kategorieë: Leef gesondGesondheid

Boepie: vetjies of fibroïede?

’n Lewe vry van fibroïede is moontlik. Die nuwe embolisasie-terapie kan jou pyn laat verdwyn en jou lewe verander. Deur Salomé Delport. Foto Freepik

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Tanika Gray Valbrun pronk in haar spierwit rokkie. Eintlik spog sy behoorlik. Asof sy wil seker maak jy sien hoe wít haar rok is. En dan hoor jy hoekom. ’n Wit rok, of selfs enige ligte kleur was jare lank taboe. So taboe as om te praat oor die rede waarom sy vroeër meestal swart gedra het. Soos so baie van ons ook maak wanneer ons dieselfde probleem het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Ek het fibroïede. Dit beteken ek menstrueer baie, baie swaar. Ek weet nie wanneer die fibroïede begin ontwikkel het nie. Ek weet net dat ek van veertien af baie swaarder as my maats met maandelikse menstruasie gekry het.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Menstruasie is steeds ’n bietjie van ’n taboe onderwerp. In sommige kulture en huise word daar nie sommer so ligtelik oor persoonlike kwessies gepraat nie. En die ingeligtes wat wel daaroor praat, soos sprekers en onderwysers in die lewensoriënteringklasse, is almal uiters positief. Menstruasie word aangebied as ’n seën, ’n teken dat alles normaal is. Daarby verseker hulle jou dat ’n siklus van een dag net so normaal is as vyf dae of tien. Dit is goed so. Vir die meeste meisies ís menstruasie taamlik gemaklik. Maar wat as dit nie is nie?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Vir die meeste meisies ís menstruasie taamlik gemaklik. Maar wat as dit nie is nie?

Toe Tanika met haar ma oor haar swaar menstruasie praat, moes sy hoor haar ma het dieselfde probleem op daardie ouderdom gehad maar dat alles wel later verbeter het.

Op dertien, veertien is jy maar net ’n onervare kind en jy aanvaar jou soort maandelikse patroon as “normaal”. Tanika het eers in haar twintigerjare besef dit is nie normaal om te bang te wees om te gaan fliek of kuier nie. Dit is nie normaal om “deur te slaan”, snags twee, drie keer doekies om te ruil, altyd doekies byderhand te moet hou en selfs bykomende stelle klere en onderklere oral saam te neem nie. Dit is nie normaal om elke maand jou lewe ’n week lank opsy te skuif omdat die baie werklike risiko op verleentheid net te waarskynlik is nie.

Tanika se menstruasieprobleem is eers baie later korrek gediagnoseer, en sedertdien moes sy ’n verskeidenheid behandelings ondergaan voor sy uiteindelik by ’n lewe sonder fibroïede uitgekom het. Vandag reis hierdie Amerikaanse vrou die wêreld vol om mense oor fibroïede in te lig. Sy was onlangs ook in Suid-Afrika.

“Ek het myself belowe dat ek ’n wit rok gaan dra oral waar ek gaan. Vir my is dit die simbool van die innerlike krag, deursettingsvermoë en moed wat ek nodig het om my missie deur te voer om vroue oor fibroïede in te lig.

“Ek is ’n enigste kind, want my ma het weens fibroïede haar ander babas ná miskrame verloor. Sy het so swaar gekry dat sy vroeg al ’n histerektomie ondergaan het. Fibroïede het haar alle kanse op nog kinders gekos. As ek my sin kry, sal niemand anders onnodig so swaar moet kry nie.”

Wat is fibroïede?

Fibroïede in die baarmoeder is goedaardige groeisels aan die wand van die baarmoeder. Estrogeen en progesteroon (jou swangerskaphormoon) stimuleer die groei.

Meestal pla hulle nie maar by sommige vroue lei dit tot swaar, pynlike menstruasie wat met daardie kenmerkende gevoel van opgeblasenheid gepaardgaan. By sommige vroue raak die fibroïede al groter en kan selfs tot 30 cm in deursnee bereik.

Hierdie vroue lyk tipies of hulle swanger is. Daar word soms selfs verwys na die grootte van ’n fibroïed as kleiner of groter as ’n 12 weke-swangerskapsgrootte.

Jy kan jou indink dat veral groot fibroïede daardie tipiese swangerskapklagtes gaan veroorsaak: laerugpyn, die behoefte om kort-kort te ’n draaitjie te moet loop, asook hardlywigheid.

Vir baie is seks pynlik en ongemaklik. Wanneer ’n vrou met fibroïede sukkel om swanger te raak, word fibroïede as ’n moontlike oorsaak gereken.

Ek lyk swanger … is dit fibroïede?

Jou ouderdom beïnvloed jou kanse:
Twee uit elke vyf vroue ouer as 35 het fibroïede. Dit hinder hulle nie noodwendig nie maar as jy swaar menstrueer, is dit beslis iets wat ondersoek moet word. Doen dieselfde ook wanneer jy eintlik skraal is maar net nie van jou boepmagie ontslae kan raak nie.

Ná jou menopouse
As jy in jou menopouse is, verdwyn die fibroïede vanself, aangesien jy nie meer die hormone het wat die groei daarvan stimuleer nie.

Tieners en twintigers
Fibroïede is veronderstel om taamlik skaars onder jonger meisies te wees. Dr. Femi Olarogun, ginekoloog aan die Universiteit van Kaapstad se Private Akademiese hospitaal, sê dat hy taamlik gereeld jong vroue van 25 met reusefibroïede sien.

“Dit is beslis baie meer algemeen onder ons swart meisies. Ervaring hier en in die VSA dui daarop dat fibroïede by swart vroue groter is en vinniger teruggroei as by Kaukasiese vroue.

“Maar dit kan op enige ouderdom begin groei, by enige vrou. As jou ma fibroïede het, is die kans goed dat jy dit ook sal hê.

“As jy met swaar menstruasie sukkel, vra jou dokter om te kyk. Vroue met fibroïede word tipies eers ná vier en selfs elf jaar korrek gediagnoseer. Onthou, daar kan ook ander redes vir swaar menstruasie wees, wat in elk geval aandag moet kry.”

Wat is jou opsies?

Net ’n klein groepie vroue het behandeling nodig, sê dr. Gary Sudwarts, ’n intervensie-radioloog wat in embolisasie spesialiseer. “As jy geen nadele ervaar nie en jou kans om swanger te raak is nie in gedrang nie, hou ons dit maar net dop.”

Vroeër was ’n histerektomie die enigste suksesvolle opsie vir die vroue met ernstige fibroïede. Dit is net baie drasties, en boonop is tot ’n derde van die vroue binne ses maande in ’n vroeë menopouse, sê hy.

“Dit kan aanvaarbaar wees as jy ouer is. Maar as jy nog eers met jou gesinnetjie wil begin, kan jy gerus na embolisasie kyk. Dit beteken eenvoudig dat ons die are toemaak wat die fibroïede van bloed voorsien. Hulle moet dus krimp. Die tegniek is veilig, so te sê pynvry en verlig baie gou die swaar menstruasie en ander ongemak. Jy is binne ’n week piekfyn.”

Ander tegnieke is hormoonbehandeling en die uitsny van die fibroïede.

“Die groot voordeel van ’n embolisering is dat jou baarmoeder behoue bly, en danksy hierdie tegniek bly jou kans op swangerskap ook die beste behoue. ’n Mens moet ook onthou dat fibroïede weer kan begin groei. Die kans hierop is die kleinste ná ’n embolisering,” sê hy.

Spreek jou ginekoloog

• As jy fibroïede vermoed, raadpleeg eers jou ginekoloog, of kontak die Fibroid Treatment Clinic by fibroids.co.za
• Jy kan moontlik vir hulp by die opleidingshospitale kwalifiseer, hoewel embolisasie nie beskikbaar is nie.

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

7 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

7 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.