kategorieë: Leef gesondGesondheid

Alkoholgebruik: op die waterkar

Al ooit gewonder wat ’n maand sonder alkohol vir jou gesondheid kan doen? Sommer baie, sê dié wat die drankies ’n maand lank vir water verruil het. En een van die grootste voordele? ’n Mooier vel en minder plooie. Ná die oordaad van die vakansie en Januarie se dun beursie is dit in elk geval ’n goeie idee om ’n nuwe blaadjie om te slaan.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Wat sê die wetenskap?

Die hoeveelheid vet in jou lewer neem met 15% af. Hoekom is dit belangrik? ’n Oormaat alkohol laat vetselle in die lewer ophoop wat later tot permanente skade en lewersirrose kan lei. New Scientist het ’n studie onder vrywilligers gedoen waar tien mense vir dertig dae geen alkohol gebruik het nie, en vier hul gewone gang gegaan het. Die vrywilligers was gewone sosiale drinkers, nie mense met ’n alkoholprobleem nie. Die goeie nuus is dat selfs net dertig dae se geheelonthouding ’n verskil van 15% gemaak het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Jy verloor gewig. Hoekom? Alkohol is hoog in kilojoules wat jy selde as deel van jou dieet inreken. In die New Scientist-studie het vrywilligers in ’n maand 2% van hul liggaamsgewig verloor sonder om te oefen of minder te eet.

Baie alkoholiese drankies is gelaai met suiker. Dis leë kilojoules sonder voedingstowwe wat jou gewig laat aansit. Jou liggaam kan nie alkohol stoor nie en daarom kry die metabolisering van alkohol voorrang. Dit beteken jou liggaam kan nie vette en suikers doeltreffend verwerk nie, wat jou metabolisme vertraag en jou gewig laat aansit.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Jou vel is minder ontwater en lyk vogtiger. Dit het ook vel-aandoenings soos rosacea, ekseem en skilfers verbeter.

Jy slaap beter. Alkohol maak jou aanvanklik lomerig en jy raak maklik aan die slaap, maar dit kan jou slaappatroon benadeel as jy laat saans iets drink. Dit beïnvloed die gehalte van jou slaap omdat die prosessering van alkohol diep slaap kan verhinder. Volgens dr. André van Jaarsveld van BSS-Africa, wat in uitputting en slaapprogramme spesialiseer, neem elke drankie sowat ’n uur om uit jou stelsel te werk. As jy voor agt in die aand twee glase wyn drink, sal dit eers teen tienuur uitgewerk wees. Die bevindings van ’n studie wat in die joernaal Alcoholism: Clinical and Experimental Research gepubliseer is, toon dat drankies kort voor slapenstyd die alfagolfpatrone in jou brein laat toeneem, wat ’n aanduiding is dat drinkers slegter slaap.

Mense wat drink terwyl hulle eet, eet tot 30% meer as dié wat nie drink nie. Navorsers meen dat alkohol jou sintuie verskerp wat jou meer laat eet. Dit breek ongelukkig ook jou wilskrag af en jy sê moeiliker nee.

Alkoholgebruik kan jou risiko op kankers van die mond, lewer, bors, kolon en rektum laat toeneem.

Sukkel jy met sooibrand? Eerstens sneller die suur in wyn sooibrand, maar die alkohol in drankies verslap die klep tussen die maag en die slukderm wat suur in jou slukderm laat opstoot en die binnewand van die slukderm irriteer. Rooiwyn is selfs erger as witwyn.

Dertig dae sonder alkohol

Dr. Niall Campbell, ’n alkoholverslawingskenner aan The Priory-hospitaal in Londen, verduidelik wat in die loop van ’n maand met jou gebeur as jy van gemiddelde alkoholinname na geen alkohol oorslaan.

Ná 24 uur

• Jou liggaam begin onmiddellik om die alkohol uit jou stelsel te werk en jou detoks begin sommer dadelik.
• Die eerste effek is dat jou bloedsuiker normaliseer.
• Jou oë is helder.
• As jy gewoonlik met ’n babelas wakker word, sal jy helder dink en sonder ’n hoofpyn wakker word.
• Alkohol dehidreer jou en daarsonder sal jou vel dadelik plomper lyk met minder plooie. Alkohol kan die kapillêre vate in jou vel laat swel en so verantwoordelik wees vir die rooi skynsel in jou gesig.
• Jou lewer moet oortyd werk om alkohol af te breek. Nou kan die orgaan aan sy normale funksies aandag gee.
• Jy slaap dieper en voel meer uitgerus.

Ná sewe dae

• Jou gemoed voel dalk ligter. Mense drink soms om van hul sorge te vergeet, maar omdat alkohol ’n depressant is, maak dit jou neerslagtiger.
• Alkohol laat jou hart harder werk en kan hartkloppings gee omdat dit bloedvate verslap. Daarsonder behoort jou hartklop laer te wees wat oefening makliker maak.
• Jy begin gewig verloor sonder die leë kilojoules van alkohol.
• Jou slaappatrone behoort ná ’n week te verbeter. Alkohol ontwater jou en dus word jy snags van die dors wakker. As jy dit gereeld moet doen, beïnvloed dit jou slaappatroon.

Ná twee weke

• Alkohol is ’n groot oorsaak vir sooibrand. Ná 14 dae behoort dit te bedaar.
• Jy verloor steeds gewig. Verskuilde kilojoules in alkohol hoop maklik op in vetrolletjies. Een groot glas wyn (250 ml) van 13% alkohol bevat 852 kJ. Dis byna dieselfde as ’n sjokoladestafie (946 kJ), of ’n gewone hamburger (1 071 kJ). Twee glase wyn (1 704 kJ) is ’n ekstra maaltyd – ’n porsie lasagne van Woolworths bevat 1 776 kJ.

Ná drie tot vier weke

• Jou bloeddruk verbeter. Te veel alkohol verhoog jou bloeddruk, wat verder opgejaag word as jy weens jou drinkgewoonte gewig aansit.

Ná ’n maand

• Jou vel lyk aansienlik beter. Mense vertel hoe dit jare van hul gesig vee – sonder enige duur roompies en spesiale gesigbehandelings.
• Jy behoort vroliker te voel en meer energie te hê. Hoewel alkohol jou aanvanklik opwen, voel jy uitgeput en moeg wanneer dit uitgewerk is. Omdat alkohol ’n depressant is, kan dit jou swartgallig maak.
• Jy spaar geld. ’n Goedkoop bottel wyn kos sowat R40. Twee glase wyn (2 x 175 ml) per dag bring jou by 14 bottels wyn per maand. Teen R40 elk spaar jy R560 per maand en ’n reuse R6 720 per jaar. Mense drink gewoonlik meer oor naweke, so jy spaar waarskynlik baie meer.
• As jy probeer swanger raak, het jy nou ’n beter kans.

Hoeveel energie in jou drankie?

As ons gewig wil verloor, rantsoeneer ons kos, maar drankies word nie altyd oor dieselfde kam geskeer nie. Tog kan een drankie sommer ’n hele maaltyd verteenwoordig as jy nie oppas nie. Selfs mense wat hulself as gemiddelde drinkers sien (een gewone grootte glas wyn van 175 ml per aand bevat 595 kJ) kan tot 17 850 kJ per maand deur drankies inneem. Dis 21 balletjies roomys per maand. G’n wonder dis moeilik om die rolletjies in toom te hou nie.

Volwassenes wat elke dag drink, kan tot 10% van hul daaglikse energie deur drankies inneem.

Met bier moet jy jou storie ken, want boetiekbiere kom in verskillende sterktes en groottes. ’n Gewone blikkie bier (330 ml) bevat sowat 500 kJ. Een klein sopie (25 ml) spiritualieë is ongeveer 218 kJ.

As jy boonop mengeldrankies drink, vererger die soet koeldrank waarmee jy die alkohol meng die saak. Een gewone sopie tequila bevat 420 kJ, maar ná jy dit in ’n gevriesde Margarita omtower het, is dit nader aan 2 100 kJ (dieselfde as ’n kaasburger). Boonop proe jy nie die alkohol in yskoue drankies so maklik nie, en is die kans dat jy dit vinnig drink en nog een bestel baie groot. Glase het ook deur die jare al hoe groter geword en is nou byna groot genoeg vir ’n goudvis.

Wat is ’n sopie?

Die aanbevole daaglikse riglyne verskil van lande, maar in Suid-Afrika word gereken dat een sopie 12 g alkohol bevat, wat omtrent gelyk aan 75 ml wyn is. Suid-Afrika val onder die eerste twintig lande wat alkoholverbruik betref. En 58% van padongelukke gebeur weens alkoholmisbruik.

Veilige alkoholverbruik is sowat 12–14 eenhede per week. Maar dit hang van jou geslag en gewig af. As jy min weeg en vroulik is, moet jy minder drink.

Doen jouself ’n guns en meet hoeveel wyn jou gewone drinkglas by die huis bevat. Dis waarskynlik meer as wat jy dink. Skinkers het ook ’n veel swaarder hand wanneer hulle hardehout en ander drankies by die huis skink.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.