kategorieë: Ouerskap

Bytjies & blommetjies

Sy is een van die spogkinders van haar skool. Akademies het sy uitgeblink en sy het ’n paar agtereenvolgende jaar die nasionale redenaarskompetisie gewen. Janet Ferreira* is ’n agtermekaar meisiekind en haar ouers se trots. Sy was 15 toe sy vroeër vanjaar die eerste keer seks met haar hoërskoolliefde, die 16-jarige Jean-Pierre*, gehad het. Hulle het toe al vyf maande uitgegaan en het saam besluit dat hulle seks wil hê.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Ek was een van die enigste meisies in ons groep wat toe nóg nie seks gehad het nie. Almal het my laat verstaan dis anyway nie so ’n big deal om jou maagdelikheid te verloor nie. En feitlik al my vriende doen dit,” vertel sy. “Ek is regtig nie ’n losbol, goedkoop of ’n slegte girl nie. Maar ek gee baie om vir Jean-Pierre en het werklik gereed gevoel om saam met hom te slaap.” Sy en Jean-Pierre het kort daarna, een aand terwyl sy ouers uit was, by hul huis in Morelettapark seks gehad. Daarna het hulle byna elke week minstens twee of drie keer seks gehad – óf by sy huis, óf haar huis, by partytjies waar die ouers nie daar is nie (en selfs waar die ouers wél daar is) en hulle het dit tot al ’n keer in die skool se toilette gedoen.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Tog, as jy vandag vir Janet se ma vra of haar dogter nog ’n maagd is, sal sy daarby sweer. “My ouers is regtig verskriklik konserwatief en vir hulle is seks voor die huwelik nie eens ’n opsie nie. Ek beny my vriendinne wat openlik met hul ouers oor hierdie goed kan praat, want ek gaan eerder dood voor ek my ma vertel ek en Jean-Pierre slaap saam. Natuurlik is ek doodbang om swanger te word, maar dis nie so maklik om voorbehoedpille in die hande te kry nie, en bowenal is ek bang my ma kom daarop af. Sy sal my nie vergewe nie. “Dit sal my ouers se harte breek as hulle weet ek is nie meer ’n maagd nie, maar die werklikheid is dat ek amper niemand ken wat op my ouderdom nog ’n maagd is nie. “Selfs al is ek bang om swanger te raak, het dit my nie gekeer om seks te hê nie. Jean-Pierre sit elke keer ’n kondoom aan … My ma sal waarskynlik die héél laaste mens wees wat weet ek is swanger, as dit ooit met my moet gebeur. Dis ironies, want ons het eintlik ’n baie goeie verhouding.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Janet se vertelling is die werklikheid en ’n situasie wat hom waarskynlik in menige ouerhuis afspeel – of ouers nou daarmee saamstem of nie. En al sweer jy hulle die dood voor oë, of soebat hulle op jou knieë, jy het geen waarborg dat hulle nié seks gaan hê nie. “Die redes hiervoor is omdat ons kinders al meer en al vroeër aan seksualiteit en seksuele inligting blootgestel word,” sê Ilze van der Merwe, ’n opvoedkundige sielkundige en die medeskrywer van die boek Maklike antwoorde op ongemaklike vrae. “Ry jy op doodgewone paaie met jou kinders op pad skool toe, word jy gebombardeer deur advertensieborde waarop halfkaal vroue poseer. Sit jy die TV aan, is daar helder oordag seks in jou televisiekamer. Kinders hoor van seks op die radio, in musiek en veral by hul maats. En dís waarom jy as ouer reeds vandat jou kinders so jonk soos drie jaar is, ’n oop verhouding oor seksualiteit moet hê,” sê Ilze. Dit beteken nie jy moet jou tiener aanmoedig om seksueel aktief te wees nie, maar ’n oop verhouding oor seks sal hulle meer bewus maak van alles wat daarmee gepaardgaan.

Ilze sê dat Oprah Winfrey en die tydskrif Seventeen se onlangse navorsing gewys het dat meisies wat van kleins af seksuele voorligting gekry het en ’n oop verhouding met hul ouers oor die saak het, eers baie later seksueel aktief raak omdat hulle presies weet wat seks behels en wat om te verwag. Dis wanneer kinders met die idee leef dat seks iets magies en onbereikbaar is dat hulle meer geneig is om vroeër daarmee te eksperimenteer. Om jou kinders bloot te verbied om seks te hê, gaan glad nie help nie. “Gesels eerder vroegtydig en openhartig met hulle oor seks. Praat met hulle oor die gevare daarvan, maar moenie net op die negatiewe aspekte konsentreer nie. Praat eerder ook oor die implikasies van ’n seksuele verhouding; stel vas wat jou dogter se emosionele verwagtinge is, en of sy seker is die seun gaan haar sy vaste meisie maak. Vir jou seun kan jy vra of hy nie ’n wanindruk van ’n meisie het nie? Hoekom wil hy so graag met haar seks hê, is dit nie dalk net vir sy eie seksuele bevrediging nie?” sê Ilze. En wat as jou tiener jou wel genoeg vertrou en sê dat sy daaraan dink om seks met haar kêrel te hê? Ronel* en Kobus* het ’n goeie en oop verhouding met hul dogter Karlien*.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hulle sê desondanks was dit vir hulle een van die moeilikste goed toe sy in haar graadtienjaar vir hulle kom vertel dat sy dit oorweeg om seks met haar kêrel te hê. “Ons was albei geskok. Ons het met haar oor die saak gesels en wou veral weet hoekom sy dit wou doen. Haar antwoord was dat sy regtig baie vir hom omgee.” Kobus het haar daarop gewys dat as sy haar maagdelikheid vir ’n ou gegee het, dit vir altyd aan hom gaan behoort. Sy kan daardie “geskenk” nooit weer vir iemand anders gee nie. Haar antwoord was dat nie een van haar vriende meer maagde is nie. Sy het uit gevoel en wou nie die enigste tiener op aarde wees wat nog ’n maagd is nie. “Wat jy in ruil kry, is die aanvaarding van ’n groep vriende wat oor ’n paar jaar nie meer deel van jou lewe gaan wees nie. En jy koop die guns van ’n seksmaat wat nie met jou gaan trou nie en wat waarskynlik oor ’n maand ’n ander meisie gaan hê. Moenie dink ’n orgasme gaan hierdie ou joune maak nie,” het Kobus sy kind probeer waarsku. Tevergeefs. Die volgende dag het Ronel vir Karlien na hul huisdokter geneem en die situasie verduidelik.

Hy het ’n voorbehoedpil voorgeskryf en ook ’n MIV-bloedtoets laat doen. Hy het aanbeveel dat haar kêrel ook eers die toets doen voor hulle seks het. “Dit was een van die moeilikste goed wat ons in ons lewe moes doen, maar aan die ander kant het ons geweet dis eintlik maar onvermydelik. Ons kan nie die risiko loop dat ons meisiekind swanger raak nie. Natuurlik stel ons steeds grense. Sy en haar kêrel het beslis nie nou die groen lig om seks te hê soveel hulle wil en wanneer hulle wil nie,” sê die ouerpaar. Ilze sê hulle is wyse ouers. “Natuurlik kan jy nie jou tiener aanmoedig om seks te hê nie, maar omdat Karlien gekies het om haar ouers te vertrou, mag hulle haar nie wegstoot nie. Dit help nie jy as ouer steek jou kop soos ’n volstruis in die sand nie – die kwessie gaan nie weggaan nie. Dis ’n werklikheid dat ’n baie klein persentasie jongmense seks weerhou tot hulle getroud is.”

Vir meisies

Ilze sê: “Die werklikheid is dat seks jou lewe heeltemal omver gaan gooi. Onthou, wanneer jy jou maagdelikheid vir ’n seun gee, gaan jy voel hy skuld jou iets. “Seks kan jou swanger maak en ’n swangerskap gaan jou lewe handomkeer verander. Wil jy regtig nou al ’n baba hê? Besef jy dit gaan ál jou toekomsplanne beduiwel, jou jongmenslewe binne ’n oogwink beëindig? ’n Swangerskap gaan jou dwing om groot besluite te neem waarvoor jy eintlik nog glad nie opgewasse is nie. “Onthou, tienerseuns is testosteroongedrewe masjiene – en sommige seuns manipuleer meisies om met hulle seks te hê. Moenie swig voor goed soos: ‘As jy my liefhet, sal jy met my seks hê nie.’ Die kans is heel goed dat hy jou in elk geval oor ’n maand of twee gaan los, al het jy met hom seks gehad. Die uiteinde gaan wees dat jy woedend vir jouself is, en elke kriesel selfrespek gaan verloor.”

Vir seuns

“Meneer, besef jy dat jy net soveel verantwoordelikheid dra as jy ’n meisie swanger maak? Is jy gereed om nou al ’n pa te word en na ’n kind om te sien? “Seksueel oordraagbare siektes is ’n werklikheid en sodra jy roekeloos met seks is, is jou kanse net soveel groter om ’n seksueel oordraagbare siekte op te doen. “Respekteer jou eie lyf én ’n meisie se lyf deur dit nie met seks te misbruik nie. Van seks kan jy baie siek word, selfs doodgaan, en jy kan ’n ouer word op sestien en jou hele lewe opduiwel. Jy verbind jouself in siel, gees en liggaam met die mens met wie jy seks het, en jy leef dalk vir altyd met daardie bindinge.”

Die wêreldbekende menslike gedragspesialis dr. John Demartini van die Demartini Institute se boodskap vir tieners oor seks: “Wanneer jy verlief is, bruis ’n stroom hormone deur jou liggaam – serotonien, vasopressien, adrenalien en feromone – en dit laat jou brein dink dat jy regtig lief vir iemand is. En eintlik is jy soveel weerloser in hierdie staat van verliefdheid – jy doen goed wat jy oor die algemeen nie eens sou oorweeg het nie. “Sodra ons seks met iemand het, raak ons ’n bietjie magteloos. ’n Sterk mens wat bemagtig is, is baie meer selektief met sy/haar seksmaats. Die kuns is om soveel selfwaarde en agting binne jouself te vind dat jy nie sommer saam met enigeen in die bed sal spring nie. “Elke keer as jy saam met nóg iemand anders slaap, minimaliseer jy jou net nóg ’n bietjie en raak jy al weerloser.”

Die ding met die ring

The silver ring thing is ’n wêreldwye beweging wat tieners van elf jaar en ouer probeer oortuig om nié seks voor die huwelik te hê nie. Met musiek, komedie, video’s en diskoteekagtige beligting, dra verskillende jongmense die boodskap oor die nadele van seks voor die huwelik uit. Dit sluit ook ’n bekentenis van iemand in wat reeds sy/haar maagdelikheid verloor het en besluit het om wel die eed af te lê. Aan die einde van die gratis voorlegging kan jongmense kies om hul eie eed tot maagdelikheid af te lê en dan ’n ring teen R100 te koop as die simbool daarvan. Dan kies hulle ’n verantwoordelikheidsmaat – iemand van dieselfde geslag wat ook die eed afgelê het – om hulle te ondersteun. Dié onderneming van ’n tiener is nie ’n waarborg dat die kind nie seks gaan hê nie, maar dit kyk wel op ’n alternatiewe, moderne manier na die voordele daarvan om eerder te wag tot jy getroud is. Die program is ook oop vir jongmense wat reeds seksueel aktief was, maar wat sekondêre maagdelikheid wil beoefen. Webwerf by www.silverringthing.co.za

Ilze van der Merwe is ’n opvoedkundige sielkundige by die Bella Vida-sentrum – 011 463 4438. * Skuilname is gebruik.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

6 hours Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.