Beeld van ’n vrou: Françoise Gilot

Deur Henriëtte Linde-Loubser

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Françoise Gilot was die artistieke muse van die Spaanse kunstenaar Pablo Picasso, sy minnares en metgesel, maar altyd sy gelyke. Want dit is wat sy wou wees: ’n kunstenaar uit eie reg.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Françoise is in 1921 in Neuilly-sur-Seine, Frankryk, as enigste kind van Emile en Madeleine Renoult-Gilot gebore. Sy het in ’n milieu van kuns en wetenskap grootgeword. Haar pa was ’n sakeman en landbouwetenskaplike en haar ma ’n waterverfskilder. Emile was genadeloos streng en dominerend. Hy het die linkshandige Françoise byvoorbeeld gedwing om met haar regterhand te leer skryf. Om dié rede is Françoise haar lewe lank reeds ewehandig. Tussen hulle was daar geen teer pa-dogter-verhouding nie. Emile het haar soos ’n seun hanteer en grootgemaak.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Dit was waarskynlik die hardvogtigheid van haar pa wat van die klein Françoise ’n gedrewe en hardekwas vasbyter gemaak het. Op vyf het sy aangekondig dat sy ’n beroemde skilder gaan word. Dit was nadat sy die kunstenaar Emile Mairet vir die eerste keer gesien het. Sy was begogel deur sy indrukwekkende figuur in swart geklee en met ’n groot bos viooltjies vir haar ouma in sy arms. Hy was die aantreklikste man wat sy tot nog toe gesien het. So reg uit ’n sprokie. En Françoise wou soos hy wees. Met alles in haar wou sy ’n kunstenaar soos Mairet wees en vir die res van haar lewe sou kuns haar eerste liefde bly.

Françoise was veronderstel om in die regte te studeer. Natuurlik op aandrang van haar pa. Maar sy het nie juis gereeld haar klasse bygewoon nie en haar tyd eerder aan haar groot liefde gewy. Sy het in die stilligheid ’n dubbele lewe gelei en eerder die kunste as die regte bestudeer. Toe haar pa dit agterkom, het die daaropvolgende tirade haar verder van haar ouers vervreem. Sy het nietemin ’n B.A.-graad aan die Universiteit van Sorbonne verwerf en die daaropvolgende jaar ’n graad in Engelse letterkunde aan Cambridge. Sy sou haar eerste ateljee in haar ouma se huis in ’n solderkamer begin.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Reeds op 21 was Françoise Gilot, ’n produk van die Britse Instituut in Parys, ’n gerekende kunstenaar. Haar werke spreek in ’n unieke taal van vorm, kleur en verskeidenheid van media as dié van ’n gerekende kunstenaar. Sy beklee steeds ’n belangrike plek in die internasionale kunskringe. Haar werke word in die permanente versamelings van talle kunsmuseums wêreldwyd aangetref en in 1990 het sy die hoogste eerbetoon van die Franse regering, die Chevalier de la Legion d’Honneur, vir haar werk as skilder, skrywer en feminis ontvang. Ongelukkig is haar heel eerste sketse en waterverfskilderye met die Nazi-besetting van Parys in ’n bomaanval vernietig.

In Mei 1943, juis tydens die Duitse besetting van Frankryk, het Françoise, ’n vriendin en die akteur Alain Cuny een aand by Le Catalan in die Rue des Grands-Augustins naby die Notre Dame gaan eet. Dit was ’n gewilde eetplekkie onder die destydse skrywers en skilders, en dit is hier waar die 21-jarige Françoise die Spaanse skilder Pablo Picasso sou ontmoet. Al was hy in die geselskap van sy destydse minnares, het hy opgestaan en vir haar ’n bakkie kersies aangebied. Dit was die begin van die dekade lange liefdesverhouding tussen die twee. Picasso was toe 61 jaar oud. Dat hy die jonge Françoise sou verlei, het niemand verras nie, want hy was ’n haan onder die vroue.

Die Picasso-Gilot-verhouding is destyds as ’n Mediterreense idille beskou. Dié twee het ’n weelderige lewe gelei, dikwels gereis, in gerieflike huise gewoon en die geselskap van beroemde vriende, soos Braque, Miro, Gertrude Stein en Simone de Beauvoir, geniet. Picasso het Françoise ook aan die skilder Matisse bekend gestel het. Sy het Matisse se werk bewonder en dié skilder het ’n betekenisvolle invloed op haar kuns gehad. Hulle was ook hegte vriende. Dit was Matisse wat die lowergroen en koelblou kleurskakerings vir Picasso aanbeveel het met die skilder van Gilot in skilderye soos Femme au collier jaune (1964) en die serene Femme en vert et mauve (1974). Picasso het Françoise met ’n klein, delikate gesiggie, enorme borste en vierkantige heupe uitgebeeld. ’n Vervloeiing van skoonheid en seksualiteit. In ’n reeks litografieë het hy haar skerp, aantreklike wenkbroue, neus en haar enkele skoonheidsvlekkie herhaal. Dikwels het hy haar bloot as een of ander huishoudelike voorwerp uitgebeeld.

Openbare belangstelling in Gilot was dikwels hoofsaaklik vanweë haar verhouding met Picasso en haar vriendskap met Matisse. Dit het haar grensloos geïrriteer en sy het bewustelik ’n eie styl ontwikkel. Sy wou bekend staan as hul gelyke en het per geleentheid gesê dat sy enige tyd net so interessant soos hulle is. In ’n onderhoud met die tydskrif Mirabella sê Françoise dan ook: “Lions mate with lions. They don’t mate with mice.” Met hierdie woorde verklaar sy haar onomwonde as geen muisvroutjie nie, maar ’n leeuin uit eie reg.

Picasso en Françoise het twee kinders gehad, ’n seun, Claude, en ’n dogter, Paloma. Gilot en Picasso is nooit getroud nie, want hy was steeds getroud met die Russiese ballerina Olga Khokhlova, wat geweier het om van hom te skei.

Net so min soos wat dit mense verbaas het dat Picasso Françoise oorrompel het, net soveel het dit die publiek verstom toe sy haar kinders vat en Picasso ná ’n verhouding van tien jaar verlaat. Die Spanjaard het dit die minste van almal kon glo. Sy ego was geknak, sy reputasie aan flarde en hy het haar terstond as sy vyand verklaar. Volgens Françoise was Picasso briljant, maar vernietigend. ’n Man van wispelturige humeurigheid, woedende uitbarstings en nydigheid, wat groot hartseer vir die mense na aan hom gebring het. In hul verhouding het die donker kant van Picasso haar begin verswelg en sy was nie iemand wat dit sou duld nie. Vir Picasso was ’n vrou óf ’n godin óf ’n deurmat, en Françoise sou haar nie deur ’n man laat vertrap nie. Toe sy hul verhouding verbreek, was dit met genadelose vasberadenheid. Sy was die eerste vrou wat dit sou waag om hom te verlaat, en in ’n poging om sy viriliteit te bewys het hy deur ’n reeks blitsverhoudings gevlieg. Hy is ná die dood van Olga in 1961 met sy assistent, Jacqueline Roque, getroud.

Françoise is in 1955 met die kunstenaar Luc Simon getroud en hulle het ’n dogter, Aurelia. Ná hul egskeiding is Françoise met nog ’n genie, Jonas Salk, die uitvinder van die poliovaksien getroud.

In 1964 het Françoise die gewraakte boek Life with Picasso geskryf. Daarin wei sy uit oor die hel van ’n lewe saam met hom. Picasso het haar herhaaldelik gedagvaar in ’n poging om die publikasie van die boek te stuit, maar sonder sukses.

Uiteindelik is Françoise Gilot deur die Franse Legioen van Eer erken vir haar werk as visuele kunstenaar, maar hierdie toekenning dien as erkenning van veel meer. Dit is ook ’n teken van en waardering vir haar vasberadenheid, vir haar verbete geveg vir die reg om haar kant van die storie te vertel, hetsy deur kuns, boeke, lesings en uitstallings. Dus was dit ’n feministiese onderneming.

Op 94 skilder Françoise Gilot steeds, eers met die linker- en dan met die regterhand in ’n soomlose bedrewenheid. Regop, vurig, en ietwat afsydig, is sy steeds ’n pragtige, indrukwekkende vrou. ’n Ware teenwoordigheid. En haar lippe vorm die woorde: “Ek is nie hier net omdat ek tyd saam met Picasso deurgebring het nie.” Sy beskik oor die vermoë om ten volle in die hede te leef. “Jy oorleef altyd as jy dink jy moet,” sê sy. “Ek het nie toestemming gevra om te wees wie ek is nie.”

Bronne: www.vogue.com; articles.latimes.com; www.Françoisegilot.com; theguardian.com
Gilot, F. en Lake, C. 1964. Pablo Picasso’s love: la femme-fleur. The Atlantic Monthly, Augustus 1964:8

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

2 hours Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.