Die legendariese Anton Goosen is Woensdagaand tydens die glansryke Aitsa Musiektoekennings vereer vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek. Goosen, wat volgende jaar 80 word, het oor meer as vyf dekades nie net die klankbaan van Afrikaanse musiek help vorm nie, maar ook die grondslag gelê vir ’n hele generasie kunstenaars. Hy staan bekend as die “liedjieboer” en word as die vader van Afrikaanse rock beskou. Met hierdie eerbewys erken die Aitsa Afrikaanse Musiektoekenningstrust sy belangrike rol in die ontwikkeling, bevordering en bewaring van Afrikaanse musiek.
Hier is ’n terugblik op sy merkwaardige loopbaan:
Anton Goosen is op 5 Maart 1946 op Middelburg in die Oos-Kaap gebore en word volgende jaar 80 jaar oud. Hy is in die volksmond bekend as die liedjieboer en het meer treffers agter sy naam as enige ander Suid-Afrikaanse sanger.
Na sy skoolopleiding studeer hy aan die Heidelbergse Onderwyskollege waar hy ’n Diploma in Psigopatologie vir spesiale onderrig vir verstandelik gestremde kinders verwerf.
Daarna word hy ’n onderwyser by Suidheuwels Laerskool en toe by Alberton English Medium Primary en daarna tussen 1970 en 1974 is hy die Afrikaanse onderwyser by St. Stithian’s Preparatory School. In hierdie tyd skryf hy ’n musiekblyspel, Jantjie ko’ huistoe, wat deur die leerlinge van St Stithians opgevoer word.
In 1974 verlaat hy die onderwys en werk as deeltydse musiekresensent by die Beeld-koerant en ook in dieselfde hoedanigheid onder die skuilnaam Jantjie Blom by Huisgenoot.
Dis juis in die hoedanigheid wat hy vir Sonja Herholdt ontmoet. Sy begin om van sy liedjies op te neem en dit lei tot ’n baie suksesvolle, jarelange werkverhouding en treffers soos Jantjie, Waterblommetjies, Harlekyn, Hanoverstraat, Trein na Matjiesfontein en Oberammergau.

In 1979 het Anton die temamusiek vir die satiriese rolprent Pretoria O Pretoria! geskryf wat die oorspronklike weergawe van Kruidjie-roer-my-nie bevat het. Die liedjie was aanvanklik in sy oorspronklike vorm verban en is later met aangepaste lirieke heruitgereik en het ’n reuse treffer in Afrikaans geword.
Hy skryf ook vir Carike Keuzenkamp (Hoeka toeka en Byeboerwa) en Laurika Rauch (Straattroebadoere en Atlantis).
Saam met Merwede van der Merwe werk hy as musiekadviseur en liedjieskrywer aan die opspraakwekkende televisieprogram, Musiek en Liriek.

Goosen het ook ‘n rock-grondslag gelê vir nuwe opkomende kunstenaars om te volg. In 1983 doen Goosen die regie van Wildebeest, die eerste Afrikaanse rock-album.
Hy onderneem uitgebreide toere voor vol sale regdeur Suid-Afrika en Namibië, sowel as die Kongo, België, Nederland, Spanje, Australië, Namibië en Mosambiek en tree ook 13 keer in Londen op.
Hy reik in 1979 sy langspeler (Boy van die suburbs) uit, wat ‘n eerste vir ’n skrywer-sanger in Afrikaans was. Die liedjie Blommetjie gedenk aan my op hierdie album word allerweë beskou as die eerste rockliedjie in Afrikaans. Hiernaas is Anton bestempel as die “Vader van Afrikaanse rock-musiek”.
In samewerking met onder andere Laurika Rauch, Koos du Plessis, Jannie du Toit, Louis van Rensburg en Clarabelle van Niekerk was Anton die voorloper van die musiek en lirekbeweging in 1979.
Hierna volg verskeie verdere albums waarvan elf goue status bereik.
’n Geraas-toekenning word in November 2001 aan hom gemaak vir sy lewensbydrae tot Afrikaanse musiek en in Mei 2002 verower hy sy tweede Sama-toekenning vir Beste Afrikaanse kontemporêre album met Vis innie bos, hierdie album is deur kritici beskou as die eerste suksesvolle wêreldklas musiek album in Afrikaans, hiermee breek Goosen weereens nuwe grond vir Afrikaans.
In April 2002 word hy aangestel as beskermheer van die Aardklopfees.
Hy ontvang ’n toekenning vir lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek by die Huisgenoot-skouspel in September 2003 en in Januarie 2004 word hy toegelaat tot die South African Rock Digest’s Hall of Fame.
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer hom in 2009 met ’n eeufeesmedalje vir sy baanbrekerswerk in die kunste en in dieselfde jaar ontvang hy ’n Suid-Afrikaanse Musiekprys (Sama-toekenning) vir sy lewenswerk, saam met Yvonne Chaka Chaka. Saam het die twee kunstenaars, bygestaan deur die Lucky Dube-orkes, Pampoene oppie dak vir ‘n gehoor van 6 000 grootliks Engelssprekende gehoor by Sun City gesing.
Die ATKV vereer hom in 2010 met ’n toekenning vir sy bydrae tot Afrikaans as liedjieskrywer. Sy bydrae tot Afrikaanse musiek word verteenwoordig deur die 19 Liedjies van Anton Goosen wat in die FAK Sangbundel Volume 2 wat einde 2012 uitgereik is, opgeneem is – dit is meer liedjies as enige ander liedjieskrywer in Afrikaans.
Op 21 November 2016 het die FAK die prestige toekenning vir besondere kultuurprestasie aan Anton Goosen toegeken vir sy lewenslange bydra tot die bevordering van Afrikaanse musiek.
En op 5 November 2025, in sy tagtigste lewensjaar, vereer die Aitsa Afrikaanse Musiektoekenningstrust vir Anton Goosen met ’n Aitsa-toekenning vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek wat oor meer as 50 jaar strek.
Lees ook: Suidooster vier ‘n dekade! Hier’s wat jy dalk nie van dié mylpaal-sepie geweet het nie
