kategorieë: Ons menseBekendes

Clarabelle van Niekerk, reënboog energie

Onthou jy die tyd toe sangers soos Laurika Rauch, Jannie du Toit en Clarabelle van Niekerk ons met die Afrikaanse luisterliedjie-beweging bekoor het? Dink mooi voor jy ja sê – jy gee dalk jou ouderdom weg!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Clarabelle het destyds twee albums, Roep die engele en Ek sê maar net, uitgereik. Toe verdwyn sy van die plaaslike musiektoneel. Nou is sy terug met Stories, haar eerste album in 24 jaar. En al woon sy sedert 1986 in Amerika is die liedjies almal in Afrikaans.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Afrikaans is die punt van my hart. Suid-Afrika is inderdaad waar ek op my gelukkigste is, tussen my mense wat my lag en my ‘mal’ verstaan. Boeregasvryheid bestaan nie hier in Amerika nie. Die mense nooi mekaar nie oor vir koffie of tee met ’n bord tuisgemaakte koekies of vir aandete nie; hulle kuier meestal in ’n restaurant. Daardie heerlike boeregeskreeu en maaglagstories om ’n lang houttafel met ’n paar lekker bottels rooiwyn bestaan net in Suid-Afrika.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Tog is Clarabelle nie spyt oor haar skuif na die vreemde nie. “Die lewe draf maar soos hy moet en ek moes hierheen kom vir al die lesse wat ek moes leer. Ek woon nou in Meadville in Pennsyl-vania tussen die Amish met die blou rokke en die kapkarretjies, rollende groen heuwels en blou mere.”

Een ding is seker: in haar 29 jaar in die VSA het Clarabelle gewoel en gewerskaf. Jou kop draai omtrént as jy hoor wat sy alles uitgerig het. Eerstens is daar haar hartsverhouding met die skilderkuns. Sy het ’n graad in die beeldende kunste en is ’n residensiële kunstenaar vir die Pennsylvania Council on the Arts. Haar skilderye is in ’n rits galerye en museums in die VSA uitgestal – gaan na www.saatchiart.com/clarabelle of besoek haar facebookblad vir ’n kleurryke kyksessie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Wanneer ek op ’n skilderdag wakker word, huppel ek behoorlik na my ateljee. Terwyl ek verf, ‘word’ ek die skildery. Dit praat met my en ek luister om agter te kom wat die skildery nodig het om dit magical te maak … Ai, daai onbereikbare magic wat soms met sy sexy boude so voor jou kom ronddans en dan sonder waarskuwing agter die gordyne verdwyn! Hy kom wanneer hy lus is – partykeer as ’n bonus ná ’n lang, toegewyde sessie of soms, onverwags, gooi hy ’n hand vol sterre deur die oop venster.”

Clarabelle het groot sukses met die skryf en illustrasie van kinderboeke behaal. Onder haar talle bekronings tel die Ameri-kaanse Dolly Gray Children’s Literature Award. Sy en haar dogter, Liezl Venter, het dit ontvang vir hul boek Understanding Sam and Asperger Syndrome wat in 2010 verskyn het. Liezl is ’n spraakpatoloog wat in outismespektrum-stoornisse spesialiseer, en nes Clarabelle het sy jare lange ervaring in die gebruik van die uitvoerende kunste om studente se sosiale vaardighede en akademiese prestasies te verbeter.

Clarabelle het onder meer ’n kwalifikasie in Integrating Art, Music and Poetry into Education aan die Edinboro University in die VSA verwerf. Daar is skynbaar geen einde aan die maniere waarop sy kuns inspan om kinders én volwassenes se horisonne te verbreed nie. Jare gelede het sy en haar eksman, Roger Bashew, in die VSA en Kanada met ’n poppeteater oor die klassieke komponiste getoer. “Ek het reusepoppe uit klei ge-sculpt. Ons het musiek gekomponeer en opgeneem en die poppe saam met die klankbaan gemanipuleer. Dit was ’n wêreld van kinders vol verwondering en hekse met lang neuse, blink oë en toutjieshare – soms het dit gevoel of die poppe werklik leef! My seun, Zee, toe net vier, het hom gate uit geniet.”

Twintig jaar lank het Clarabelle in opdrag van die Pennsylvania Council on the Arts werkswinkels by skole en universiteite aangebied.

“By een skool het die leerders, meestal uit die inner city, gesukkel om hul tafels te onthou. Hulle was dol op rap. Ek het ’n liedjie gekomponeer waarvoor hulle hul eie dans moes choreografeer en self die lirieke moes skryf – alles moes rym. Daarna was vermenigvuldigingsprobleme iets van die verlede!”

In haar bloed

Musiek was van kleins af deel van Clarabelle se lewe. “My ma was ’n operasangeres, koordirigent en musiekonderwyseres en my pa die direkteur van ’n musiek/kuns/dramaskool. Ek onthou die musiekklanke as ek hom in die skoolgebou gaan soek het – hoe-wel die klaskamers bedoel was om klankdig te wees, was dit ’n mengelmoes van operastemme, toonlere, viole wat gestem word en poppeteaters met drake wat regte rook blaas. Dit was ’n magiese wêreld.

“Toe ek 17 was, het ek tjello gespeel in die Vrystaatse Jeugorkes en ons is gekies om deur Switserland te toer. Watter fantastiese ervaring! Lewenslange vriendskappe is hier gesmee. Daar was ook ’n vreeslike gesoenery op die bus as ons saans ná optredes hotel toe ry.

“Prof. Jack de Wet, ons dirigent, was genadeloos. Het jy te min geoefen, het hy jou alleen voor die hele orkes laat speel en as daar ’n verkeerde noot was, moes jy ’n Voortrekkerkappie dra. Daar is niks so snaaks soos ’n tienerseun wat ernstig viool speel met ’n Voortrekkerkappie op sy kop nie!”

Die dramaturg Reza de Wet het Clarabelle aan Rosa Keet voorgestel, deur wie sy by die luisterliedjiebeweging betrokke geraak het.

“Ek en Anton Goosen kom ’n lang pad, want ons was saam op skool in Kroonstad. Amanda en Laurika was altyd close pelle en toe ek weer sien, tree ons almal by die Markteater op.

“Ek was nooit regtig gemaklik met optredes nie; ek het my vingers spierwit gebid agter die verhoog! Vir my is die wonderlike deel die komponeer en veral die opname van liedjies – ek is gek daarna om ritmes, teksture en kontrapuntale harmonieë in ’n liedjie in te weef.”

In die VSA het Clarabelle ’n musiekgroep met die naam Bollomahkissy gehad – “so gespel dat die Amerikaners dit korrek kon uitspreek. Ons het vanaf 1996 tien jaar lank oral in die land opgetree. Baie van die liedjies was in Afrikaans; die gehore was betower deur die Afrikaanse klanke. Die band het tot begin om woorde soos lekker, jol en bliksem te gebruik!

“Die vibe was rou en baie fans het hul lywe los gedans, tot twee- of drieuur in die oggend. Ons laaste optrede was in die Kennedy Center in Washington DC, op dieselfde verhoog as Mariah Carey. In daardie stadium is ek en Roger geskei en moes ek twee kinders deur universiteit kry. Die histeriese energie gevolg deur die eensame terugrit deur die stil, donker strate in die vroeë oggendure het vir my net te veel geword. Ek het die band ontbind en begin kunsterapie doen met volwassenes met geestesongesteldhede en kinders met outisme en Aspergersindroom.”

Nabymense

“My dogter, Liezl, haar man, Alistair, en hul twee engelkinders, Hamish (4) en Elisabet (1), woon in Londen. Ons seun, Zee, is ’n animeerder in Hollywood en – kan jy dit glo? – hy is met ’n Afrikaanse vrou getroud. Hilletje is ’n teateraktrise en violis.”

Clarabelle se ouers het ’n paar jaar gelede in ’n huis doodgebrand. “Ná hul dood het ek in ’n kreatiewe tonnel verdwyn. Om jou ouers te verloor is onbeskryflik. Dis onmoontlik om jou arms daarom te vou – ek kon lank nie eens daaroor praat nie. Maar dankie Here, jy tel jouself op en jou skewe voete kry ’n manier om weer vorentoe  te loop.”

Is Clarabelle in ’n liefdesverhouding? “Ek het ’n paar wolwe wat op my voorstoep fluit maar verhoudings is so tydrowend –
die fancy panties, die hoëhakskoene, die geverfde toonnaels en die lag met die kop wat so agteroor val. Ek moet bieg dat my kreatiewe uitlaat eintlik my lover is: my tjello wat ek laataand speel en wie se houtnek ek saggies soen voor ek met ’n tevrede laggie in my warm bedjie kruip.

“Ek bewonder mense wat daai beautiful sielskonneksie vir soveel jare met iemand kan deel, maar vir my lê die magic in ’n liedjie wat bymekaarkom of in ’n painting waar die vorm en die kleure perfek met mekaar kommunikeer.

“Ek het altyd gevoel dat my liedjies groter is as ek, iets wat ek intuïtief skep om hopelik inspirasie of vertroosting te bied. Soms vorm die kreatiewe proses ’n sirkel: jy komponeer dalk ’n liedjie vanuit ’n hartseer plek, en as iemand dit hoor en vertroosting ervaar, is die skeppingskring voltooi.”

Clarabelle glo ons is op aarde om na mekaar uit te reik. “Elke keer as ek bereid is om iemand wat ek as eenkant of afsydig ervaar ’n kans te gee, is ek verras om die juweel van ’n mens agter die donker glimlag te ontdek. Ons raak gans te obsessief oor sukses. Ek glo nie God gee om of ons suksesvol is nie – ek dink Hy wil ons net gelukkig sien.”

Kyk ook hier na Clarabelle se verhaal vir kinders (en grootmense), The Mermaid and the Terrible Urgulz:

Meer inligting by www.clarabelle.net

Deel
Gepubliseer deur
Mariette Snyman

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.