Alzheimer-siekte: Wilna Snyman gesels

Wilna Snyman het ’n pragtige, nuwe kat gekry. Spierwit met lang hare.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

“Ek het haar Prinses gedoop, want sy is adellik en mooi,” vertel sy. Pouse. En toe droogweg, tersyde soos net ’n aktrise dit kan doen: “Maar sy is ’n slet! Loop in die bos rond.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Sy lag hardop. “Die bleddie ding het al twee keer muise huis toe gebring. Een keer ’n mol! En dan kom sit sy die halfdooie goed voor my voete neer. Ek kan sien hoe dit moet lyk as ek met ’n muis aan sy stert die ruigtes invaar!”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hoewel sy dit nie hardop noem nie, is die implikasie tog daar: Wat sal ander dink as hulle my moet sien noudat dit alombekend is dat ek die pad van die Groot Vergeet betree het. Alzheimersiekte is ’n aandoening wat mense nog ongemaklik maak. Dit is ’n onbekende terrein wat vrees inboesem, soos kanker of die Groot K, soos sommige mense dit nou nog eufemisties noem.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Ek hoor daar is mense wat sê ek soek publisiteit deur so openlik daaroor te wees. Maar soos toe kanker by my gediagnoseer is, het ek gevoel dit moet uit!

“Toe ’n tydskrif ’n patetiese foto van my plaas, was ek aanvanklik ontsteld maar dog toe: Dit is goed! Daar is mense wat nie hul vrese en onsekerheid kan verwoord nie. Ek kan … doen dit nou nog dikwels wanneer ek mense by Kansa toespreek. So help jy ander.”

Dit is miskien ten dele waar, maar ’n mens kry tog gou die indruk dat Wilna se openlike verklaring van “hier’s ek, ek kan nie anders nie”, ’n manier van terugveg is; van die ongedierte in die oë kyk.

“Ja,” beaam sy. “Ek baklei dat ek vrek! Die geveg raak moeiliker, listiger, so asof die siekte my in die donker bekruip. Partykeer gaan dit goed, is hy sluimerend en dan slaan hy weer toe. En wat is dit as jy dit ontleed? Dis jou brein wat sterf, selletjie vir selletjie.”

Onverwags, soos nogal dikwels in hierdie onderhoud, bars sy uit van die lag. ’n Lekker lag. “Jy weet ek maak nou mos lysies, en dan vergeet ek wat ek daarmee gemaak het, en daardie optogte na die kombuis of die yskas en as jy daar kom, weet jy nie wat jy daar kom maak het nie.

“Ek het nou die dag die ou storie onthou van ’n kneg wat ook so vergeetagtig was. Op ’n dag moes hy ’n gaffel en skoffel gaan leen en heelpad loop hy en herhaal: ‘Skoffel, gaffel, skoffel, gaffel … ’ Hy is so ingedagte dat hy ’n man met ’n fiets omloop. En toe hy ná die affêre wegloop, begin hy: ‘Man, fiets, man, fiets … ’

“Dit is nou ek daardie,” lag sy weer.

“Partykeer as dit te erg word, wanneer ek met alles sukkel, gaan maak ek vir my ’n koppie tee, gaan sit nikssienend voor die TV en fluister daardie aaklige Amerikaanse gesegde: This is as good as it gets. Aanvaar dit!

“Ek aanvaar dit, maar nie maklik nie. Ek baklei teen die sindroom. As ek hom nie konfronteer nie, sal hy my vernietig. Ek moet van dag tot dag veg. En lysies maak.” Dit skemer gou deur dat Wilna nie blindelings of hardkoppig terugveg asof sy nie die werklikheid van haar siekte aanvaar of besef nie. “My ma en aunt Anne is aan Alzheimer’s dood toe ek nog glashelder was. Ek weet wat wag en het ook hieroor nagelees.”

Haar terugveg lê op ’n ander vlak as ’n blote kopstampery teen ’n muur. Dit het ’n paar maande gelede al geblyk voordat sy bekend gemaak het dat Alzheimer-siekte by haar gediagnoseer is.

Op ’n Sondagmiddag op Hermanus het sy ’n afskeidskonsert gehou vir vriende en kennisse wat toe reeds gerugte daarvan gehoor het. Daar was bekendes, soos Carel Trichardt en sy vrou, Petru Wessels, Deon Opperman en sy vrou, Jeanine Neethling, verskeie ander uit die teaterwêreld, asook vriende en aanhangers. Aan die einde van die program van voorlesings en vertellings het sy voor die klavier gaan sit en “Sal ons ou kennisse ooit vergeet” begin speel. Die gehoor van sowat 150 mense het staande trane weggevee en Deon Opperman het baie bewoë ’n toespraak gehou.

En midde-in hierdie oomblik het Wilna haar rug op haar kenmerkende manier regop gemaak en tot voor op die verhoog gestap – ’n presence op die verhoog wat altyd so eie aan haar was, en ’n mens het besef dié liedjie gaan nie net oor “vergeet” nie. Dit is ’n slagspreuk! Sy het vooroor gebuig en gesê: “Help my af! Ek wil tussen julle wees.”

Wat was haar bedoeling? Sy vertel later:

“Ek het besef hierdie mense het gekom vir my laaste woorde op die verhoog en ek het gevoel ek wil tussen hulle wees en nie op die verhoog nie. Ek wou tussen mense wees wat ook al baie traumas beleef het, of nog gaan beleef.”

“Die lewe skaaf en skuur ons. Daar is ’n naelstring wat ons bind. ’n Mens kan nooit sê: Dit sal nie met my gebeur nie. Ook nie: There but for the grace of God … nie, want heel moontlik sal jy ook die pad van kanker of Alzheimer’s loop.

“Ek begin nou verstaan die worsteling wat ons almal deurmaak, is vorms van groei. Maar daar is ’n verbintenis met die goddelike. As jy in hierdie worsteling nie luister nie, moet jy die deur oopmaak, oor die drumpel loop … En jy moet dit nie lukraak doen nie. Jy moet dit doen omdat jy na die Stem luister.

“Ja, geloof speel ’n groot rol in my lewe, maar weet jy, ek het nooit tot bekering gekom nie. Ek was van moedersknie af al bewus van die suiwere bron van die liefde van God, van die pad van liefde in Jesus se voetspore. My ma was my mentor, ’n wyse en belese vrou wat ook baie swaar gehad het. Sy was ’n ware Christen en ek moes toekyk hoe Alzheimer-siekte haar aftakel.”

Wilna Snyman het steeds ’n fyn aanvoeling vir woorde. Dit is merkwaardig hoe presies en soms selfs poëties sy haar gedagtes verwoord. Nou en dan ontgaan ’n woord haar. Dan leun sy vorentoe en sluit vir ’n oomblik haar oë. ’n Fladdering van gedagtes en skielik: “Nou onthou ek wat ek wou gesê het!”

As ’n mens nie geweet het nie, sou jy in hierdie gesprek soms nie kon raai dat sy die siekte het nie. Tog is sy bewus van alles wat op haar wag.

“Ek leef van dag tot dag. Ek weet dat ek alles gaan vergeet, maar sekere goed sal bly, jou sin vir regverdigheid, eerlikheid, die waarde van goeie maniere.”

“Dit steek vas en sekere goed is so diep in jou wese vasgelê, daardie sin van die waardevolle, dat niks dit kan vernietig nie.”

Sy beken dat sy ook nog nooit die vraag gevra het waarom juis sy ’n geen moes erf wat haar die stilte gaan instuur nie. “Ek glo dat ’n mens in hierdie wêreld ingestuur is met ’n goddelike bloudruk wat die weë van jou lewe bepaal. Dan stap jy die pad, al verstaan jy dalk eers baie later hoekom.”

Weer eens borrel ’n laggie uit en sy haal aan: “It is not who you are, where you are and what you are doing in life, or what is important or makes you happy, it is what you think about it.”

“Vir my is hierdie siekte ’n skoonmaakproses. Namate hy jou in sy greep kry en die simptome na vore kom, raak jy al hoe stiller omdat jy nie ten volle in die lewe kan staan nie – jy trek terug in die skaduwees in. Jy is meer selektief oor jou tyd en wat jy doen. Jy moet skoonmaak sodat die naelstring met die goddelike goed kan pols. Jy moet terugkeer na die essensie van leef.”

Een van die dinge wat sy doen en wat deel is van haar “essensie”, is om elke dag ’n gedig te lees. Op haar koffie tafel lê ’n boek oor die twintigste-eeuse honderd beste digters in Engels en Dylan Thomas kom ter sprake. Sy leun vooroor, prewel eers saggies en dan, soos ’n kokon wat ontsluit, kom die aktrise na vore, volkome konsentrasie in haar oë, ’n helder stem en fyn nuansering:

“Do not go gentle into that good night

Old age should burn and rave at close of day.

Rage, rage against the dying of the light.”

Wilna slaan met haar hand op die tafel. “Sela!” roep sy uit en stadig verdwyn die aktrise met die konsentrasie in haar oë. Weerloos sit sy skielik. Sy lyk moeg, haar gedagtes elders. Miskien is sy ook bewus daarvan dat die aktrise vir ’n oomblik terug was. Stilte.

“Weet jy, as ek moet sê, is die grootste rol wat ek ooit gespeel het, dié van Makiet in Kanna Hy Kô Hystoe. Ek dink nie Adam Small besef hoe ’n ongelooflike karakter hy geskep het nie. Ek is diep dankbaar dat hy my toegelaat het om die rol te speel, want hy was gekant daarteen dat blankes die rol van bruinmense in sy drama moes speel.

“Makiet was die aartsmoeder in omstandighede waarmee ons almal ons kan vereenselwig. Sy was die vrou wat hartseer en verlies geken het op ’n vlak wat haar die gedaante van ’n heilige gegee het. ’n Mens het hier te make met die naakte realiteit van armoede, onderdrukking, verkragting, verlies van kinders – die spektrum van ’n mens se lewe, deurspek met lyding, verraad, versoening en uiteindelik verlossing.

“Ek sal nooit daardie woorde van haar vergeet nie: ‘Die Jere is maar hard ja, maar Hy’s genadig ook’. Dit is die kern van ons lewe.”

En wat nou, Wilna, as die gordyn vir die laaste keer sak en jou gedagtes “in that good night” donker word?

“Die lewe is verbysterend, wonderlik en soms aaklig, maar ek is voornemens om dit bietjie vir bietjie op te lek tot die laaste en dan te sê: Hier is ek, Here.”

Sela.

En nee, dit is nie die einde van die onderhoud nie. Prinses kom maak ’n draai – sonder ’n muis! Wilna gee ’n skelm laggie. “Ek noem haar nie meer Prinses nie. Hoe kan jy ’n kat roep en sê: ‘Prinses! Prinses! Kom hier?’ Sy’s heet nou Sessie. Dis mos ’’n makliker naam om haar mee te roep.”

En ja, die naam Sessie pas ook beter by ’n kat wat in die bos boer. Maar dit het Wilna nie gesê nie! Daar was weliswaar ’n vonkeling in haar oë.

Deel
Gepubliseer deur
Nicole Kemp

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.