kategorieë: Ouerskap

As ma’s moor

Hoe kan ’n vrou dieselfde lewe wat sy gegee het, koelbloedig neem? Behoort ’n ma nie bereid te wees om haar lewe vir haar kinders te gee nie? Ma’s, is ons geleer, is die verpersoonliking van versorging en liefde, des te meer teenoor hul eie kinders.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Ongelukkig nie. Amerikaanse statistieke toon dat tussen 200 en 350 kinders per jaar aan hul ma se hand sterf. In Suid-Afrika is amptelike statistiek hieroor onbekombaar, maar prof. Christiaan Bezuidenhout, Pretoria-se kriminoloog, beskryf dit as ’n “donker kol” en iets wat aan die toeneem is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

In Suid-Afrika word byna daagliks gevalle aangemeld van babas wat iewers gelos word om te sterf: in asblikke, langs besige paaie, in die veld, selfs in puttoilette. Ons lees in piepklein beriggies van ’n ma wat met haar kinders voor ’n trein ingestap het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Een groot gesinsmoord wat in 1998 ons koerantvoorblaaie oorheers het, was die geval van dr. Manuela Costa, ’n Johannesburgse geneesheer, wat haar vier seuns (tussen sewe en elf jaar oud) eers kalmeermiddels ingegee het, en toe hul spoghuis in Sandton aan die brand gesteek het. Twee van die seuns het in die brand gesterf.

Venolia Siwa (35) van Pampierstad naby Hartswater het in Oktober 2012 haar kinders van dertien, tien, vyf, vier en twee jaar oud vermoor. Vier van hulle is met ’n mes in die nek gesteek, en sy het die jongste verdrink en daarna probeer selfmoord pleeg deur in ’n rivier te spring. Toe dit nie slaag nie, het sy gevra om haarself aan die polisie oor te gee.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

In die Amerikaanse media is sulke kindermoorde groot nuus. Daar is selfs vier Engelse terme wat kindermoord omskryf: Feticide (’n daad wat die dood van ’n fetus veroorsaak), neonaticide (dood binne 24 uur ná geboorte), infanticide (vermoor deur ’n ouer binne die eerste jaar ná geboorte) en filicide (vermoor deur ’n ouer terwyl regtens nog ’n kind).

Die geval van Susan Smith (destyds 24) wat in 1994 haar twee seuntjies in haar motor vasgegordel het en toe die motor in ’n dam ingestoot het, het Amerikaners se gemoedere laat hoog loop. Sy het voorgegee hulle was die slagoffer van ’n motorkaping en het vir meer as ’n week daarna op televisiekanale gepleit dat die ontvoerder haar kinders moet terugbring. Sy het later erken sy het hulle vermoor. Die hof het bevind dat daar ’n paar redes vir die moorde was: haar nuwe kêrel het nie vir die kinders kans gesien nie, sy wou wraak neem op haar gewese man, en haar narcisme het ’n besliste rol gespeel.

“Dit laat die persoon voel soos ’n pseudo-celebrity as hy of sy die middelpunt van almal se belangstelling is,” verduidelik prof. Christiaan. Smith se beheptheid met hoe sy op televisie lyk en hoe dit met haar kêrel gaan, eerder as om te rou oor haar “vermiste” kinders, het polisie snuf in die neus laat kry.

In nog ’n skokkende voorval het Andrea Yates (36) van Houston al vyf haar kinders – tussen ses maande en sewe jaar oud – op 20 Junie 2001 in die gesin se bad verdrink. Sy het daarna haar man Rusty gebel, en kalm gesê: “Dit was tyd.” Yates was psigoties, en die hof het bevind dat sy nie toerekeningsvatbaar was nie.

Maar die kindermoorde wat Amerikaners waarskynlik die heel meeste geskok het, is oor ’n tydperk van 14 jaar gepleeg. Marybeth Tinning was 43 toe sy ná die dood van haar negende kind in Duanesburg, New York, gearresteer is. Hoewel sy net skuld beken het op drie moorde en net op een skuldig bevind is vanweë ’n gebrek aan bewyse, dui alles daarop dat sy verantwoordelik was vir agt van haar kinders se dood. Die negende een, haar eersteling Jennifer, is agt dae ná geboorte en nog in die hospitaal dood aan breinvliesontsteking, maar kenners meen dit kon die gevolg van ’n mislukte aborsie wees.
Die grootste tragedie is dat al die ander babas en kleuters kort voor hul dood of pas ná hul dood medies ondersoek is. Marybeth het hulle elke keer hospitaal toe gebring en gekla dat hulle net ophou asemhaal het. Daar was geen mediese rede dat hulle almal skielik en sonder rede sou ophou asemhaal nie, en dat sy elke keer alleen by die kind was wat gesterf het, het niemand opgeval nie. Dat drie van hulle binne negentig dae van mekaar dood is, skynbaar ook nie. Ook die feit dat wiegiedood in minstens drie gevalle as die oorsaak van dood aangeteken is, moes rooi ligte laat flikker het.

Volgens die getuienis van dr. Michael Baden, die voormalige hoof-patoloog van New York, het wiegiedood nooit ’n genetiese oorsaak nie, en sterf sowat drie uit duisend babas daaraan. Dit is dus byna onmoontlik dat daar drie gevalle binne een gesin kan voorkom. Boonop was een van die kinders ’n aangenome kind, wat die kans op ’n genetiese defek nog verder verklein het.

Baie kenners glo Marybeth het die aandag en simpatie ná elke baba se dood so geniet dat sy dit weer en weer wou ervaar. Sy is meestal gesien as ’n ongelukkige slagoffer van ’n vreeslike tragedie wat geen ouer wou deurmaak nie. Dit kon haar spesiaal en uniek laat voel, iets waarna die vaal, gewese skoolbusbestuurder waarskynlik gesmag het. Wat besiel so ’n ma?

In haar boek Fatal Females (Penguin, 2004) vra die sielkundige en eertydse profielsamesteller dr. Micki Pistorius ’n belangrike vraag: “Kleur ons nie moederskap in as die hoogste deug en die hoogtepunt van vroulikheid nie? Is kinderlose vroue dan minder deugsaam of vroulik as ma’s?”

Prof. Lou-Marie Kruger van die Universiteit van Stellenbosch se departement sielkunde meen die veronderstelling dat dit vir vroue natuurlik is om hul kinders lief te hê en te versorg, is eintlik problematies. In “Siembamba, Mamma se slaansak” (BY, 18 Februarie 2012), verwys sy onder meer na navorsing wat meen alle ma’s het ’n wrede kant en dink soms destruktiewe gedagtes oor hul kinders.

Laat ons nou maar eerlik wees: ’n baba wat sonder ophou skree, kan selfs die beste ma se frustrasievlakke laat styg. Maar terwyl die meeste van ons dit sal aanvaar as deel van moederskap, is daar tog ’n klein persentasie vroue wat so ’n baba sal mishandel, opsetlik verwaarloos of selfs vermoor. Akute verwaarlosing (soos om ’n kind nie kos te gee nie, of alleen by die huis te los, of in ’n motor voor ’n casino toe te sluit) is net mishandeling in ’n ander vorm, sê prof. Christiaan. Gelukkig darem met een klein verskil: “Die kans dat so ’n verwaarloosde kind in die hospitaal sal beland, is twee maal groter as wanneer ’n kind mishandel word. Mishandeling word gewoonlik weggesteek vir die wêreld totdat dit te laat is.”

Sou ’n dokter dan verwaarlosing vermoed, kan die kind uit die nalatige ouer se sorg verwyder word voordat dit op die dood uitloop.

Prof. Christiaan meen ook ons samelewing verromantiseer moederskap, terwyl baie vroue eenvoudig nie ma-materiaal is nie.

“Daar is ’n sielkundige verskynsel wat ‘futiele infantiele moederskap’ genoem word – so ’n persoon is glad nie gereed vir die verantwoordelikheid van ’n baba nie, want sy het self nog nie grootgeword nie. Dan kry ’n mens ook die sg. excitement seeking mother, wat eintlik net wil partytjie en nie twee keer daaroor sal dink om haar baba alleen in ’n woonstel toe te sluit om te gaan partytjie hou nie.”

’n Amerikaanse forensiese sielkundige, dr. Philip Resnick, het in sy loopbaan al met meer as sestig sake gewerk waarin ouers hul kinders vermoor het. Hy het vir die verdediging opgetree in die saak teen Andrea Yates, wat haar vyf kinders verdrink het.

Resnick meen ook dat emosionele en finansiële probleme ’n enkelouer baie maklik oorweldig kan laat voel. Dit was waarskynlik wat dr. Costa laat knak het: Haar gewese man, José Gil, het hom in 1996 vergas nadat hy weens bedrogklagte verbied is om as psigiater te praktiseer. Kort daarna is borskanker by haar gediagnoseer. Die behandeling het gelei tot groot onbetaalde mediese rekeninge, wat sou beteken het dat hul huis op die dag van die tragedie opgeveil moes word. Vir dié ma was al hierdie probleme die vernaamste redes vir haar besluit om ’n gesinsmoord te pleeg, het sy in ’n brief aan die Sunday Times geskryf. Sy skryf ook in die brief dat sy nie alleen wou selfmoord pleeg en haar kinders ouerloos agterlaat nie. (Die hof het haar vrygespreek op moordklagte nadat bevind is dat sy nie toerekeningsvatbaar was ten tyde van die voorval nie. Sy is ná drie jaar van sielkundige terapie met haar seuns herenig.)

Venolia Siwa het in haar skuldbekentenis gesê dat sy aan erge depressie gely het, onder meer omdat sy nie kon werk kry nie en nie alleen vir haar kinders kon sorg nie. Haar saamwoonman en die pa van drie van die kinders, Israel Lesomola, het boonop die kinders erg geslaan. Hul oudste kind, Sizwe, was gestrem, en Venolia moes alles vir hom doen. Sy is ook met akute psigose gediagnoseer, en gevonnis tot 12 jaar tronkstraf met spesiale opdrag deur die hof dat sy in die gevangenis die nodige sielkundige en mediese behandeling vir haar toestand moet kry.

Aggressie of depressie?

Maar is ’n kind se lewe nie ’n langer vonnis werd nie, wonder jy dalk?

Nellie Prinsloo, ’n kliniese sielkundige van Alberton, sê ma’s maak selde hul kinders dood weens suiwer aggressiewe gevoelens. “Die meeste vroue wat gesinsmoord pleeg, lei aan depressie of post-partum depressie ná ’n baba se geboorte. Hulle voel moedeloos en beleef die wêreld as ’n harde, ongenaakbare plek, en voel dat dit ’n liefdesdaad is om die kinders uit hierdie ellende en swaarkry te verlos.”

Sulke ma’s, meen Nellie, het gewoonlik nie goeie ondersteuningstelsels nie en sien die dood as die enigste uitweg, des te meer as daar boonop mishandeling ter sprake is (van die ma of die kinders).

“Onthou dat hierdie ma nie logies dink nie en dat haar emosies haar logika oorheers. Sy sien geen lig aan die einde van die tonnel nie.”

Prof. Kruger en haar span by die US se navorsing onder vroue met depressie in die lae inkomstegroep bevestig dat vroue wat kinders in moeilike omstandighede grootmaak (dikwels as enkelouers sonder enige ondersteuningstelsels) se frustrasie manifesteer as woede en depressie.

“Wanneer depressie in vroue as woede manifesteer, is die teiken dikwels hul kinders. Wat volg, is verwaarlosing, mishandeling en selfs moord.”

Van die respondente in die US-studie het in “ontstellende besonderhede” beskryf hoe gewelddadig hulle teenoor hul kinders kon raak tydens ’n woedebui, skryf prof. Kruger. Van kinders wat met die vuiste bygedam of gewurg word, tot een ma wat haar graad-negekind aan die hare gesleep en haar gesig op ’n sementblad gekap het.

“As die samelewing meestal hoë en selfs idealistiese verwagtinge van ma’s het, het vroue dit selfs meer. Selfkastyding en -verwyt is nie ongewoon by ma’s wat meen hulle is nie goed genoeg nie.”

Kry hierdie ma’s meer simpatie as pa’s wat dieselfde doen?

Nellie meen die gemeenskap het oor die algemeen meer simpatie met vroue wat gesinsmoord pleeg as met mans.
“Ek dink dis onregverdig, want mans kan ook aan depressie ly en nét so hulpeloos en magteloos voel omdat hy voel hy kan nie sy vrou en kinders beskerm en versorg nie.”

Is dit die manier waarop hulle die moorde pleeg wat ons simpatie wek? Nellie sê vroue verkies metodes soos om die kinders te versmoor, te verdrink of ’n oordosis pille te gee.

Prof. Christiaan stem saam. “Ma’s skram weg van bloed op hul hande, en sal een van hierdie metodes of selfs gif kies, terwyl ’n man makliker sy gesin sal skiet.”

En hoe behandel ons howe sulke ma’s?

“Daar bestaan iets wat ons die sg. ‘ridderlikheidshipotese’ noem,” verduidelik prof. Christiaan. “Ek wil nou nie die regsmense kwaad maak nie, maar gaan ’n regter se houding dieselfde wees teenoor ’n mooi vrou of ’n gebroke ma as teenoor ’n lelike man?”

Hy meen mense verromantiseer dikwels misdade deur vroue. “Ongelukkig is dit ook ’n feit dat baie vroue hulpelose slagofferskap aanleer en gedurig daarop terugval as verskoning. Hulle maak uitsprake soos ’niemand verstaan hoe moeilik moederskap is nie’.”

Prof. Kruger bepleit meer begrip vir vroue wat hul kinders om die lewe bring. “(Hulle) is nie noodwendig slegte mense nie. Hulle is dikwels nie psigoties nie. Hulle is waarskynlik bloot desperaat en depressief.”

Vyf Tipes

Die forensiese sielkundige Philip Resnick meen daar is gewoonlik vyf tipes omstandighede waarin ma’s (of pa’s) hul eie kinders sal doodmaak:

Sogenaamde “altruïsme”: In so ’n geval wil ’n ouer nie verder leef nie, en dink die kind/ers sal beter daaraan toe wees as hulle ook sterf, eerder as om deur iemand anders grootgemaak te word.

Psigose: Baie kindermoorde word gepleeg deur ’n ouer wat ’n sielkundige probleem het, van depressie tot psigotiese toestande waarin die persoon stemme hoor wat sê die kinders moet sterf (soos wat in Andrea Yates se geval beweer is). Prof. Christiaan meen werklike psigose is baie skaars, en dat depressie, veral post-natale depressie, meer dikwels die oorsaak is. “Wees bedag op die verskil tussen maternity blues, wat so ses of sewe dae ná geboorte kan duur, en post-partum depressie, wat maande ná die geboorte nog nie verbeter het nie. So ’n ernstige depressiewe vrou sien die kind as die oorsaak van haar frustrasie, en daar is beslis ’n hoër risiko dat die kind vermoor kan word.”

Mishandeling: Deur ’n baba herhaaldelik te skud, die kind teen ’n muur te gooi, te slaan of te brand, kan ’n kind sterf. (Verwaarlosing kan hierby ingesluit word, en post-partum depressie kan weer eens ’n rol speel.)

Ongewenste kinders: In baie kulture – ook in Suid-Afrika – is dit steeds ’n skande om ’n baba buite die huwelik te hê, en die ma sal enigiets doen om van die kind ontslae te raak. Prof. Christiaan meen dis een van die grootste oorsake van kindersterftes in ons land. “Die ekonomie speel ook ’n rol – sy kan die kind eenvoudig nie versorg nie – maar kultuur speel beslis ook ’n rol, veral in meer tradisionele gemeenskappe waar die vrou haar vrugbaarheid aan die man moet bewys. Hy kan net uit die verhouding stap en die vrou met die kind los, al kan sy nie vir die kind sorg nie.”

Weerwraak: Kinders word dikwels vermoor omdat een ouer op die ander een wil wraak neem ná iets soos ’n egskeiding of ’n affair.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose
Tags: ouerskap

Onlangse plasings

Kristen Raath oor haar snaaksste, en vernederendste, oomblik op die stel van Wyfie

Dié toekennings, wat deur Screen International aangebied word, word op 20 Mei 2024 in Cannes, Frankryk, uitgedeel.…

12 hours Gelede

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

1 day Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 weeks Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 weeks Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 weeks Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.