Beeld van ’n vrou: Mae West

Beeld van ’n vrou: Mae West deur Alita Vorster

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

In die donker dae van die Groot Depressie en die drankverbod in Amerika het daar ’n blink ster in die donker tonnel geskitter, dié van die aktrise Mae West. Dit kon nie anders nie. Die hele Mae West-pakkie was uniek: Sy was flambojant, onafhanklik, uitgesproke en het die erotiese sy van die lewe ligtelik benader.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

In die staaltjies oor die ontwikkeling van die teater en rolprentbedryf in Amerika het dié vrou legendariese status behaal. Tog was haar roem nie net tot Amerika beperk nie – haar bewonderaars was wêreldwyd versprei.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Mary Jane West is op 17 Augustus 1893 in Brooklyn, New York gebore. Haar pa was ’n voormalige bokser wat die kleintjie al van vierjarige ouderdom af saamgesleep het boksgevegte toe. Haar ma was ’n korsetmaker.

Mae het baie vroeg reeds haar buiging op die verhoog gemaak. In 1901, op agtjarige ouderdom, het sy lid geword van Hal Clarendon se teatermaatskappy wat toneelstukke in Brooklyn opgevoer het. Sy het talle van die bekendste kinderrolle vertolk, soos Little Eve, Little Wille en selfs Little Lord Fauntleroy.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Aan die begin van die twintigste eeu was die vaudeville-teaters ’n baie gewilde vorm van vermaak. Vaudeville is ligte, komiese verskeidenheidskonserte wat deur rondgaande geselskappe opgevoer is.

Die teater en sosiale elite het natuurlik neergekyk op hierdie vorm van vermaak, en dit as vulgêr bestempel. Tog het hierdie vertonings toenemend gewild geword by diegene wat op soek was na stoute, dubbelsinnige komedies.

Vaudeville het Mae soos ’n handskoen gepas. Sy het gou berug geword vir haar vertonings wat mettertyd al hoe gewaagder geword en teen 1913, op pad na haar twintigste verjaardag, het sy reeds die kuns bemeester om ’n woord of frase te neem en ietsie “sekstra” daaraan te verleen.

Haar ervaring van vaudeville-teater het een ding by haar ingeprent: gee die gehoor wat hulle wil hê – subtiliteit is nie nodig nie. Moenie huiwer om ’n ding reguit te sê nie.

’n Stuk wat haar gewildheid die hoogte laat inskiet het, was Sex wat sy in 1925 self geskryf het. In Sex maak sy haar verskyning as Margie La Monte, ’n prostituut met ’n hart van goud wat op die hawens ronddwaal.

Die titel van die stuk was op sigself om-strede – die woord seks is in daardie stadium nog nie met vrymoedigheid in enige koerant gebruik nie.

Ná die eerste 37 vertonings is die stuk met ’n skielike polisieklopjag op die teater be-eindig en Mae is tien dae lank op aanklag van obseniteit en sedebederf van die jeug opge-sluit. Die nasionale sedebewakers se hare het meteens penorent gestaan en Mae West is as teiken uitgesonder. Tog het die hele debakel op nasionale vlak besondere publisiteit aan die stuk verleen en natuurlik wou ’n ieder en ’n elk toe die stuk gaan sien.

Boonop was die reklameveldtog vir die stuk formidabel. As jy nie in staat is om opwinding te hanteer nie, gaan spreek eers jou dokter voor jy na Mae West in Sex kom kyk, het die koerante in Chicago gewaarsku. Jong mans het rondgeloop met plakkers met die woord “Sex” daarop en dit oral opgeplak. Bewaar jou siel as jy te lank op ’n plek stilgestaan het! Die woord “Sex” kon dalk net op jou rug beland het.

Die publisiteit rondom Sex het inderdaad baie bygedra tot die loketsukses van haar latere vertonings, Diamond Lil (1928) en The Constant Sinner (1931).

Teen 1930 was dit duidelik: rolprente sou voortaan die vermaaklikheidsbedryf oorheers, veral toe daar klank by die beelde gesit is. Dit het van Mae, wat kon toneelspeel én praat, ’n ideale kandidaat vir die silwerdoek gemaak. Daarby was sy ’n sensuele blondine met ’n formidabele boesem – iemand wat Hollywood beslis nie kon ignoreer nie. Nog ’n pluspunt, wat grootliks tot die sukses van enige rolprent bydra, was haar seksuele en sensuele ingesteldheid.

Haar eerste rolprent, Night after Night, is in 1932 gemaak en vir dié silwerdoekdebuut, wat maar ’n kleinerige rol was, het sy die voorheen ongehoorde bedrag van vyfduisend dollar verdien. Tog het sy dit reggekry om met haar koketterige lyftaal en seksuele dubbelsinnigheid die kollig te steel. Die ster van die fliek, George Raft, het later gesê in hierdie rolprent het Mae alles behalwe die kameras gesteel.

In Night after Night vertolk sy die rol van Diamond Lil, ’n madame/kroegsangeres/prostituut, ’n persona wat sy al voorheen in van haar toneelstukke gebruik het. Wanneer sy haar verskyning in die fliek maak, sê een van die meisies vir Diamond Lil: “Goodness, what beautiful diamonds!” Hierop antwoord dié madame: “Goodness had nothing to do with it, dearie.” Hierdie woorde het Mae natuurlik self uitgedink en word tot vandag toe dikwels as deel van haar wonderlike skat van oneliners en stoute aanhalings gebruik.

Toe Paramount haar ’n kontrak aanbied, het sy ingestem, maar op een voorwaarde: haar volgende fliek is die rolprentweergawe van die toneelstuk Diamond Lil. Dié fliek is in 1933 uitgereik as She Done Him Wrong met Cary Grant as haar medespeler. Die fliek het wêreldwyd alle bywoningsrekords verbeter.

In die stadium was Paramount gereed om aan MGM uit te verkoop en sy 1 700 rolprentteaters in Amerika te sluit en in kantore te omskep. She Done Him Wrong kon nie op ’n beter tyd gekom het nie! Die vervaardiger, William Le Baron, het later gesê die prent moet bekend staan as die een wat Paramount van ondergang gered het.

Teen 1935 het die kombinasie van haar glans, selfspot, seksuele innuendo’s en sensualiteit van Mae die hoogs betaalde vrou in Amerika gemaak.

Maar teen daardie tyd was die sedebe-wakers gereed om tot ernstige aksie oor te gaan. Ná ’n hele reeks Hollywood-seksskandale is die sogenaamde Hays Office in die lewe geroep om rolprente heilsaam te hou. In 1934 is die Hays-kode ingestel om te verseker dat die streng sensuur op Amerikaanse rolprente tot in 1950 sou voortleef.

Die kode het die produksie van rolprente gereguleer en dit was ooglopend ingestel om spesifiek vir Mae West in toom te hou. Die Hays Office het dit in so ’n mate reggekry dat haar volgende fliek, wat It Ain’t No Sin moes geheet het, verander moes word na Belle of the Nineties (1934).

Hoe meer die keurders haar tekste met ’n vergrootglas gefynkam het, hoe meer het Mae dit reggekry om die opmerkings so dubbelsinnig te maak dat dit op verskillende maniere geïnterpreteer kon word.

Hollywood het ook nie gehuiwer om haar stoute kant tot hul voordeel in te span wanneer dit by die publisiteit vir haar prente gekom het nie. So lui die plakkaat vir Klondike Annie (1936): “Sy het die bevrore Noorde rooiwarm gemaak.” ’n Ander slagspreuk wat ook gereeld gebruik is, lui: “Hier is Mae West. Wanneer sy goed is, is sy goed, maar wanneer sy stout is, is sy nog beter!”
Met Klondike Annie, waarin sy die rol van ’n Heilsleërwerker speel, het haar gewildheid as aktrise ’n hoogtepunt bereik.

In 1937 het die nasionale uitsaaidiens, die NBC, byna hul uitsaailisensie verloor ná die uitsending van ’n radiodrama waarin Mae gespeel het. Natuurlik het sy haar gewaagde sy blootgestel wat ’n groot opskudding tot gevolg gehad het.

Toe kom die teleurstellende My Little Chickadee, ’n komedie wat sy en WC Fields in 1940 gemaak en waarvoor albei hul eie tekste geskryf het. Die fliek was glad nie so ’n groot sukses by die loket soos haar vorige prente nie. Daarna kon sy Paramount nie sover kry om haar die hoofrol te gee in ’n prent oor die omstrede Russiese vorstin, Katharina die Grote nie.

Maar sy het haar nie laat onderkry nie en haar teks oor die omstrede figuur Broadway toe geneem en dit in die middel van die jare veertig as Catherine Was Great opgevoer.

Hoewel Mae West se rolprentloopbaan in die Tweede Wêreldoorlog tydelik opgeskort is, kan dieselfde nie van haar gewildheid gesê word nie. Die Geallieerde Magte het selfs hul opblaasreddingsbaadjies na die uurglasfiguur van die seksgodin vernoem. Die woord is tot vandag toe nog in woordeboeke opgeteken. Toe Mae van dié verering hoor, het sy sardonies opgemerk: “Ek was al in die Who’s Who, en ek weet Wat is Wat, maar dit is die eerste keer dat ek in die woordeboek gaan beland.”

Ná die Broadway-sukses van Catherine was Great het sy in 1947 – 1948 ’n baie suksesvolle toer met Diamond Lil na Engeland onderneem. Sy het ook nog vier jaar lank met die gewilde en geslaagde stuk oor die lengte en breedte van Amerika getoer. Hierna het Mae haar loopbaan op die verhoog en nagklubs toegespits.

Sy het in die jare sewentig nog twee silwerdoekverskynings gemaak. Eers in die groteske rolprentweergawe van Gore Vidal se Myra Breckenridge, ’n komedie oor ’n geslagsverandering. Hierin speel Mae die rol van ’n Hollywood-agent. Hoewel daar baie wenkbroue oor die rol gelig is, het sy dit vir oulaas reggekry om die kollig te steel.

Sy het 350 000 dollar vir tien dae se werk verdien en met die première van die rolprent het ’n oproerige skare van ’n nuwe geslag bewonderaars haar ingewag en bewys die ou girl is oud, maar nog lank nie koud nie!

Haar heel laaste verskyning in ’n fliek was in Sextette, die 1977-weergawe van haar eie drama. Maar helaas, die prent is iets wat die meeste Mae West-bewonderaars liewer sou wou vergeet.
Die Hollywood Times het oor die nuwe Sextette geskryf: “Sy maak haar verskyning as ’n 84-jarige, maar probeer hard om ’n onweerstaanbare seksgodin te wees, steeds omring deur ’n leërskare mans. Haar vel is so styfgetrek, sy kry dit skaars reg om haar mond toe te maak oor daardie pragtige tande waarvoor sy altyd so bekend was.”

Mae sukkel ooglopend ook om haar woorde te onthou en ’n radiosender is in haar pruik ingeplant om haar te help om haar gevatte oneliners te help onthou.

Wat ’n oneervolle uittrede, maar beslis nie die einde van die legende nie. Sy is in 1980 op die ouderdom van 87 oorlede.

Van die begin af het Mae West daarop gefokus om die lewe voluit te geniet. Sy het groot slukke van die beker van die lewe geneem, en beslis nie versigtig daaraan geteug nie. Skelm afsprake, vinnige motors, swierige pelse, dae langs die renbane en boksarenas, laat nagte in nagklubs, jazz-musiek en diamante is van die plesierighede wat altyd deel van haar lewe was. Dié energie, wat spesifiek op genot gerig was, is net so tasbaar in al die toneelstukke uit haar pen.

Met die skryf van haar toneelstukke was Mae nooit daarop ingestel om kuns te skep nie. Sy het bloot probeer om soveel mense moontlik na die loket te lok: “Ek gee die mense wat hulle wil hê,” het sy gereeld in mediaonderhoude gesê.

Al haar toneelstukke, van Sex af, was openlik sensueel, wellustig en waaghalsig. Daar was vurige omhelsings en sappige soene en sy het gereeld van haar klere ontslae geraak, maar gestop net voor sy volkome naak was.

Sy het graag in liefdestonele voor gehore optree, want dit het haar ook seksueel opgewek wanneer sy dit reggekry het om ’n klomp mense op te werk.

In een van haar personderhoude sê Mae: “’n Skrywer wat vir die teater wil skryf, moes al self die lewe ervaar het. Sy moet die gehoor bewus maak van al die opwinding wat daar in die lewe te vinde is. Toneelstukke moet so opwindend wees soos die jongste uitgawes van die poniekoerante. Mense kan maar tuis verveeld wees, in die teater moet hulle opwinding smaak. Hulle moet voel, en nie dink nie!”

Daar word dikwels daaroor gedebatteer of Mae werklik die woord seks deel gemaak het van die Amerikaner se algemene woordeskat. Voor die vertoning van haar toneelstuk Sex is die woord inderdaad ook net agter ’n bakhand gefluister of in mediese handboeke genoem.

Mae het dit in ’n groot mate reggekry om die Victoriaanse siening dat seks net aan mans plesier verskaf, die nek in te slaan. Sy het inderdaad baie gedoen vir vroue se seksuele bevryding. Haar credo eggo in die woorde van een van haar karakters: “Ek is ’n vrou wat my reputasie verloor het, maar dit nog nooit gemis het nie!”

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.