As jy gedink het die Vaal was rustig en vreedsaam, dink weer. Showmax se splinternuwe realiteitsreeks, Vaal Riviera volg vier gesinne wat in Vanderbijlpark en Vereeniging woon en bied ‘n vars soort glans tesame met komplekse familie- en vriendskapsdinamika, alles met ‘n plaaslike kinkel.

Vaal Riviera word vervaardig deur POP24, dieselfde span wat met The Mommy Club: Van Die Hoofstad ’n rekord opgestel het vir die Afrikaanse program met die meeste kykers op Showmax.
Vanderbijlpark en Vereeniging, aan die oewer van die Vaalrivier, het nou wel ’n ander soort glans as Pretoria… En, hoewel dit klein dorpies is, is die drama ewe groot.

Een ding omtrent die Arangies? Hulle doen niks halfpad nie. Bernelee is dapper, brutaal eerlik, en nooit sonder ’n skerp woord op die tong nie. Bernelee is ’n kantoorbestuurder, en haar man, Charl, is ’n renmotorbestuurder en hoof van die familiebesigheid. Hul dogter Allegra is wyser as haar jare en weet presies wat sy wil hê. Intussen is klein Aaliyah ene vuur en flair.
Charl Arangies vertel meer van sy Vaal Riviera-reis:
Wat het jou vir Vaal Riviera laat instem?
Wat my na die wêreld van realiteitsprogramme gelok het, was ‘n mengsel van faktore. Eerstens, vir die ervaring. Hierdie geleentheid kom net een keer in jou lewe. Tweedens, my vrou en ek het ‘n storie gehad om te vertel, en dit was die perfekte platform.
Voordat jy by die program aangesluit het, watter soort gesprekke het jy en jou vrou gehad oor julle lewens op kamera?
My vrou en ek het ‘n baie diep en eerlike gesprek oor die program gehad. Dit is natuurlik nogal ontmoedigend om jou hele lewe daar buite te plaas en mense toe te laat om kommentaar op jou daaglikse lewe te lewer, maar ons wil ‘n verskil in mense se lewens maak. Daar is baie mense wat dalk deurmaak wat ons deurgemaak het, en ons wil hulle help om daardeur te kom. Ons wil verhoudings help groei en vir mense wys dat opgee nie die antwoord is nie.
Wat het jou passie vir motorsport aangewakker?
Motorsport is al lank deel van my lewe. Ek het op ‘n renbaan grootgeword. My pa het eintlik ‘n renbaan besit, so motorsport was deel van my daaglikse lewe vir so lank as wat ek kan onthou. Toe ek 21 geword het, was ek gelukkig genoeg om ‘n renmotor saam met my pa te kon bou, en dit het alles vir my begin. Van daar af was motorsport ‘n wipwaentjie, met baie motors, baie kampioenskappe wat ons gelukkig genoeg was om te wen, en ‘n klein besigheid wat ons hieruit kon bou. Om dit semi-professioneel te kan doen, is ‘n droom wat waar word.
As jy Vaal Riviera met motorsport-taal moes opsom, wat sou jy sê?
Dit is een helse rit, ‘n stormloop van die begin af.
Daar is geen tekort aan realiteitsprogramme nie. Wat onderskei Vaal Riviera?
Wat hierdie program onderskei, is die familie-aspek. Daar is soveel realiteitsprogramme wat net om ma’s of vrouens of dies meer draai. Hier is mans betrokke, en ons kinders is betrokke. Dit maak die program baie beter as enigiets anders. Dit is nie net vir vroue nie; dit is vir almal.

Wat was van die uitstaande oomblikke en onverwagte hoogtepunte tydens die reeks se verfilming?
Daar was baie uitstaande oomblikke vir my, soos om my passie vir motorsport te kon wys, ‘n nuwe vriend wat ek in hierdie ervaring gemaak het, uit te daag, daardie verhouding te laat groei, en dit saam met my familie, my vrou en my twee pragtige dogters te kon doen. Dit was so ‘n prettige rit.
Was daar enige verrassings of agter-die-skerms realiteite van verfilming wat jou onkant gevang het?
Die grootste uitdaging was hoeveel tyd en energie realiteitsprogramme van jou vereis. Dit neem heelwat van jou skedule in beslag en, ja, jy is weke aaneen besig.
Om verhoudings te bestuur was ook uitdagend. Ons word almal in ‘n drukkoker geplaas, en op ‘n stadium gaan daar probleme wees, so dit was die grootste ding waarmee ons gesukkel het: om ons verhoudings met die ander mense te bestuur.
Waarmee sal kykers aanklank vindl?
Ek glo dat almal sal kan vereenselwig met ons daaglikse stryd waardeur ons gaan, van verhoudingsprobleme tot die balansering van familie en ‘n besige sportlewe.
Waarom moet mense Vaal Riviera kyk?
Mense behoort Vaal Riviera te kyk, want dit is ‘n aksiebelaaide, vinnige program met drama en ‘n klomp lag, maar meestal is dit ‘n gesonde gesinsprogram, met mense met wie mens kan identifiseer en vriendskappe wat ‘n leeftyd sal hou.
Nuwe episodes van Vaal Riviera word Dinsdae op Showmax vrygestel.
Lees ook: Boer soek ’n vrou: Hierdie pasmaats word plaas toe genooi
