Kykers van Skemergrond het reeds gehoor van Justin, die man uit Chelsea se verlede. Nou maak hy uiteindelik sy verskyning in Gemoedsdrif, en sy aankoms gaan meer as een lewe omkrap.
Braeden Buys vertolk die rol, en hy sê wat Justin vir hom interessant maak, is dat hy nie die tipiese nuwe karakter is wat met geheime agendas opdaag nie.
“Gewoonlik is daar ’n tydperk waar nuwe karakters nog hul plek moet vind, maar Justin pas amper onmiddellik in asof hy nog altyd daar gehoort het. Wat jy sien, is wat jy kry. Daar is min misterie aan hom en geen verborge agenda nie.”
Hy beskryf Justin as iemand wat mense maklik op hul gemak stel en ’n vertrek kan ophelder bloot deur in te stap.
“Hy is warm, hardwerkend en suksesvol. Ek dink hy is ’n goeie voorbeeld van wat moontlik is wanneer jy verby jou onmiddellike omstandighede kyk en groter droom.”

Brutney Singrew wat die rol van Chelsea vertolk.
’n Groot deel van Justin se storielyn draai om sy geskiedenis met Chelsea. Volgens Braeden lê die aantrekkingskrag van hul verhouding in ’n vraag wat baie mense hulself al afgevra het: Wat as?
“Hulle deel baie geskiedenis en het ’n sterk fondasie gehad. Die uitdaging was uiteraard afstand – iets waarmee baie hoërskoolverhoudings sukkel wanneer mense volwassenheid betree. Wat dit interessant maak, is dat hulle albei weer ’n kans kry om daardie ‘wat as?’ te ondersoek.”
Hoewel Justin ná jare terugkeer na ’n wêreld wat intussen aansienlik verander het, glo Braeden sy karakter hanteer uitdagings met groot volwassenheid.
“Hy voel dinge diep, maar hy bestuur sy emosies goed. Wat vir my besonders van hom is, is dat hy nie net sy eie gevoelens in aanmerking neem nie, maar ook ruimte maak vir dié van ander mense.”

Justin se aankoms plaas egter nuwe druk op die dinamiek tussen Chelsea en Louis.
“Hy het ’n groot invloed op mense. Dit is nie noodwendig iets wat hy doelbewus doen nie – dit is net wie hy is. Justin en Louis verskil op baie maniere, maar een ding wat hulle deel, is hoe diep hulle vir Chelsea omgee.”
Braeden was juis tot Justin se opregte belangstelling in mense aangetrokke.
“Ek hou daarvan om met mense te praat en na hulle stories te luister. Dit is iets wat ek met Justin deel. Sy instinkte en sy opregte omgee vir ander mense was vir my baie interessant om te speel.”

Braeden Buys was tot Justin se opregte belangstelling in mense aangetrokke. (Foto: Verskaf)
Die rol het ook op net die regte tyd in sy loopbaan gekom. Braeden het pas ’n nege maande lange speelvak van Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat voltooi toe hy die oproep vir Skemergrond ontvang.
“Ek het letterlik my musiekblyspelkontrak afgehandel en kort daarna begin verfilm. Die grootste voorbereiding was om van musiekteater terug te skuif na televisie en weer in daardie ritme in te kom. Gelukkig het Justin baie natuurlik vir my gevoel.”
Hoewel daar nie spesifieke tonele was wat emosioneel uitputtend was nie, onthou Braeden sy tonele saam met Troy Paulse, wat Sal vertolk, met groot waardering.
“Ons het baie pret saam gehad. Wanneer jy met kinders werk, moet daar ruimte wees vir verbeelding en spontaneïteit. Kinders het ’n ongelooflike vryheid wat akteurs soms verloor wanneer ons dinge begin ooranaliseer.”
Oor wat kykers van Justin kan verwag, hou Braeden sy kaarte dig teen die bors. “Al wat ek sal sê, is: ‘Gee hom ’n kans’.”
Skemergrond word Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: Brutney Singrew oor ‘Skemergrond’: ‘Wat eens net ’n droom was, is nou my realiteit’
