kategorieë: Blogs

Batad se Rysterrasse

Die jeepney-rit (sien voetnota) van Banaue na die bergrug is steil en hobbelrig. My sitplekkie tussen bokse mineraalwater, aartappelskyfies en stringe 15ml-sjampoesakkies is nie die gemaklikste in die wêreld nie, maar ek sou op geen ander manier hierdie pad wou ry nie. Ervaringe soos dié dra by tot die heel beste herinneringe wanneer mens reis.
Vlugtige kyke van ’n Filippynse vroutjie wat oorkant my sit, trek kort-kort my aandag. Die paar kere wat ek haar oog vang, lyk dit asof sy ’n gesprek wil aanknoop, maar kyk dan eerder weer skaam by die venster uit. Uiteindelik skraap sy die moed bymekaar.
“Your country?”
“South Africa.”
“You come to see rice paddies? I take you tomorrow,” sê-vra sy.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Ek stem in. Maar dan moet dit vroeg wees. Ek het slegs ’n paar dae om hierdie area te verken.
Nadat ons haar footjie onderhandel het, loer ek by die venster uit. Ek is hier om Batad se ongelooflike 2000-jaar oue rysterrasse te sien, oorspronklik gebou deur die inheemse Ifaguo-stam, noord op in Luzon-eiland in die Filippyne.
Die jeepney kom rukkerig tot stilstand. Van hier af is dit veertig minute se stap na die klein gemeenskappie wat tussen die ryslappies woon. Die paadjie, ontoeganklik vir vervoermiddels, is die enigste manier van in en uit vir die inwoners van die gebied. Dit verg uiters goeie beplanning en ’n hegte gemeenskap om só te leef hier in die Cordilerra-berge.
Dan begin ons die kronkelpaadjie stap. Prentjiemooi uitsigte van die vallei kom in sig. My gedagtes is ver weg, soos dit dikwels gebeur tydens ’n ent se stap. En dan, na nog ’n paar draaie, lê dit skielik voor my. Dis asof iemand in ’n oogwink ’n massiewe skilderdoek voor my oopgerol het.
Dis Batad se formidabele rysterrasse – in hul volle glorie! Oneindige groen trappies van verskillende hoogtes lê uitgekerf in die berge soos ’n kolossale amfiteater. Die groen-en-bruin patroon word slegs onderbreek deur rooi dakkies wat lukraak versprei lê tussen die trappies. Heel onder, in die middel van die prentjie, lê die klein “dorpie”. So klein en verlore lê hy daar, dat dit lyk asof die massiewe trappe enige oomblik daarop kan aftuimel. Meer afgesonder kan mens seker nie kry nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die volgende oggend wag ek sewe-uur met ’n koppie koffie in die hand vir Ellen. Half nege se kant daag sy daar op.
Laat dit gaan, dink ek by myself. Om betyds te wees is nie hierdie nasie se sterkste punt nie. As Filippino-tyd vir hulle kan werk, kan ek sekerlik vir ’n paar weke daarby aanpas.
Ellen gaan wys vir my hoe die klein gemeenskappie hier lewe. Ons stap verby netjiese
sink- en houthuisies, meeste van hulle staangemaak op houtpilare. Ek sien tradisionele hutte waar ou vroue onder afdakkies sit en tekstiele weef. Die inwoners groet vriendelik. Buite speel kinders en iewers in die verte blêr ’n radio. Die lewe hier is eenvoudig.
So stap ons al langs die nou klipmuurtjies wat die rysterrasse van mekaar skei. Sommige gedeeltes is nouer as ander. Hier en daar is die trappies baie styl, en moet ons hande-viervoet klim om balans te hou.
Die presiese wyse waarop hierdie rysterrasse beplan en gebou is om ’n natuurlike watervoorsiening-sisteem te bewerkstellig, is uitstaande.
Met hul kaal hande en eenvoudige gereedskap het die Ifuago-mense hierdie vlakke en kanaaltjies geskep. Die water van natuurlike bergstroompies en waterbronne is op so ’n wyse gekanaliseer dat dit van die boonste terrasse deurvloei na die laer vlakke.
Sommige van die muurtjies wat die terrasse van mekaar skei het reeds inmekaar getuimel, en ander begin stuk-stuk uitmekaar val. Vandag se jongmense wil niks weet van die platteland nie. Stadig maar seker beweeg hulle stad se kant toe, en instandhouding word oorgelaat aan die ouer generasies, wat nie altyd oor die nodige krag beskik om die werk behoorlik te doen nie. Dít en jare se erosie kan omskryf word as die grootste redes vir die stelselmatige agteruitgang van die terrasse.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Klein gemeenskappie wat tussen die terrasse woon

Later, terug by my gastehuis, sit ek lank buite en waardeer die hele uitsig weer van voor af. Dit gaan my verstand te bowe dat iets so funksioneel en prakties terselfdertyd so ongelooflik mooi kan wees.
Dit is ’n skildery of tapisserie – dalk ’n mosaïek? Of ’n toneelstuk wat die werklikheid weerspieël. Dis meer as net ’n mooi prentjie. Dit is ’n kunswerk.
*Jeepneys is ou, Amerikaanse militêre jeeps wat in die Filippyne agtergebly het, volgens interessante temas in flambojante kleure opgetower is, en aangewend word as publieke vervoermiddels. Dit is nie ongewoon vir ’n jeepney-drywer om passasiers agterop (en selfs op die dak) toe te laat as die sitplekke binne reeds vol is nie. Hoenders en varke is ook altyd welkom.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

7 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

7 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.