Ná talle kinkels en mooi liefdesverhale wat die pas afgelope seisoen van Boer soek ’n vrou opgelewer het, maak Kupido weer gereed om sy eerste pyle in die 18de seisoen van dié gewilde kykNET-maatsoekreeks af te vuur.
Die boere, tussen 26 en 43 jaar oud, kom van oor ses provinsies — met die Vrystaat wat die voortou neem, en Noordwes wat hierdie jaar deur ’n vroueboer verteenwoordig word.
Die splinternuwe seisoen word van Augustus 2026 op kykNET uitgesaai, wanneer kykers weer die boere se liefdesreise sal volg. Soos altyd, sal die vyf boere wat die meeste briewe ontvang, die hoofstorie vorm.
Ontmoet Boer Jacques (32), ‘n makadamianeutboer van Nelspruit (Mpumalanga)

Huistaal: Afrikaans
Hoogste akademiese kwalifikasie: Matriek
Huwelikstatus: Ongetroud, geen kinders
Belangstellings: Reis, motorfietstoere, jag en oefen
Hoekom het jy ingeskryf vir Boer soek ’n vrou?
Ek sien nie meer kans om alleen die lewe en al sy dinge aan te pak nie. Ek soek ’n vrou aan my sy wat my heel sal maak.
Watter eienskappe soek jy in jou ideale pasmaat?
Ek soek ’n vrou wat my ondersteun in wat ek doen en bereid sal wees om by my te staan en die pad saam te loop; ’n vrou wat weet wat reg en wat verkeerd is en haar waardes eerste stel; ’n vrou wat kan praat oor dit wat op haar hart is, hoe moeilik dit ook al mag wees – iemand wat kan kommunikeer.

Hoe sal jy jouself beskryf?
Ek is baie perfeksionisties en hardwerkend, maar ek weet wat die balans tussen hard werk en ontspan moet wees. Ek gee soms my eie geluk prys om ander gelukkig te maak en daag op wanneer dit van my verwag word.
My stokperdjie is om te reis en nuwe plekke te sien en om die meeste te maak van my vrye tyd. Ek hou van motorfietsry, om op staptogte te gaan, oor naweke weg te gaan en om goed saam met vriende te doen. Dit hou my aan die gang. Oefening en gesond wees is ook vir my belangrik.

Wat is die belangrikste les/lesse wat jy uit vorige verhoudings geleer het?
Kommunikasie, ondersteuning en moeite is belangrik. Liefde en vriendskap is iets wat jy nooit voor moet vra of smeek nie. As dit reg is, dan sal dit daar wees.
Sien jy jouself as romanties?
Beslis. Ek het konstant idees in my kop oor dinge om saam te doen en tyd saam te geniet sonder dat tyd verlore gaan, al is dit klein en eenvoudig. Tyd is kosbaar.

Vertel ’n bietjie meer oor jou verhoudingsgeskiedenis
Ek het nie baie verhoudings in my lewe gehad nie, maar wel ’n baie lang verhouding wat nie uitgewerk het nie. Alhoewel dit groot letsels gelaat het en my hart aan skerwe was, het ek beter daarvan afgekom. Die vrou wat my nou ontmoet, gaan met die beste weergawe van my wegloop.
KYK | Ontmoet Boer Jacques

As jy vir een van die boere wil skryf:
- Besoek www.kyknet.tv
- Bel die vervaardigers, Wolflight, by 079 614 2229
- Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com
- Stuur ’n brief of pakkie na Boer soek ’n vrou, Coronation-laan 11, Somerset-Wes 7130
- Besigtig die boere se profiele op die Afrikaanse maatsoek-app, KOER
- Voornemende pasmaats kan tot middernag 4 Desember 2025 vir die boere skryf
