kategorieë: Bekendes

Emma Stone: Blonde ambisie

Die meisie uit Arizona lyk heel gelukkig en ontspanne in haar wit Dolce & Gabbana-somerrok en bruingrys Bryan Atwood-hoëhakskoene. Haar pragtige rooi hare is deesdae blond (haar oorspronklike haarkleur) vir haar rol as Spider-Man se meisie in The Amazing Spider-Man. Die nuus dat sy en haar medespeler Andrew Garfield in die regte lewe ook verlief is, het pas uitgelek. Maar die aktrise met die blink, groen oë en heserige stem swyg. Sy bevestig of ontken niks. Niemand weet of die jong verhouding sal hou nie, maar ons weet wel dat nie een van die akteurs ligsinnig is oor hul werk en lewe nie, en dat die vonke op die skerm die ware Jakob is.

Wat het jou aangetrek tot Gwen, jou karakter in The Amazing Spider-Man?
Ek hou van sterk, onafhanklike karakters. Dis die soort vroue wat ek graag in flieks wil sien en met wie ek my kan vereenselwig. Gwen het al hierdie eienskappe, maar is ook die tipiese damsel in distress. Haar storielyn en sage is tragies en ikonies. Die Romeo en Juliet-aspek van hul verhouding het my meegevoer. Wat vir my veral interessant van Gwen is, is haar intense bewustheid van sterflikheid omdat die dood haar pa en kêrel heeltyd in die gesig staar. Sy is bewus van tragedie, en leef asof sy niks het om te verloor nie.

Wat sien Gwen in Peter Parker wat haar op hom verlief laat raak?

Hulle was saam op skool en ken mekaar al lank. Nog voor hy ’n superheld was, was hy al dapper en ietwat geheimsinnig. Sy sien dit in hom raak. Hulle deel dieselfde belangstellings en intelligensie. Dit was regtig opwindend om weer vir die eerste keer verlief te raak. Daardie gevoel voor jy weet hoe dit voel wanneer jou hart breek (lag). Dis ’n oorweldigende, verterende, onbeholpe soort liefde.

Jy het een van die sexieste stemme in die bedryf. Het jy beheer oor die effense krakerigheid? Dis so doeltreffend.

Ek probeer om my stem te beheer – ek moes as kind dikwels stemterapie ondergaan. Ek het knoppies op my stembande en dis wat my stem so hees maak. Vandat ek volwasse is, probeer ek om my stem so laag moontlik te hou. Ek gebruik ook asemhalingstegnieke om my stem te beheer. Omdat ek my stem maklik verloor, wil ek graag beter raak met die beheer daarvan omdat ek wil sing en dans. My stem breek op sy eie, ongelukkig, sonder enige hulp van my kant af (lag).

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die toneel in die skoolgang tussen Gwen en Peter was dierbaar. Hoe was jy as tiener?
Ek was verantwoordelik. Ek was baie jonk toe ek uit die huis is en wou veral nie my ouers teleurstel nie. Hulle het gesê as ek droogmaak, sal ek so vinnig terugtrek huis toe dat my kop sal tol. Hulle het bedoel ek moenie dom dinge doen en onverantwoordelik optree nie. Ek was altyd bewus daarvan.

Jy het kleintyd al geweet wat jy wil doen. Wat wil jy deesdae uit die lewe hê?

Ek wil groei en meer leer. Ek wil verskillende klasse neem. Ek is in my hoërskooljare tuis onderrig en het ook nie universiteit toe gegaan nie. Dit het my eers vanjaar getref dat almal wat so oud soos ek is, lankal uit die universiteit is en vaste, bestendige werke het. Ek het nie een van die twee nie. Ek het geen universiteitskwalifikasies of werkservaring nie. Ek het ’n groot behoefte om ander tale aan te leer en vakke te neem waarvan ek niks weet nie. Wat my werk betref, wil ek meer ontdek en dieper delf. Toe ek jonger was, het ek nie ondervindings gehad waaruit ek kon leer nie, en wil nou rolle kry waarin ek dit kan doen

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Wat wil jy in jou persoonlike lewe hê?
Geluk, bestendigheid en balans. Ek streef regtig na balans. Dis vir baie mense ’n lewenslange ideaal om balans tussen jou persoonlike en professionele lewe te kry.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sal jy Spiderwoman vertolk as hulle jou vra?
Nee, ek is ’n ongeluksvoël en het al soveel bene gebreek en per ongeluk seergekry. In Zombieland het ek die tweede dag al ’n spier geskeur deur net te hardloop (lag). Ek moes vir drie weke fisioterapie kry. So, nee, ek dink nie ek het die fisieke stamina om so iets te doen nie, maar as hulle my vra om te dans is ek daar. Enige tyd.

Hoe mededingend is jy?
Glad nie. Ek het nie aan sport deelgeneem toe ek jonk was nie. Ek was ’n danser en deel van ’n dansspan. In komedies is jy so afhanklik van jou mede-akteurs dat dit nie ’n plek is waar jy kompeterend kan raak nie. Ek hou daarvan om saam met mense te werk. Ek voel dieselfde oor toneelspel. Al die akteurs in my ouderdomsgroep doen oudisies vir dieselfde rolle, en ek voel ons kan eerder vriende wees en mekaar ondersteun omdat ons almal hierdeur moet gaan. Dis vir my heerlik om vriende te maak met mense wat in dieselfde bootjie as ek is. Dis moeilik om kwaad vir iemand te wees omdat sy ’n rol gekry het as jy nie in beheer van die besluit is nie. Dit maak seer, maar dis nie asof ek jou kar steel nie (lag).

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Wat van die negatiewe aspekte van kompetisie?
Dis ’n persoonlike ding. As ek bedreig voel, of jaloers is op iemand, is dit my probleem. Ek is bewus daarvan. Ek moet dit hanteer. Dis nie ander mense se plig om kleinlikheid te hanteer nie. Ek ervaar soms sulke emosies, ek is net menslik. Maar ek probeer om myself vir my emosionele reaksies verantwoordelik te hou.

Jy gaan uit met Spider-Man …

O, regtig? (lag).

Van watter eienskappe van Andy hou jy, en van watter eienskappe van Spider-Man hou jy?

Sal jy omgee as ek na die tweede deel van die vraag toe spring? Spider-Man is verleidelik omdat hy die menslikste van die superhelde is. Ek dink foute en menslikheid in karakters is baie aantreklik, want jy kan jou daarmee vereenselwig. Batman is verskriklik ryk. Superman is onaantasbaar, behalwe as dit by kriptoniet kom. Daar is iets baie tieneragtig en menslik aan Spider-Man. Jy is aan sy kant, want hy is die underdog.

Jy het binne twee jaar van ’n belowende jong aktrise tot ’n bekende ster gevorder. Doen jy nou enigiets wat jy altyd gesê het jy nooit sal doen nie?
Jy bedoel iets geks? Soos dat al die bruin M&M’s verwyder moet word omdat ek net van die gekleurdes hou? Nee, ek maak net ’n grap (lag)! Ek het nooit gedink ek sal my gesig wegsteek as iemand op straat ’n foto van my neem nie, maar ek het dit al gedoen. Toe ek jonger was, het ek het nooit gedink ek sou so-iets doen nie. Maar die werklikheid is skrikwekkend. Dit lyk dalk glansryk vir ’n twaalfjarige, maar die realiteit is iets heel anders.

Spider-Man gaan oor uitgeworpenes. Het jy ooit soos ’n uitgeworpene gevoel?
Ek was in ’n gewone laerskool, en daarna is ek by die huis onderrig. In Phoenix, Arizona, was daar hierdie ongelooflike jeugteater waar ek in toneelstukke gespeel het. Ek het reeds vroeg my groepie mense gekry waarby ek ingepas het. Ek was gelukkig, ek het nooit uit gevoel nie. Ek was in ’n groep wat mal was oor komedies en Bette Davis-flieks. By die skool was ek altyd die grapjas.

Sal jy tuisonderrig aanbeveel?

As my kinders ander belangstellings het as wat ’n mens gewoonlik op skool leer, of as hulle stadiger of vinniger as die ander kinders leer, sal ek hulle by die huis leer, eerder as wat hulle voel hulle pas nie in nie. Hoërskool het vir my gewerk, want ek het in sielkunde en filosofie belang gestel, wat jy gewoonlik eers op universiteitsvlak kon neem. Ek kon daaroor nalees en het ook joernalistiekklasse geneem. Die internet maak dit ook deesdae makliker. Jou ouer hoef nie vir ses uur per dag langs jou te sit nie. Dis ’n baie interessante manier van leer.

Jy sê jy streef na balans. Maar hoe kry jy dit?

Ek leer nog hoe. Ek het nou my eerste vakansie, hoewel ek steeds onderhoude doen. Ek het sedert November nog nie aan ’n fliek gewerk nie, en was by die huis in New York. Ek het weer by my vriende en e-posse uitgekom. Ek het nooit ’n vaste roetine nie. Ek kan nie sê dis Vrydag en joga-dag nie. Of dis Woensdag, vandag gaan ek saam met vriende uiteet nie. Ek ontdek nog wanneer om gewone goed soos inkopies te doen. Dit was nog nooit nodig nie. Dis iets wat ek gereeld met my sielkundige bespreek (lag).

Wat skoonheid en mode betref, voel jy jy moet jou aanhangers gelukkig hou?
Ek kan niemand gelukkig hou nie, net myself. As ek probeer om mooi te wees, sal ek die stryd verloor, want dis so subjektief. Ek is baie gelukkig om die Revlon-verteenwoordiger te wees. Diane Keaton het L’Oréal gedoen en Ellen DeGeneres doen Cover Girl. Ek het gedink hulle het persoonlikheid, is snaaks en menslik, en dis presies wat skoonheid moet wees. Hulle inspireer jong meisies wat voel dat hulle nie soos ’n model hoef te lyk om mooi te wees nie. Revlon doen ook ongelooflike welsynswerk en borskankernavorsing. Dit was een van die belangrikste redes waarom ek die Revlon-kontrak aanvaar het. Ek het gevoel ek het ’n verantwoordelikheid om vir jong mense te wys dat jy nie soos die tipiese mooi vrou hoef te lyk wat net heeldag met haar voorkoms besig is nie. Dis nie my werk om mooi te wees nie. Ek is ’n akteur en probeer om elke dag so menslik moontlik op te tree. As daar iets is wat ek kan doen om mense te inspireer om gelukkig met hulself te wees sal ek dit doen.

Hoekom is kanker vir jou ’n groot kwessie?
My ma het driedubbele negatiewe borskanker wat net 8% van alle vroue tref. Dis ’n baie aggressiewe en skrikwekkende vorm van borskanker en nie iets waarvan baie mense weet nie. Ek praat nooit oor my persoonlike lewe nie, maar my ma stem saam dat ek hieroor moet praat sodat meer mense daarvan kan weet.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.