kategorieë: InspirasieJou lewe

Belinda Bras-Nel: die “Engelvrou”

Belinda ontdek haar konneksie met die engele

In 2002 was ek 32 jaar oud en steeds verwikkel in ’n diep depressie toe ek ’n noodkreet aan God in die Univers gestuur het. Ek wou weet wat die rede vir my bestaan was. God se antwoord het natuurlik op ’n bonatuurlike wyse gearriveer, in die vorm van gestaltes wat hulself aan my bekend gemaak het as my en my gesin se engele. Aangesien ek desperaat was om van die depressie te ontsnap, het ek met hulle begin gesprekke voer en agtergekom dat hulle saamgesels.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Deure het oopgegaan

Sinkronisiteit het die regte mense oor my pad gebring. Hulle het my ondersteun om ook die boodskappe wat ek vir ander mense ontvang het, te begin deel.  ’n Ruimte is vir my voorsien om kliënte te help met die begeleiding van die engele. Deur “word of mouth” het my kliëntetal aanhou toeneem. Die engele het my gelei om ’n stel Engelkaarte te skilder: “Ask the Angels”. Na ek in 2005 in rooi rose verskyn het, is ek genooi vir radio- en televisieprogramme. Ek is aangespoor om ’n boek oor my ervarings met die engele te skryf. My debuut boek “My pad met Engele” is in 2011 deur Lapa gepubliseer en het hierdie jaar ook in Engels verskyn, genaamd: “Awakening to Angels”.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Tesame met die engele het afgestorwe geliefdes ook begin deurkom in die sessies. Dit was ’n lang leerkurwe, met die engele en God as my onderwysers. Ek het al hoe meer agtergekom hoeveel fisiese en emosionele genesing die terapiesessies met die geliefdes aan die ander kant vir mense bring. Tydens die 14 jaar wat ek reeds die boodskappe gee, het ek ook besef hoe bang mense nog vir die dood is en hoe min hulle eintlik van die proses weet. Weereens met die begeleiding van engele, hierdie keer die Doodsengel, het ek pen op papier gesit om mense se vrese oor die dood aan te spreek en die vrae te antwoord waarmee my kliënte altyd na my toe kom. Hierdie boek: “Versteekte Waarheid – die Doodsengel bring besoek” verskyn in Augustus 2016, gepubliseer deur Naledi.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Mense se reaksie

Om te kies om bekend te maak dat jy met engele praat, is nie ’n maklike keuse nie. Ek het lank oorweeg of ek my man en kinders aan die veroordeling wou blootstel. Maar ek het gekies om vreugde eerder as depressie in ons huis te laat leef, en die engele met ope arms ingenooi.  My kinders se mamma was vernuwe, ek kon weer op my eie voete staan. Ek kan ook aan hulle die gereedskap gee om ’n gelukkige lewe te kweek, soos wat die engele my geleer het om te doen. My man het weer ’n heel vrou as geskenk gekry en ondersteun my onvoorwaardelik.

’n Werk soos geen ander nie!

Aan die begin het ek maar net mense uit my eie omgewing gesien. Ek het ’n kamer by ’n sentrum gehuur en mense het donasies gegee in ruil vir ’n boodskap. Ek is deur moeilike lesse van veroordeling en hoe mense jou kan misbruik. Die engele het my gelei om my eie waarde te ontdek. Ek het ’n vaste bedrag begin vra, een wat die engele aan my voorgestel het, en van daar het die kettingreaksie begin. Ek het nooit geadverteer nie. Ek kry steeds die meeste van my kliënte deur die verwysings van ander.

Verder moes ek leer dat ek uniek is en dat ek nie boodskappe gee soos wat ander mediums dit doen nie. Ek het my talent begin vertrou en daaruit is die boodskappe op die radio en rubrieke vir tydskrifte gebore.  Tog was dit eers vandat ek begin boeke skryf het dat my siel haar passie kon begin uitleef.

Ek weet nie of daar nog iemand is wat so lief is vir hulle werk soos ek nie. Met elke boodskap wat ek gee, ontmoet ek nog engele. Dis soos om self die hemel binne te stap en vir ’n wyle daar te vertoef.

Ván persoonlike boodskappe tót dierekommunikasie

Dit is so moeilik om ’n term te knoop aan wat ek doen. Mense het my die Engelvrou begin noem en ’n koerant het my die Engelfluisteraar gedoop. Ek hou daarvan om myself ’n inspireerder te noem. Dalk nie so treffend nie, maar ek voel my lewensdoel is om mense te inspireer om hul siele se volle potensiaal te uit te leef.

  • Ek doen graag persoonlike boodskappe vir mense, waar ek suiwer die begeleiding van hul engele en geliefdes oordra. Hierdie sessies dien nie as toekomsvoorspellings nie, maar aanmoediging om te glo in jou siel se potensiaal en keuses te maak om dit uit te leef.
  • Ek bied meditasiesessies aan waar mense hul eie ervarings met hul engele en geliefdes kan hê.
  • Ek bied verskeie werkswinkels aan waar mense die geleentheid kry om te ontdek wie hulle is en waartoe hulle in staat is.
  • Ek bied ook dierekommunikasie-werkswinkels aan.
  • Ek tree as inspirerende spreker op vir groepe.
  • Ek leef my passie uit om te skilder en te skryf.

Belinda se boeke

  • My pad met Engele (Lapa) vertel my lewensverhaal – hoe die engele my van selfdoodgevoelens na vreugde geneem het. Verder deel ek al die wyshede wat die engele met my gedeel het, gereedskap om jou lewe te transformeer. Daar is ook boodskappe van die engele oor belangrike lewensonderwerpe en die algemeenste vrae wat kliënte en kinders my oor engele vra, word beantwoord.
  • Awakening to Angels – how the Angels saved my life (Kima Publishers) is die Engelse vertaling van “My pad met Engele” op aanvraag van my kliënte reg oor die wêreld wat nie Afrikaans magtig is nie.
  • Versteekte Waarheid – die Doodsengel bring besoek (Naledi Uitgewers). In hierdie boek deel ek my eie pad wat ek met die Doodsengel gestap het en hoe my pa se afsterwe my lewe dramaties verander het. Nianell en Riana Scheepers is maar twee van die mense wat ook in die boek hul ervarings met afgestorwe siele deel. Sekerlik die belangrikste deel van die boek is om ons vrese vir die dood aan te spreek en die konsep vir onsself te herdefinieer, sodat ons nie ons eie afsterwe sal vrees nie.
  • Die Kind van Keuse (Kima Publishers) is ’n fantastiese fantasieverhaal wat’n engel oor ’n tydperk van ses maande aan my vertel het. Ek het dag en nag geskryf, honger om te hoor wat gaan gebeur. Dis die verhaal van Bea, ’n tienermeisie, wat vlug uit ’n samelewing waar sy ‘n verworpe bestaan gevoer het. As gevolg van ’n fratsongeluk beland sy in ’n parallelle dimensie waar sy nie net haar herkoms ontdek nie, maar ook haar ware self.
  • Elke dag met die Engele is ’n dagboek met daaglikse inspirasies en boodskappe van die engele. Ek is tans besig daarmee.

Meer oor Awakening to Angels

’n Engelse man, van Sotho-afkoms, bel my eendag. Hy vra of hy my boek kan bestel. Na ek aan hom verduidelik het dat dit in Afrikaans is, vra hy my om dit asseblief ook in Engels beskikbaar te stel. Ek verduidelik dat daar baie Engelse boeke oor engele beskikbaar is. Hy lag en sê dat hy graag wil lees dat daar ook engele in Suid-Afrika is wat na Suid-Afrika se mense omsien. Hy wil nie hoor dat daar engele in Amerika is nie, want die “Aliens” land ook net in Amerika. Ek het lekker gelag, maar hierdie man was my inspirasie om die boek in Engels gepubliseer te kry.

Meer oor Versteekte Waarheid – die Doodsengel bring besoek

Dié boek is vir my so belangrik, aangesien elke kliënt wat by my kantoor instap, letsels dra van die dood van ’n geliefde. Daar is dikwels verwyte, onafgehandelde konflikte of gesprekke wat nooit gevoer is nie. Wanneer die geliefde deurkom om te gesels en die persoon van al die onopgeloste emosies verlos, vind daar ’n hergeboorte voor my plaas. Elkeen het soveel vrae en dus is dit goed om al die antwoorde vir hulle op skrif te bied, om weer en weer te oorweeg. Die feit dat ander mense ook hul verhale deel mag dalk vir mense die oorweging bring dat dit nie verkeerd is om jou geliefde langs jou aan te voel nie. In Suid-Afrika is dit nog taboe om daaroor te praat. Ek wil vir mense die ruimte bied om self te besluit of hulle wel hul geliefdes wil ervaar of nie, en dus vrede te maak met die konsep van die dood en wie ons na die dood is.

Meer oor Die Kind van Keuse

Dis wel ’n fiksieverhaal, maar spreek elke tiener se gevoel van “anders” wees aan. Veral dié wat grootword met die talent om dinge te sien wat ander nie kan sien nie.  Deur Bea se verhaal beleef jy die werklikheid van jou eie “andersheid” en hoe jy dit jou eie uniekheid kan maak.

Die kosbaarste dinge wat Belinda geleer het

Deur die engele het God vir my die kosbaarste geskenk kom gee. Ek het skielik besef ek is nie ’n pion op ‘n skaakbord nie, maar ek het  k’neuse om saam met God aan my lewe te skep. Elke dag bou ons aan ons eie ervarings met dit wat ons vir onsself glo. Met die hulp van die engele se begeleiding het ek my eie negatiewe gedagtes begin vervang deur hoop en geloof in vreugde. Die engele daag my gereeld uit om steeds meer vir myself te glo, en so word ek herhaaldelik nuut gebore.

Belinda se wens vir ander

Ek het ’n intense begeerte om ook ander te inspireer tot ’n vreugdevolle lewenservaring. Ons sal nooit aan siekte of swaarkry kan ontsnap terwyl ons ’n aardse liggaam en bestaan het nie. Maar ons het ’n keuse oor hóé ons dit ervaar. Ek wil niemand oortuig of verander nie. Ek wil net vir hulle die sleutel gee, sodat hulle nie ook eers teen ’n muur van selfvernietiging hoef vas te loop om tot die besef te kom nie. Die engele sê altyd vir my dat die lewe nie so moeilik hóéf te wees nie.

Kontak Belinda hier

Ek deel daaglikse inspirasies van die engele op my Facebook-blad Belinda Bras-Nel asook op Instagram.

Op my Facebook-groep: Walking with Angels, deel ek weeklikse en maandelikse begeleiding van die engele. Kyk ook na die “Events” vir inligting oor my optredes. Al die nuutste inligting oor my boeke is beskikbaar op my Facebook skrywersblad: Belinda Bras-Nel @Belinda.angel.author

Alle inligting oor my, my werk, datums van optredes, werkswinkels en boekbekendstellings is beskikbaar op my webtuiste: belindabrasnel.co.za – hier kan jy ook sien waar om my boeke, kaarte en CD’s, asook kunswerke te kry.

Deel
Gepubliseer deur
Mariette Snyman

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

5 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.