kategorieë: Bekendes

Deirdre Larkin: slaan ouderdom ’n kishou

Die 85-jarige hardloper Deirdre Larkin het onlangs aan die gesogte Geneva-halfmarathon deelgeneem en Switzerland verower. Carte Blanche het haar avonture op kamera vasgevang en die uittreksel is Sondagaand, 14 Mei 2017, op televisie uitgesaai. Deirdre het in Februarie vanjaar (2017) ’n nuwe wêreldrekord vir vroue bo die ouderdom van 85 opgestel nadat sy die vorige rekord met 20 minute gebreek het!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Anet Schoeman het in 2013 met die merkwaardige Deirdre gesels as deel van ’n artikel oor drie inspirerende vroue: “Slaan ouderdom ’n kishou.” Dié artikel het in die November-uitgawe van daardie jaar verskyn. Hier is die uittreksel oor Deirdre:

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Breek ’n wêreld-rekord

Loop jy vir Deirdre Larkin (85) van Fontainebleau, Randburg, toevallig in die winkels raak, sou jy haar aan die arm wou neem en by die trappies ophelp, of aanbied om haar inkopiesakke vir haar te dra. Sy lyk broos en klein; ’n skrale 1,58 m en ’n veergewig van 40 kg. Die duur, ingeloopte Saucony-hardloopskoene aan haar voete en die spiere in haar boarms kon jou dalk hond se gedagte laat kry, en veral wanneer jy agterkom dat sy vinniger as jy stap.

Vertel sy jou dat sy in Mei 2013 die wêreldrekord vir vroue ouer as 80 in die 10 km-wedloop met ’n blitsige tyd van 54:17 laat spat het, besef jy dat jy hier met ’n perd van ’n ander kleur te make het. Sy het ook die vorige aand gehoor dat sy gekies is om Suid-Afrika in Oktober 2013 by die wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Brasilië te verteenwoordig,

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Wat haar storie nog meer besonders maak, is dat hierdie konsertpianis eers op 78 begin hardloop het. Omdat sy met een rugwerwel te min gebore is, het sy nooit aan sport deelgeneem nie en ná ’n groot rugoperasie op 38 kon sy met moeite ’n teekoppie optel. Toe osteoporose vroeg in haar sewentigerjare by haar gediagnoseer is, moes sy haar lewe verander.

Geen medikasie wou met haar akkordeer nie en sy het uit radeloosheid ’n dieetkundige gaan spreek (sy is die afgelope vyftien jaar ’n vegetariër) en met ligte oefening begin. ’n Biokinetikus het haar aanvanklik behandel maar toe die mediese fonds nie meer daarvoor wou betaal nie, het sy groepoefeninge soos joga, pilates en Fitness League probeer.

Buiten Fitness League het nie een van die oefeninge vir haar gewerk nie, tot sy in 2009 begin draf het.

“Dit was aanvanklik ’n gesukkel,” vertel Deirdre. “Ek het drie tree gestap en drie tree gedraf.”

Haar eerste wedloop was in 2010 – die Randburg Harriers Club (waarvan sy nou ’n lid is) se 10 km- Valentynsdag-wedren wat sy in 1:25 voltooi het. Daarna was daar geen keer aan die blitsige ouma van vyf kleinkinders nie. Dit was die eerste van 36 wedlope in 2010, en die jaar daarna het sy dit tot 58 opgeskuif.

In 2012 het sy haar visier op pryse gestel. Hoewel sy ouer as tagtig is, moes sy in die bo-70-kategorie deelneem – in kleiner wedlope bo 60 – maar sy het nogtans daarin geslaag om talle pryse te wen en die meeste naweke een of twee wedlope te hardloop. Sy het selfs in die bo-70-groep vanjaar se Two Oceans-halfmarathon in 2:11 gewen.

Maar niks het haar voorberei op die verrassing van ’n wêreldrekord (54:17) in die 10 km-wedloop in Mei 2013 by die SA kampioenskapsbyeenkoms in Durban nie.

“Al hoekom ek so vinnig gehardloop het, was om te voorkom dat ek ’n gek van myself maak,” vertel sy beskeie. “Daar was ’n baie sterk atleet agter my wat op my hakke gebly het, en dit het my aangespoor.”

Om alles te kroon het sy en dié atleet in die eerste rondte ’n verkeerde draai geneem en byna 20 m ekstra gehardloop. Maar eers tien dae later het haar seun besef sy het die wêreldrekord (voorheen 56:53, gehou deur ’n Duitse atleet) verbeter.

“Ek ly nog aan skok en is daagliks verstom oor my sukses! Dis ongelooflik.

“Hardloop is soveel pret en opwinding. En die bonus is dat my beendigtheid verbeter het. Ek lees onlangs van ’n ouer vrou wat kla oor hoe eensaam sy is omdat haar kinders haar verwaarloos. Ek is te besig om eensaam te wees. Naweke is vol pret met al my wedlope. Hardlopers is vriendelike mense – hulle motiveer my baie. Ek kan nie van my vier kinders verwag om my besig te hou nie. Hulle ondersteun my ten volle, maar het hul eie besige lewe.

“Ek dink nooit oor die ouderdom nie. Ek pas aan by hoe ek voel en luister na my liggaam. Ek hoor gedurig mense sê hulle is ‘te oud’ vir dit of dat. Maar dan het hulle nog nie eens probeer om ’n nuwe uitdaging aan te pak nie.”

Deirdre woon alleen ná haar man, John, vyftien jaar gelede oorlede is.

Sy hardloop vier keer per week en spring soggens halfses (ja, selfs in die winter) weg vir haar 8 km. Sy begin net ná vyf met haar strek- en kragoefeninge vir opwarming en as sy terugkom, doen sy weer strekoefeninge.

Wat motiveer haar?

“Ek hardloop uit vrees! Vrees dat ek my beweeglikheid kan verloor. En hoewel ek soms nie so lus is vir oefen nie, is dit lekker sodra my bloedsirkulasie aan die gang is.”

’n Mens sou verwag dat sy gespesialiseerde afrigting kry, maar sy koop ’n hardlooptydskrif, Runner’s World, en doen ook navorsing op die internet. Op grond hiervan werk sy haar program uit.

Deirdre was in Brittanje ’n konsertpianis (sy en haar gesin het in 1970 na SA verhuis) en het in 1993 haar meestersgraad in musiek aan UNISA verwerf.

Sy gee elke middag van 14:30 tot 18:00 by ’n private hoërskool klavierlesse en kom eers halfagt saans by die huis ná sy deur die verkeer moes veg.

“Ek besit nie ’n televisie nie en oefen saans vir ’n uur of twee klavier vir my optredes saam met die sangeres Marie Beytell: Afrikavrou. Ons is deel van die groep Dark Chocolate. Hardloop is net soos klavierspeel: as jy nie oefen nie, gaan jy ook nie vorder nie.”

En as haar gesondheid haar in die toekoms in die steek laat en sy nie meer kan hardloop nie?

“Ek wou nog altyd my doktorsgraad in musiek gehad het … Dan is dit tyd daarvoor.”

As jy ooit aan ’n wedloop in die Johannesburg- of Pretoria-gebied deelneem en ’n vrolike ouma met ’n 80-ouderdomsmerker op haar hempie sien, moet jy maar groet en vinnig gesels, want as die skoot klap, gaan jy net haar hakskene sien!

Lees ook: Jean Sharpe: slaan ouderdom ’n kishou

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

7 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

7 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.