kategorieë: Bekendes

Angelina Jolie: My hartsaak

Angelina Jolie en haar sagte kurwes en vol lippe versinnebeeld vroulikheid. Maar daar skemer ’n stille krag deur in haar waterpasblik, selfs in haar vermoë om oor enigiets te kan gesels. Jy weet as jy met haar skoorsoek, gaan jy waarskynlik nie as wenner uit die stryd tree nie. Haar stem is laag, effens heserig en sy sluk die laaste woorde van haar sinne in, maar haar antwoorde is sinvol. Sy kommunikeer graag met haar wimpers. Sy laat sak hulle wanneer sy iets goedkeur en lig hulle wanneer sy saamstem. As iets vir haar snaaks is, laat sak sy hulle halfpad en pers haar lippe effe saam. Om Angelina se skoonheid van naby te sien, vul ’n mens byna met ontsag. Ek ken Angie nou al langer as ’n dekade en sy het my nog altyd beïndruk. Ondanks haar omstrede persoonlike lewe, soos dat sy glo haar destydse man, Billy Bob Thornton, se bloed in ’n flessie om haar nek gedra het, en in haar twintigerjare deur twee huwelike en ’n minnares gedraf het, was sy nog altyd net eerlik. Sy kruip nooit weg nie, en doen haar nie voor as iets wat sy nie is nie. Dubbele standaarde staan nie in haar boek nie.Kort nadat sy haar Kambodjaanse seuntjie, Maddox, in 2002 aangeneem het, het sy die Verenigde Nasies (VN) se welwillendheids-ambassadeur geword en begin om die media se aandag op onmens-like wandade in oorloggeteisterde lande te vestig en geld vir die slagoffers in te samel. Sedert sy en Brad Pitt in 2005 bymekaargekom het, het die paartjie by verskeie humanitêre projekte betrokke geraak. En vandag op 36 het sy nog ’n leeftyd oor om aan al haar hartsake te werk.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Sy is nou die regisseur van haar eerste fliek, In the Land of Blood and Honey, wat vir ’n Golden Globe benoem is vir Beste buitelandse rolprent. Die fliek speel hom tydens die Bosniese oorlog af en handel oor ’n vrou wat in ’n kamp gevange gehou word en op die kamphoof verlief raak. Die fliek het nie tot stand gekom omdat Angelina regisseur wou speel nie, maar omdat sy meer te wete wou kom oor die gruweldade teenoor vroue in die Bosniese oorlog. Sy wou weet hoe so iets kon gebeur, en waarom die wêreld op die kantlyn gesit het terwyl die wreedhede gepleeg is.
“Ek het navorsing gedoen en daaroor begin skryf sodat ek die malheid kon verstaan, maar het nie gedink die projek sou verder as dit strek nie. Ek het vir Brad gewys wat ek geskryf het, en hy het gedink dit was goed. Hy het voorgestel dat ons my naam verwyder en die manuskrip uitstuur om terugvoer te kry. My plan was om dit te verbrand as ek slegte terugvoer kry, maar toe kry ek positiewe terugvoer en selfs met voorstelle van hoe ek dit kan verbeter. Ek het besef dat as ek die fliek gemaak wil hê soos ek dit sien, sal ek die regisseur moet wees. Toe soek ons geld, en toe word die fliek gemaak.” (Brad en Angelina het ook hul eie geld gebruik om die rolprent te maak.)
Hulle het teenkanting uit vele oorde gekry. In ’n stadium het ’n verdraaide storielyn van die fliek uitgelek, en haar permit om in Bosnië en Herzegowina (die ou Joego-Slawië) te verfilm is teruggetrek. Maar Angie het ’n plan gemaak. Sy het ’n manier om om struikelblokke te werk, maar dit beteken nie dat sy die makliker pad vat nie. Sy het die fliek ook in twee tale geskiet, waarvan sy een nie verstaan nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Hoe het jy dit reggekry om hierdie fliek te maak sonder om te baklei?
(Laggend) Toe ons besluit om die fliek te maak het ons geweet ons sal dit nie kan doen as ons nie mense van albei kante van die stryd betrek nie. Ons het ook besluit dat ons nie net talentvolle mense sal huur nie, maar goeie mense. As die rolverdeling-regisseur vir my sê sy het ’n goeie oudisie gehad, het ek gevra: “Maar was die mense aangenaam of was hulle ongeskik?” So het ons ’n groep goeie, vrygewige mense bymekaargekry wat die fliek om die regte redes wou maak. Hulle het almal kleiner salarisse gekry en het ekstra hard en lang ure gewerk. Hulle was baie toegewyd en ondersteunend. So, dit was nie nodig om te baklei nie. Ek was deel van ’n gesin, en ek was dankbaar dat hulle my so welkom laat voel het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Jy het al met swaarkry en lyding te doen gekry vanweë jou werk in oorloggeteisterde lande, maar verstaan jy dit op ’n persoonlike vlak?
Ek het nog nooit deurgemaak wat dié mense deurgemaak het nie. My grootste swaarkry was toe ek my ma verloor het. Maar ek het al getraumatiseerde mense gesien, of getraumatiseerde kinders ná bomaanvalle, of in vlugtelingkampe gesels met mense wat al in sulke situasies was. Ek is baie dankbaar dat ek nog nooit so iets beleef het nie.

Hoekom het jy besluit om die fliek oor die Bosniese oorlog te maak?
Die oorlog het gewoed toe ek 17 was, my generasie was deel hiervan. Toe ek later die land besoek, kon ek nie glo hoe min ek van die oorlog geweet het nie. Ek het gevoel dis my plig om meer te weet. Hoe meer ek te wete gekom het, hoe meer geskok was ek oor wat alles gebeur het en dat niemand ingegryp het om die mense te help nie. Ek wou die storie vertel. Ek wou fliekgangers laat besef hoe onlangs dit gebeur het sodat hulle hulle kan afvra: “Waar was ek? Wat het ek gedoen?”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Wat het eerste gekom – die behoefte om die storie te vertel of om regisseur te wees?
Ek wou nooit die regisseur wees nie. Ek het die storie vir myself geskryf, dit was ’n private eksperiment. Eintlik was ek toevallig die regisseur. Ek het geweet ek weet nie soveel van die tegniese aspekte van regie af nie, ek het dit nog nooit gedoen nie, maar dit was vir my belangrik dat die projek op die regte manier gedoen word. Ek het gedink dat as ek hard werk, die regte ingesteldheid het, en dit so sensitief moontlik hanteer, dat ek dit dalk kan regkry. Dis steeds bisar om te dink ek was die regisseur van die fliek.

Is dit irriterend dat jy nie die storie en fliek met jou kinders kan deel nie?
(Laggend) Wel, hulle sal dit later sien, hulle is nog nie oud genoeg nie. My kinders kom uit lande waar daar konflik was, hulle is bewus daarvan. Hulle weet ook waarheen ek gaan wanneer ek op my VN-sendings vertrek. Hulle kyk nuus en leer daarvan op skool, so hulle weet wat aangaan, en dat die fliek hieroor handel. Maar hulle sal dit eers sien wanneer hulle ouer is.

Die fliek gaan ook oor vooroordeel. Jy is op ’n manier ook ’n slagoffer van vooroordele …
Ek gee glad nie aandag daaraan nie.

Hoe ontduik jy die paparazzi?
Ek kan nie. Die paparazzi is gelukkig nie oral nie. Hulle verpes my nie by die huis in Kambodja nie (lag). Ek fokus maar op die positiewe dinge. Ek neem dit nie ernstig op nie, dit het niks met my as mens te doen nie. Ek sou nie die fliek kon maak as ek nie ’n sterk loopbaan gehad het nie, as mense nie geweet het wie ek is nie, en mense sou dalk nie geïnteresseerd gewees het om die fliek te sien nie, so uit daardie oogpunt is ek dankbaar vir die publisiteit, omdat die projek vir my so belangrik was.

In die lig van al die aaklige goed wat jy sien, dink jy daar is hoop vir die mensdom?
Ek is bekommerd, veral ook omdat dit aan die ekonomiese front nie goed gaan nie. Die ekonomie stort dikwels ineen net voor ’n oorlog uitbreek. Ek weet ook jy kan nie hoop en fokus verloor nie, want dan het jy alles verloor. Ek soek altyd ’n oplossing vir ’n probleem en fokus eerder daarop, want ek is besorg oor my kinders se toekoms.

Brad het onlangs gesê hy wil oor ’n paar jaar uit die kollig tree en nie meer toneelspeel nie. Dink jy daaraan om dalk eerder flieks te vervaardig en om meer aandag aan jou humanitêre projekte te gee?
Ek dink ons gaan die volgende paar jaar baie besig wees. Ons ouer kinders sal tieners wees, en ons gaan seker ons hande vol hê (lag)! Ons het ander dinge wat ons ook met ons lewe wil doen. Ons was baie gelukkig om sulke lang loopbane in die bedryf te hê, maar dis nie die fokuspunt van ons lewe nie.

Sien jy op na die tienerjare?
Ek kan nie dink dat hulle erger as ek sal wees nie (lag)! Ek dink ek het die standaard vir ’n moeilike tiener gestel, maar ons sal sien (lag). Ek is gereed daarvoor.

Daar het aan die begin vals inligting oor die storielyn van die fliek uitgelek. Het dit jou seergemaak, veral omdat jou bedoelings goed was?
Ek kan verstaan dat die land se bewoners deur die fliek geraak sou word, veral omdat dit nog so vars in almal se geheue is. Maar wanneer jy so hard aan iets werk en soveel vir ’n saak omgee, is dit nogal frustrerend en pynlik as die mense teen jou gekant is. Ons het gister die fliek vir Bosniese vroue gewys en geen resensie beteken soveel vir my soos hul reaksie en ondersteuning nie. Dis hoekom ons die fliek gemaak het.

Het jy al gewonder hoe jy sal reageer as iets so traumaties soos verkragting met jou gebeur? Het jy jou in hierdie vroue se skoene ingedink en afgevra wat jy sou doen?
Natuurlik. Ek was al in ongemaklike en moeilike situasies. Wanneer jy ’n storie skryf, kan jy nie help om ’n bietjie van jouself in die karakters in te skryf nie. Wat sal met my gebeur as ek en my vriende verkrag word, as ek leef in ’n land wat jare lank in oorlog gewikkel is? Hoeveel sal ek kan vat voor dit my verander? Hoe lank sal ek aan my menslikheid kan vashou voor ek breek? Dis die groot kwessie wat die fliek takel, om albei kante van ’n saak te sien, en te verstaan hoekom mense dink soos hulle dink, en hoe hulle deur sulke situasies geraak word.

Hoe bly jy veilig in gevaarlike situasies?
Toe ek laas in Afganistan was, was daar soveel woede – omdat ek ’n vrou is, Amerikaans is, van die Verenigde Nasies is. Ek was ’n teiken. Ek moes my paspoort ingee, my bloedgroep neerskryf, en ’n helm en koeëlvaste baadjie dra. Ek het vir Brad ’n briefie geskryf, maar nie gestuur nie, want ek wou hom nie onnodig ontstel nie; ek was seker dit sou by hom uitkom as iets met my sou gebeur. Gelukkig het die gemoedere bedaar en alles het goed afgeloop. Ek het besef dat mense elke dag in sulke omstandighede moet leef. Maar twee weke later het hulle die gastehuis aangeval waar ek gebly het. Niemand het oorleef nie.

Het jy die fliek gemaak wat jy wou maak, en sal jy dit weer doen?
Ek het die fliek gemaak wat ek wou maak. Ek weet nie of ek dit weer sal doen nie. Dit was lekker om regisseur te wees, maar ek het hierdie fliek gemaak omdat ek die storie moes vertel. As ek ooit weer so sterk voel oor iets, sal ek dit dalk weer doen. Maar ek het nie ’n brandende begeerte om ’n regisseur te wees nie.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.