in my. Ek wil graag hê jong dames moet kan opkyk na ’n Mej. SA wat ’n dinamiese jong vrou is. Die era van “net ’n mooi gesiggie” is verby. As vroue is ons multidimensioneel. Sag en sterk, intelligent en beeldskoon.

Jy is baie lief vir kosmaak. Wat is jou gunsteling-resep?

Ek is vreeslik lief daarvoor om tyd in die kombuis te spandeer, veral as ek saam met my sussies en ma kan kook terwyl ons almal lekker saam sing en dans. Ek is gewoonlik op “nageregdiens” en in die somer is daar niks lekkerder as ’n pavlova met vars vrugte, roomys en ’n suurlemoenvla nie.

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.