kategorieë: Bekendes

Helen Mirren: Reguit prater

Oscar-wenner Helen Mirren is een van die wêreld se voorste aktrises en boonop ’n “dame”, tog het sy op ’n volwasse ouderdom in meer naaktonele as baie van die jong sterretjies gespeel. Sy is ’n reguit vrou met ’n saaklike houding – die een wat jy aan jou kant wil hê as daar ’n rusie uitbreek.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Helen is in Chiswick, Engeland, gebore en het as dertienjarige op skool begin toneelspeel. Sy het eers heelwat later roem verwerf as Jane Tennison in die Britse TVminireeks Prime Suspect, en in 2006 het sy ’n Oscar gekry vir haar rol as koningin Elizabeth in The Queen. Sy is getroud met die Amerikaanse rolprentregisseur en -vervaardiger Taylor Hackford.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Haar pa, Peter, was ’n Russiese uitgewekene met ’n stamboom waarin daar met adellike bloed gespog word. Daar word selfs in Tolstoi se War and Peace na van hul familielede verwys, maar die Mirrens van Engeland is nie naastenby die Mironoffs van Rusland nie. Peter het hul van verander toe Helen nege was. Hy was ’n staatsamptenaar in die Britse Departement van Vervoer en haar ma, Kathleen, ’n huisvrou.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Welgesteld was hulle nie. Haar ouers was kommuniste en het die Britse klassestelsel verag. Sy is min aan die buitewêreld blootgestel en het nooit gaan fliek of televisie gekyk nie. Haar beskutte lewe is voortgesit in ’n skool waar nonne die dissipline met ’n ysterhand toegepas het en daar nie sprake van kontak met seuns was nie. In hierdie wêreld was ’n professionele loopbaan as akteur buite die kwessie. Ná skool het sy toe maar ’n beurs aanvaar om onderwyser te word, maar het skelmpies oudisies by die National Theatre afgelê. Sy het ’n plek in die teatergroep losgeslaan, en die res is geskiedenis. Sy is ’n uitstekende aktrise en haar rolle is oorvloedig en veelsydig.

Helen se vertolking van Sofya, vrou van die beroemde Russiese skrywer Leo Tolstoi in The Last Station, word as ’n kragtoer beskryf. Dis ’n komplekse, humoristiese en emosionele storie oor hoe moeilik dit soms kan wees om lief te hê, en hoe onmoontlik dit is om daarsonder klaar te kom. Christopher Plummer en James McAvoy speel teenoor haar.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hoe selfsugtig is jy? Doen jy wat jy wil doen, of wat jy dink jy behoort te doen?
Toe ek jonger was, het ek dikwels geglo dat ek sekere goed moet doen omdat dit goed is vir my. Maar nou sal nie iets doen as ek dit nie wil doen nie; ook nie omdat ek dink ek behoort dit te doen, of omdat dit my verantwoordelikheid is nie. As aktrise doen ek ook net wat ek regtig wil doen. In dié opsig help dit dat my man so professioneel en ondersteunend is. Ons is albei bewus daarvan dat ons nie te selfsugtig kan wees nie; ons hou altyd die ander een in gedagte.

Wie dink jy kan die wreedste wees? Mans of vroue?
Sjoe, ek dink vroue kan baie vernietigend wees maar op ’n ander manier as mans. Hul wreedheid is meer sielkundig, skadeliker en sonder dat ander mense dit raaksien. Mans se wreedheid is baie meer ooglopend, meer fisiek. Maar mans is verantwoordelik vir die meeste oorloë en wreedhede. Wie weet was sal gebeur as vroue net soveel mag as mans het?

Een van my gunstelingtonele in The Last Station is die een waar jou karakter kwaad word en goed begin breek. Wat doen jy as jy regtig kwaad word?
Ek word soos almal ook soms briesend, hoewel ek ’n baie kalm, vriendelike mens is. As dit gebeur, huil ek gewoonlik (lag). Ek huil van pure woede. Maar ek het al ’n paar goed gebreek – een keer selfs ’n telefoon uit die muur geruk!

Vertel van jul pelgrimstog Rusland toe.
Dit was ’n ongelooflike ervaring om op die grond te loop waar my pa gebore is en my oupa gebly en dit met soveel liefde beskryf het. Dit behoort nou aan ’n ryk, Russiese rampokker-tipe wat met sy twee gewapende lyfwagte daar opgedaag het. Hy sê toe: “Welkom op my grond.” Maar toe sê ek: “Welkom op my grond.” (Lag). Sy lyfwagte het seker gedink ons gaan ’n tweede revolusie begin om ons grond terug te vat.

Daar was ’n ongelooflike foto van jou in ’n bikini. Hoe kry jy dit reg om jou lyf so mooi te hou?
Ek kry dit glad nie reg nie. Ek was net gelukkig, want dis op dieselfde oomblik geneem toe ek vir my man vir ’n foto geposeer het. Ek het my maag ingetrek en allerhande ander goed gedoen wat ’n mens nie gewoonlik doen nie. Ek was net gelukkig, ek belowe. Ek hou aan om dit te sê, maar niemand glo my nie. Ek oefen glad nie gereeld nie en my roetine is net daarop gemik om my energievlakke hoog te hou vir werk – dis nie ’n voorkomsding nie. Ek glo ’n mens word oud, jy kan dit nie stop nie. Die belangrikste is om gesond en fiks te probeer bly. My werk kan baie veeleisend wees. Die afgelope twee jaar het ek van een rol na die ander gevlieg, en ek moes sorg dat ek kon voorbly.

Hoe verloop ’n goeie dag vir jou?
Dit sal tuinmaak, inkopies en lees insluit. Ek sal net by die huis ronddrentel.

Is jy lief vir lees? En vir Tolstoi?
Ek het ’n paar jaar gelede ’n boek oor my lewe geskryf. Dit was maklik en het my ’n voorsmakie van skryfwerk gegee. Ek het gedink as ek weer tyd het vir my eie dinge, sal ek ’n boek probeer skryf, miskien ’n roman. Ek het Tolstoi se War en Peace in my twintigerjare gelees – wat ’n ongelooflike boek – hoewel ek nie regtig van die vroue daarin gehou het nie. Hulle kon nie vir hulself opkom nie; hulle was slagoffers, of is op ’n manier gemanipuleer.

Hoe hanteer jy verandering?
Die beste lewensles is om te leer om jou instink te volg. As akteur moet jy voortdurend keuses maak. Jy verduur werkloosheid, dan kry jy ’n rol en jou hele lewe verander. Dit beïnvloed alles, ook dinge soos waar jy gaan bly. Hierdie besluite was vroeër vir my ’n marteling, maar later het ek geleer om net diep asem te haal, te ontspan en my instink te vertrou – al is dit nie altyd die regte besluit nie!

Watter soort eggenoot is jy?
Vanweë ons werk is ons lang tye van mekaar af weg, maar ons verhouding kan dit vat. Ek is altyd verskriklik bly as ek my man sien (lag). Ek sou graag heeltyd by hom wou wees, maar die werklikheid van ons lewe laat dit nie toe nie. Maar wanneer ons saam is, is ons vreeslik gelukkig. Ons baklei soms vreeslik, snaaks genoeg gewoonlik sommer die eerste week, maar jy kom daardeur en gaan aan.

Dink jy die verhouding tussen ouer vroue en jonger mans kan werk?
Onvanpaste verhoudings was nog altyd ’n werklikheid. Dit was deel van die lewe in Shakespeare se tyd. Dis nie ’n nuwe verskynsel nie. Verhoudings tussen ouer vroue en jonger mans kan besonder goed werk. My pa was agt jaar jonger as my ma en hulle was baie gelukkig. Maar dit kan netsowel op ’n tragiese mislukking ook uitloop. Dis net omdat mense kamtige reëls vir verhoudings uitgedink het dat daar so ’n bohaai oor die ouderdomsverskil in ’n verhouding gemaak word. Maar kyk jy na die geskiedenis en menslike gedrag, sien jy dat baie mans gemakliker is saam met ’n ouer vrou.

Jy speel gereeld sterk vroue wat bekend is vir hul swakhede. Hoe oorkom jy joune?
Dis die kwetsbaarheid van die sterk karakters wat hulle interessant maak. My eie foute is te veel om te tel. Dis elke jaar my Nuwejaarsvoorneme om te probeer om al hierdie swakhede te oorkom!

Het jou houding teenoor die lewe verander namate jy ouer word?
Hoe ouer ek raak, hoe makliker word dit om ontslae te raak van alles wat my altyd angstig gemaak het, en ook van vooroordele. Ek laat mense toe om te lewe soos hulle wil, sonder om te probeer inmeng.

Verkies jy om ouer vroue te speel?
Ek verkies dit om my eie ouderdom te speel. Noudat ek ouer word, maak dit nie vir my ’n verskil of ek 59 en ’n half of 62 is nie (lag). Die lewe gaan aan. Ek sien nie verjaardae as groot mylpale nie. Jy word net ouer en raak hopelik ’n bietjie wyser. Dis al wat vir my van belang is.

Waar kry jy energie om so baie te reis?
Dis baie moeilik om te vlieg en dadelik te begin werk. Ek slaap baie. Wanneer ek baie hard werk, kuier ek nie regtig nie. Ek gaan nie uit vir drankies of gaan eet uit nie. Ek gaan huis toe en slaap. Ek bestee die middagetes in my aantrekkamer en probeer ’n uiltjie knip. Dis vir my baie belangrik. Vlugvoosheid, soos jy weet, is iets waarmee ’n mens moet saamleef. Ek drink vitamienes en leef gesond.

Jy het eens gesê dat alles wat jou goed gemaak het, het jy by mans geleer. Het hulle jou ook geleer om so jonk te bly?
Nee, maar hulle het my ander dinge geleer. Hulle het my geleer hoe om die natuur te waardeer en van musiek te hou. ’n Ander kêrel was mal oor boks en het my alles van boks geleer, nou hou ek ook daarvan. Ek is baie oop om nuwe dinge te leer. Ek glo dis belangrik. Niemand kan vir altyd jonk bly nie, dis belaglik om so te dink, maar ons kan altyd aanhou leer. Dis belangrik om jou nie af te sluit nie, hoewel dit so maklik gebeur. Ons raak onverdraagsaam en bekrompe. Ons dink ons weet alles, maar eintlik weet ons niks nie. As jy ouer word, moet jy daarop let om jou oop te stel vir nuwe ervarings en dinge te aanvaar.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.