kategorieë: Ons menseBekendes

Bouwer Bosch gesels oor Thys & Trix

Deur Catherine Schenck. Foto’s: keyart.co.za

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die aksie-komedie Thys & Trix begin vandag, 22 Junie 2018, in fliekteaters wys.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Eggenote Bouwer Bosch en Leandie du Randt-Bosch skeppers van die film Thys & Trix vertolk ook die hoofrolle van Thys en Trix, ’n broer en suster wat ywerige maar onbeholpe polisiemanne is. Hulle onderlinge getwis veroorsaak dat hulle geskors word omdat hulle weer eens die polisie in die verleentheid gestel het. Hul kaptein, speurder Solomons (vertolk deur Brendon Daniels), ondersoek ’n misdaadsindikaat wat vanuit ’n eksklusiewe gholflandgoed in Mosselbaai werk. Omdat Thys en Trix ’n “vanilla”-voorkoms het, word hulle gekies om deel te wees van die ondersoek om die aandag af te lei van speurder Solomons se ondersoek. Maar dié broer en suster moet voorgee dat hulle ’n getroude paartjie is, wat die situasie bemoeilik … Kort voor lank het hulle ’n lys verdagtes wat bestaan uit hul nuwe bure op die landgoed. En die vraag op almal se lippe is: Wie is betrokke by die vervaardiging en verspreiding van MTHC, ’n verlammende hallusinasiemiddel?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die rolverdeling sluit ook in Zak Hendrikz, Dorette Potgieter, Charlie Bouguenon, Deon Coetzee, Ivan Zimmermann, Chanelle de Jager en Carine Rous.

Kyk hier na die lokprent van Thys & Trix

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Vertel ons meer oor jou karakter, Thys, en oor sy verhouding met sy suster, Trix.

Thys is baie naïef. Hy beplan alles en doen niks impulsiefs nie. Hy het goeie bedoelings, maar sy optrede laat hom soms in die steek. Hy gee baie om vir sy suster Trix (vertolk deur Leandie du Randt-Bosch), maar hy weet nie altyd hoe om dit te wys nie. Trix is ’n beter polisieman as hy, maar die feit dat hy koelkop kan bly, tel soms in sy guns.

Hoe het julle aan die storie vir Thys & Trix gekom? Hoe het julle te werk gegaan om die fliek te skryf en te vervaardig?

Oorspronklik het Leandie se pa die storie vertel van die polisie wat hom en sy vrou die dag ná hul troue afgetrek het met hul kar vol geskenke en “Just Married” op die ruite. Die polisie het nie die kar deursoek nie, want die nuwe paartjie wat nou op honeymoon gaan, het nie verdag gelyk nie. Toe dink ons dit sal ’n great storie maak om undercover te gaan as ’n getroude paartjie wat iets smokkel, of om die gereg te ontduik. Ons het met Danie Bester (die  vervaardiger) gesels oor die moontlikheid om saam te werk en hy was gretig om saam te werk – net soos ons. Hy is ’n ongelooflike vervaardiger. Ons het saam met Deon Meiring en Ernst van Wyk aan ’n baie rowwe eerste draft geskryf en toe besef ons kort hulp en toe het Quinton Krog, Sean Daniels en Frannie van der Walt van The Writers Block die skryfwerk oorgeneem. Dit was ongelooflik toe ons hoor Quinton stel belang, want ons is baie groot aanhangers van sy werk.

Hoe het jy voorberei vir die aksietonele? Moes julle enige spesiale opleiding kry vir iets?

Thys is gelukkig nie so ’n waaghals soos Trix nie, so daar was darem nie te veel fisieke voorbereiding nie. Ons het wel van die stoeitonele vooraf gaan uitwerk. Leandie het met Jagveld behoorlike opleiding gekry met ’n vuurwapen, so ek dink dit het baie gehelp in hierdie rolprent.

Wat was die snaaksste ding wat agter die skerms gebeur het?

Daar is ’n toneel in die fliek waar ons ’n couples-gholfdag het en ek moet afslaan terwyl Leandie my vashou. En met die eerste skoot van die dag slaan ek toe die bal met die kant van die stok en slaan vir Deon Coetzee raak. Dit was snaaks en darem nie te ernstig nie, maar ons het almal groot geskrik, want dit kon erger gewees het.

’n Deel van die fliek speel hom op ’n gholflandgoed in Mosselbaai af. Het julle baie gholf gespeel wanneer julle nie geskiet het nie? Wie is die beste gholfspeler in die span?

Ek kan nie gholf speel om my lewe te red nie, die res van die span het van die geleentheid gebruik gemaak, maar in die drie weke wat ons daar geskiet het, het ons net vier dae af gehad, so ons het maar net geslaap, of soos verslaafdes Netflix gekyk. As ek reg  onthou, was Quinton die beste gholfspeler onder almal.

keyart

Jy skryf baie komedie – films, advertensies, produksies. Wat is vir jou snaaks?

Goeie vraag. Ek het nogal ’n vreemde sin vir humor, dink ek. Reaksies is vir my snaakser as die gebeurtenis. Die meeste mense sal lag vir iemand wat op ’n nat vloer gly, ek lag vir die mense om hom se reaksie. Ek dink kykers reageer meer en kan hulle meer vereenselwig met reaksies as met ’n snaakse gebeurtenis. Iets soos The Office of Parks and Recreation is my tipe komedie. Net alledaagse mense in vreemde situasies.

Waaroor sal jy nog baie graag ’n fliek maak?

Ek het nog altyd gehou van die dinamika en die verhouding tussen pa’s en hul seuns en ek sal ’n lekker komedie wil aanpak oor ’n pa en sy seun en hul verhouding en hoe albei eintlik maar net die lewe wing.

Ek werk baie lekker saam Bennie Fourie, ek dink ons sal ook nog ’n buddy-komedie of twee wil aanpak.

Hoewel ons jou die afgelope ruk meer voor en agter die skerms in films gesien het is jy steeds besig met jou musiek. Met watter musikale projekte is jy tans besig?

Ek werk aan ’n paar enkelsnitte vir die jaar. Ek gaan vir eers ’n bietjie op liedjies eerder as albums fokus. Daar is ’n paar lekker samewerkings met nuwe kunstenaars waaroor ek baie opgewonde is.

Lees ook oor Bouwer se vorige album.

Saam met wie sal jy nog graag wil musiek maak?

Ek is ’n groot aanhanger van Hemelbesem en ek sal nie omgee om iets saam met hom te doen nie. Spoegwolf is ook een van my gunsteling-bands, so daar is ook nog ’n droom wat hopelik sal waar word.

Wat is tans op jou playlist?

Die nuwe George Ezra-album is op repeat. Aquilo het ’n nuwe album wat ook ietsie lekkers vir die siel bied, en Malcolm Gladwell se “Revisionist Historypodcast is ook een van my gunstelinge waarna ek nie kan ophou luister nie.

Jou onderneming, Liefde Wen, het onlangs ’n digbundel met plaaslike digters se werke uitgereik. Wie is jou gunsteling-Afrikaanse digter?

Ek is bevoorreg om Bibi Slippers al langer as tien jaar te ken. Ons was ná skool vir twee jaar by ’n dramageselskap betrokke. Om te sien hoe sy nou een van die land se voorste digters is en ’n legende gaan wees (en reeds is) in die literatuurwêreld is so lekker. Ek sou sê sy is tans my gunsteling-digter.

Lees hier meer oor die Liefde Wen-digbundel.

Jy het ook jou eie reeks podcasts. Waaroor handel jou podcasts en met wie gesels jy?

Ek gesels maar met mense wat vir my interessant is; mense wie se lewe of lewensuitkyk my uitdaag. Ek probeer oor moeilike goed praat rondom ons land se verlede, maar ook oor moeilike goed wat vandag aangaan. Hoe meer jy oor moeilike goed praat, hoe makliker word dit om daaroor te praat. Deesdae gaan my lewe baie oor “unlearning”, so ek probeer my maar  in gesprekke gooi waar ek kan leer en terselfdertyd goed afleer. Soms gaan die gesprekke net oor mense se stories: Almal hou van ’n goeie storie en in Suid-Afrika sit ons met mense met die ongelooflikste stories.

Klik hier of hier om na Bouwer se podcast te luister.

Wat waardeer jy die meeste van jou vrou Leandie?

Sy is ongelooflik inspirerend – die manier hoe sy haar drome najaag, asook hoe sy met mense is. Sy het ’n passie om mense te help en werk te skep met haar klerereeks, Skoonma. Ek dink nogal ek kan  gekompliseerd wees, so ek waardeer dit dat sy altyd uit haar pad sal gaan om my toe te laat om complicated en stukkend te wees – soos wat ons almal maar is.

Wat is die belangrikste les wat jy al geleer het?

Omring jou met mense wat beter as jy is. Dit is gratis onderrig.

Lees ook: Bouwer Bosch: Bou eerder as breek

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.