kategorieë: Leef gesondGesondheid

Alles wat jy van brille, lensoorplantings en jou oë wat swakker raak, moet weet

Alles wat jy van brille, lensoorplantings en jou oë wat swakker raak, moet weet deur Salomé Delport

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Kyk net na al die fantastiese “onderdele” wat jy vir jou oë kan kry. En nie eendag nie. Nóú. Jy kan vandág nog jou oë opgradeer.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Oogchirurg Etienne van Aswegen van die Kaapse Ooghospitaal verduidelik wat alles moontlik is.

(Hou eers jou bril. Dit bly steeds een van die ongelooflikste waarde-vir-geld mediese ontwikkelings – en moontlik steeds die beste opsie vir jou.)

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Eers ’n bietjie agtergrond

Al dink jy jy sien perfek is jy, soos die meeste van ons, waarskynlik óf versiende óf bysiende. Jy voel asof jy 20/20-visie het omdat jou slim oog ’n plan maak dat jy optimaal sien.

Vir sig is die twee belangrikste dele van jou oog:

  • Jou ooglense, wat reg agter jou blou/bruin/groen/grys iris sit. Inkomende lig val deur die pupil op die lens, wat dit na die retina kaats.
  • Jou retina is ’n lagie ligsensitiewe selletjies wat agter in jou oogbal sit. Sodra lig op hulle val, stuur hulle dit as boodskappe na die brein, wat dit interpreteer as beelde – en so sien jy.

Wanneer sien jy skerp?

Dit gaan oor waar die lig op jou retina val, verduidelik Etienne. Daar is drie groepe van ons:

  • Lig vanaf veraf voorwerpe val presies op die retina, terwyl lig van naby voorwerpe net agter die retina val – perfek om skerp beelde te skep. Jy het ideale sig, en die dokter noem jou ’n emmetroop.
  • By ’n baie groot klomp van ons val die lig van ver voorwerpe vóór die retina, terwyl lig van naby voorwerpe op die retina self val. Jy kan dus naby skerp sien en moeiteloos ’n garingdraadjie deur ’n naald se oog steek, maar hoe verder dinge van jou af is hoe meer blindemol is jy. Jou dokter noem jou ’n mioop. Ons sê ons is bysiende.
  • By ’n derde groep van ons fokus die gereflekteerde lig van ver voorwerpe agter die retina, en die fokus vir naby voorwerpe val nog verder agter die retina. Hierdie groep het plus lense nodig, en word hiperope genoem. As jy die Suiderkruis kan sien maar nie ’n enkele woord op jou selfoon sonder ’n bril kan lees nie val jy in hierdie groep.
    Maar die meeste van ons sien taamlik goed, al is ons nie emmetrope nie. Die rede? Die spiertjies rondom jou ooglense “help” jou oog. Hulle trek jou ooglense ronder of plantter, sodat die inkomende lig op jou retina val. So sorg hulle dat jy skerp sien, al is jy ‘n mioop of hiperoop. Hierdie vermoë van jou oog om die fokuspunt te verbeter word “akkommodasie” genoem.

Hoekom ’n winkelbrilletjie op veertig?

Jou oog sorg deur akkommodasie jare lank vir 20/20- visie, of sig wat baie naby daaraan kom – tot iewers ná veertig.

Namate jy ouer word, word jou ooglense digter, net soos jellie al stywer raak hoe langer dit staan. Jou oogspiertjies kan die lense nie meer platter of ronder trek nie, maak nie saak hoe hard hulle probeer nie. Jou akkommodasie neem af, en jy moet ’n leesbril bysit, wat help deurdat dit die lig op die retina laat fokus. En nou word jy ’n presbioop genoem. Presbiopie kan nie met chirurgie reggestel word nie – maar daar is ander planne.

Al jou opsies

Eerstens, sê Etienne, kan niks jou ooit teruggee wat jy verloor het nie. “Ons kan jou sig soos dit nou is verbeter en jou mínder afhanklik van ’n bril maak. Maar moenie die advertensies glo wat sê jy gaan nóóit weer ’n bril dra nie. Dit is so dat party mense ná ’n operasie perfek sien, terwyl ander se sig steeds effens uit is, of met die jare verder verswak. As jy ouer as 45 is, kan jy steeds ’n +1,50 – +2,00-brilletjie benodig wanneer jy baie fyn wil sien – wat darem baie beter is as om geheel en al afhanklik van ’n bril te wees. Ek wil net hê mense moet realistiese verwagtings hê.”

1 ’n Bril

Betroubaar en goedkoop – van R100 by jou apteek tot R3 000 vir ’n goedkoper getoetste bril tot R20 000 en selfs meer vir ’n luukse- multifokale bril met ’n moderaam, en lense wat nie toewasem nie, vanself skoon bly en blou lig uitfiltreer. Die meeste mense benodig elke 3-5 jaar ’n nuwe bril.
Dit werk vir almal – miope, presbiope en hiperope.

2 Kontaklense

Betroubaar en betreklik goedkoop – van R1 000 vir drie maande se voorraad van herbruikbare lense tot R5 000 vir ’n jaar se een-dag-lense.
Maar kontaklense werk nie vir almal nie. Baie mense kan nie daarby aanpas nie, of kry nie lense wat op hul oë pas nie. Wanneer jy ouer word, is die kans goed dat jou oë kontaklense begin weier. Jy mag nie met kontaklense swem nie, weens die baie werklike gevaar van onomkeerbare ooginfeksies wat jou sig permanent kan beskadig. Dit is ook geskik vir miope, presbiope en hiperope.

3 Laser (Lasik en PRK)

Laser werk vir hiperope en miope – nie vir presbiope wat op veertig ’n sterk pluslens-bril moet bysit nie. Dokters hou hierdie twee laserbehandelings vir mense wat ’n bril van -6 tot +3 dra.
Met albei word die kornea (die helder buitelagie van jou oog) se vorm ’n bietjie verander, met die doel om inkomende lig meer presies op die retina te fokus.

Met LASIK word klein snytjies in die kornea gemaak. Die dokter laser binne-ín die kornea, om die vorm te verander sodat inkomende lig op die retina val. Die dieper lae van die kornea maak nie juis nuwe selle nie, en dus bly jou sig baie jare lank stabiel, soos direk ná die operasie.

Met PRK laser die dokter op die búitekant van die kornea en verwyder ’n bietjie daarvan, tot die vorm toelaat dat lig akkuraat op die retina val. Daar word nie diep binne-in die kornea gewerk nie, wat PRK ietwat veiliger maak. PRK is ook die seerste. Met LASIK herstel jy die vinnigste en is die kans op langtermynsukses die beste.

Jy kan verwag om sowat R25 000 – R30 000 vir albei oë te betaal.*

Die nuwe moontlikhede

4 Die irisfiksasielens, of ‘artisan’-lens

’n Brillens is ’n wonderlike stukkie tegnologie. Dit is net lastig omdat jy jou bril heeldag opsit, afhaal, skoonmaak en soms verloor. Maar wat as jy die lens direk en permanent in jou oog kan vasmaak?

Dit is nou moontlik, en neem die chirurg net ’n halfuur. Dié lense kom met kloutjies wat in jou iris (die gekleurde deel van jou oog) inhaak. Dié lense word agter die glasagtige kornea geplaas, en dus sal niks dit laat skuif of afval nie. Dit is van die gerieflikste, veiligste opsies, met bitter min ingrype of kans op skade aan jou ander oogstruktuurtjies.

Maar dit is duur – R30 000 per oog – en dit is nie vir almal nie. Jou natuurlike kornea moet dik genoeg wees, wat ’n kwessie van geluk is, want jy word met dun of dik korneas gebore. Dit is geskik vir hiperope wat tot +10 lense dra, asook vir miope van tot -23.

Die lens kan lewenslank hou maar jou sig kan verander namate jy verouder, of jy kan katarakte ontwikkel. Dit kan nodig wees om dit te vervang of vir een van die ander opsies te verruil.

5 Die intra-okulêre kontaklens (ICL)

Dit is baie dieselfde as ’n irisfiksasielens, behalwe dat hierdie lens tussen jou ooglense en die iris geplaas word, waar dit ook nie kan rondskuif nie. Jy het dieselfde voordele en risiko’s, en as jou sig verander weens veroudering kan jy dit ook moet vervang of verruil. Dit werk goed vir hiperope tot +10 en miope tot -30.
En die prys? Ook R60 000 vir albei oë.*

6 Lensvervanging, of ’n katarakoperasie

’n Katarak beteken dat jou oog se eie lense begin verdof, met die gevolg dat lig nie meer so goed deurdring nie. Katarakte is die rede vir swak sig by een uit elke drie mense bo sestig, en as jou probleem hier lê, gaan geeneen van die vorige vyf opsies werk nie. ’n Lensvervanging is jou beste opsie – meestal die geval vir die meeste sestigplus presbiope.

Waar die ander opsies ekstra lense byvoeg of lagies wegvat, behels die sogenaamde katarakoperasie dat jou werklike ooglense uitgehaal en deur sintetiese lense vervang word. Jou ooglense lê in ’n sakkie, wat dit taamlik maklik maak om hulle te vervang, en die sintetiese lense kan jou vir ewig hou.

Nadele?

Daar is min risiko’s maar sommige mense kla dat hulle ’n lig-kring om voorwerpe sien, veral saans. Soms sal jou sig steeds ’n klein bietjie uit wees (nie meer as 0,5 nie). Jy kan dit met ’n
brilletjie regstel. Pleks hiervan kan jy jou sig met ’n ekstra LASIK fine tune.

Kyk net na die interessante opsies vir kataraklensvervanging

  • Jy kan twee enkelsterkte lense kies wat jou sig op ’n spesifieke afstand optimaliseer. Jy kan kies of jy eerder naby wil sien, met ’n bril vir ver – of eerder ver wil kan sien, met ’n bril vir naby sien.
  • Jy kan twee multifokale lense kies wat net soos ’n multifokale bril sorg dat jy naby én ver goed kan sien. Dit werk gewoonlik goed maar net soos jy aan ’n multifokale bril gewoond moet word, is dit hiermee ook ’n kwessie van aanpas.
  • Jy kan een multifokale lens op jou dominante oog met ’n enkelsterkte lens op jou ander oog kombineer. Dit word monovisie genoem. Jou twee oë leer baie gou saamwerk, en jy behoort baie goed op enige afstand te kan sien. Dit werk gewoonlik goed vir mense wat dieselfde met hul kontaklense kan doen. (Wenk: as jy nie weet of dit sal werk vir jou nie probeer ’n week lank kontaklense wat jou monovisie gee en kyk hoe goed jy regkom, voor jy jouself permanent verbind.) Gesels met jou oogspesialis, wat die beste opsie vir jou oë sal uitwerk.
  • Die prys? R25 000 vir twee enkelsterkte lense, en ’n ekstra R10 000 per multifokale lens.*

*Pryse benaderd. Kry ’n kwotasie van jou dokter en jou mediese fonds. Sommige van hierdie opsies is as kosmeties geklassifiseer, waarvoor jou mediese fonds nie betaal nie.

Loer hier vir nog interessante leesstof

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

18 hours Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

24 hours Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 day Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 day Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.