Die beste pa: Betrokke ouerskap is goed vir pa en kind

Die beste pa: Wenke vir betrokke ouerskap deur Anet Schoeman. Hooffoto: iStock/wundervisuals

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die goeie nuus is dat ’n pa nie veel hoef te doen om ’n superheld in die oë van sy kinders te wees nie.

’n Sielkundige vertel hoe sy ’n uiters betrokke ma vir haar dogters was en selfs haar beroep onderbreek het om ’n tuisblyma vir hulle te wees. Toe sy haar een dogter, destyds iets in die twintig, vra wat die hoogtepunt van haar kinderjare by die huis was, was dit die tye wat haar pa met haar in die tuin gespeel het – iets wat selde gebeur het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Die bonus is dat ’n betrokke pa groot voordele vir die ontwikkeling van kinders inhou, maar dat pa’s eweveel daarby baat vind. Kinders het pa’s nodig vir pret, maar pa’s het ook hul kinders nodig om vrolik te voel. Navorsing toon dat pa’s die tyd saam met hul kinders geweldig geniet en dat dit ’n positiewe uitwerking op hul bui en ingesteldheid het. (Sien insetsel hieronder: Wat pa’s en kinders saam kan doen.)

iStock/RichVintage

Die studie wou ook bepaal in watter mate kinders hul versorgers beïnvloed, en die resultate het getoon dat dit mans meer positief as vroue beïnvloed.

Navorsers meen een van die moontlike redes kan wees dat meer pa’s aangedui het dat hulle met hul kinders speel wanneer hulle bymekaar is, terwyl dit nie die geval met die ma’s was nie. “Pa’s kan beter vaar omdat hulle hul tyd saam met kinders op ’n ander manier deurbring,” was die studieleier se afleiding.

Craig Wilkinson, die skrywer van twee vaderskapboeke, glo die grootste geskenk wat enige pa vir sy kinders kan gee, is sy tyd en teenwoordigheid. “Dis die waardevolste en belangrikste geskenk. Begin vandag om ’n verhouding met hulle op te bou, want wanneer hulle ouer word, is die geleentheid daarvoor soos ’n venster wat stadig toegemaak word. Die grootste belegging wat enige pa kan maak, is nie van ’n geldelike aard nie – dit gaan oor die wyse waarop hy sy tyd met sy kinders bestee.”

Hy probeer om met sy nie-winsgewende organisasie, Father a Nation, vir mans te wys hoe om hul manwees tot voordeel van vroue en kinders in te span en nie tot hul nadeel nie.

iStock/jacoblund

Raak voor geboorte al betrokke

Craig sê die geheim is om reeds gedurende die swangerskap betrokke te raak.

“Jy en jou metgesel moet jul vaardighede opskerp deur saam ’n voorgeboortekursus by te woon. Bespreek die kwessie voor die geboorte: sê dat jy betrokke wil wees en hou daarby. Ma’s kan soms ná geboorte die baba vir hulself toeëien. Dis makliker as hierdie verwagtinge voor geboorte neergelê is en die pa die nodige vaardighede het om op praktiese wyse by die grootmaak van die kind betrokke te wees.”

“Pa’s moet tyd maak om van jongs af met die kinders te speel en speel-speel vas te stel waarvan hulle hou. So begin jy werk aan ’n verhouding wat in die toekoms vrugte sal afwerp. ’n Ma en pa
bevredig nie noodwendig dieselfde behoefte by kinders nie en dis ook die rede waarom albei nodig is. Onthou, dogters hou net soveel van avontuur en opwinding as seuns.”

iStock/Mladen Zivkovic

Egskeidings

Ouers kan gewetenloos raak wanneer hul verhouding op die rotse beland en dan gebruik hulle dikwels die kinders as wrede wapens teen mekaar.

Craig, ook geskei van sy kinders se ma, gee twee belangrike riglyne:

“Die kinders moet altyd die fokus vir jul interaksie bly, en moet nooit lelik van die ander ouer voor die kinders praat nie. Dit bly steeds hul ma of pa, al verpes julle twee mekaar. Al sien jy jou kind net elke twee weke vir ’n paar uur, moet jy die bitterheid opsy skuif en daardie tydjie vir jou laat werk. Om ’n kind na ’n restaurant te neem waar jy koerant lees en hy op sy tablet of foon speel, bou geen bande nie. As pa’s afwesig of oorlede is, is dit belangrik dat die ma’s ander rolmodelle onder die grootouers, vriende en familie soek.”

iStock/eclipse_images

Pa’s speel wild met kinders en doen opwindende dinge saam met hulle, sê Nikki Bush, ouerskapkenner van Bryanston en skrywer van ouerskapboeke. “Dis hoekom kinders dit makliker onthou. Mans was histories die voorsieners in die gesin, maar was selde by die grootmaak en versorging van die kinders betrokke. Kinders raak gewoond daaraan dat die ma altyd beskikbaar is en verwag trouens dat jy daar moet wees. As pappa iets doen, is dit opwindend en besonders. Dit verseker dat selfs ’n klein belegging van die pa se kant af ’n groot uitwerking op die kinders het.”

Pa’s doen gewoonlik ook avontuurlustige dinge, soos kampeer of visvang. Hy is meer gefokus op opwinding as om te kyk of hulle skoon sokkies aanhet en hul tent netjies is.

Nikki vertel dat haar man minder gedeelde belangstellings met hul jongste seun as die ouer broer gehad het. “Die kinders se persoonlikhede lei gereeld daartoe dat ouers makliker met een kind as ’n ander oor die weg kom. Die jongste was elf jaar oud en het graag sport op televisie gekyk. Net soos sy pa. Ek het voorgestel dat hy dit as ’n gemene raakpunt gebruik. Daarna het hy elke aand geselsies aangeknoop oor hoe die krieket gevaar het, die samestelling van rugbyspanne en die vertoning van die onderskeie spelers. Dit het hulle iets opwindends gegee waaroor hulle elke dag kon gesels en het die band tussen hulle geweldig verstewig.”

iStock/Morsa Images

Laat kinders jou by die huis help

“’n Goeie band met hul pa verbeter kinders se selfvertroue en maak dit makliker om later in die lewe nuwe uitdagings aan te pak. Dis belangrik om hierdie emosionele bande te vestig voor die kinders tieners is. Pa’s is gewoonlik meer praktiese mense en kinders hou daarvan om iets te doen. Kinders kan soveel leer wanneer hul pa hulle by alledaagse gebeure en takies by die huis betrek, soos die omruil van ’n band, saam in die tuin werk, die motor te was, of na die swembad omsien. Wys hulle van vier jaar af hoe jy die swembad se suurheidsgraad en chloorvlakke toets. Dis terselfdertyd ’n wetenskaples en hulle leer op die koop toe vaardighede wat hulle later op hul eie kan doen. Laat hulle die kante van die swembad borsel en blare uitskep.” (Maak seker dat die swembad ander tye beveilig is sodat hulle dit nie alleen probeer doen en inval nie.)

Moenie in die strik trap dat seuns altyd vir pa help en dogters vir ma nie. Dogters is anders as seuns, maar nie swakker nie. ’n Pa moet vasstel in watter aktiwiteite sy belang stel. Dis noodsaaklik dat dogters weet hoe om ’n motor se band om te ruil – ’n takie wat hulle ook bemagtig. Pa’s is goed met probleme oplos. Hulle moet net leer om kinders, veral dogters, kans te gee om met gesprekvoering aan oplossings te werk voor hulle inspring en dinge regmaak. ’n Pa moet sy dogter leer om dinge te evalueer en dan goeie besluite te neem. Dit kan hy net doen as hy genoeg tyd en geleenthede skep om saam met hulle iets te doen.

iStock/SerrNovik

Dogters kies ’n lewensmaat op sterkte van haar verhouding met haar pa. As haar pa haar gerespekteer en mooi met haar gewerk het, is dit die eienskappe wat sy later in haar metgesel sal soek.

Ma’s kla soms radeloos dat pa’s nie genoeg doen om te help nie en ook nie genoeg moeite doen om ’n verhouding met hul kinders te bou nie. ’n Kollega vertel hoe ’n werknemer by hom kom kla het omdat haar man nie met die nuwe baba help nie. Omdat hy die man ken, was hy verbaas. “Het jy hom al gevra om te help?” wou hy weet. “Nee, maar hy behoort te weet ek het hulp nodig,” was haar verontwaardige antwoord.”

iStock/PeopleImages

Daar is meer as een regte manier

“Dis belangrik om jou man se selfvertroue te bou en nie altyd alles alleen te doen nie,” vertel ’n ander jong ma. “Ek moes leer om te laat gaan, nie te kritiseer nie en my man toe te laat om op sy eie manier met die baba te help. Daar is baie maniere om die regte ding te doen. Solank die baba veilig en gelukkig is, is dit reg. En onthou dat humor die meeste situasies kan red. Op ’n dag het ek by die huis gekom en die hele draad het vol beddegoed en klere gehang. Baba het ’n ontploffende vuil doek gehad. My man het deur ’n hele pak babalappies gewerk, en in die proses die hele bed, hom én die baba besmeer. Ek kon nie help om te lag nie.”

iStock/kate_sept2004

Wat pa’s en kinders saam kan doen

Pa’s is soms mense van min woorde en weet nie wat om te doen wanneer hulle tyd met die kinders moet deurbring nie.

Kleintjies: Stoei met hulle op die gras, of jaag mekaar in die huis rond. Kinders (seuns en dogters) hou van opwindende speletjies.

Kleuters: Laat hulle met die skoonmaak van die swembad help, en betrek hulle by die was van die motor of takies in die tuin.

Groter kinders: stap met die honde, raak betrokke by liefdadigheidsorganisasies, soos die Dierebeskermingsvereniging en gaan help naweke met die versorging van die diere.

Tieners: Fokus op gedeelde belangstellings, soos musiek, sport en flieks waaroor julle kan gesels. Dit gaan nie toevallig gebeur nie – jy sal werk daarvan moet maak.

iStock/manonallard

Ouers gee raad

“Jy moet van kleins af die verhouding met jou kind koester – dis te laat as jy op 18 sy beste pêl wil wees,” sê Mike Durrant van Fontainebleau wat saam met sy eks na hul elfjarige seun omsien. “Ons is uitmekaar toe hy 18 maande oud was. Gelukkig was dit ’n vreedsame egskeiding en nie een van ons het weer getrou, of nog kinders gehad nie. Omdat ons albei gewerk het, het ons sedert sy geboorte sy versorging ten volle gedeel. Albei van ons het die baba gebad, doeke omgeruil en bottel gegee.

Toe ons verhouding verbrokkel, was dit die natuurlikste ding dat ons albei volle verantwoordelikheid vir sy versorging sal aanvaar. Hy was gelukkig in dieselfde omgewing in dagsorg en ons het die week in twee gedeel sodat hy ewe veel tyd by ons albei deurbring. Dis ’n plooibare reëling en ons laat ons deur skoolbedrywighede lei. Dit geld ook naweke. Ek en my seun het ’n uitstekende verhouding omdat ons baie tyd saam deurbring en mekaar goed ken. Wanneer ek na ander pa’s luister wat hul kinders net een keer in twee weke oor ’n naweek sien, kan ek my glad nie in so ’n reëling indink nie.”

iStock/NoSystem images

Dis vir Nadia en Neil van Loggerenberg van Johannesburg ’n prioriteit dat hy ’n goeie verhouding met sy kinders opbou. “Ons moet spesifiek tyd maak, want Neil gaan vroeg werk toe en is saans nie voor halfsewe tuis nie. Wanneer Neil vroeg genoeg tuis is, sit hy saam met Rikus (6) en Nika (4) op die stoep en gesels oor goedjies wat in hul dag gebeur het. Dis vir hom belangrik om te weet wat hul gunsteling-speelgoed, -aktiwiteite, -kleure en eetgoed is. So word hy ook deel van hul ervaringswêreld. Dis makliker om gesprekke met hulle aan te knoop wat verseker dat hy meer insig in hul lewe het. Ons eet elke aand as ’n gesin saam aan tafel. Neil bring naweke individuele tyd saam met elke kind deur en hy en Rikus gaan kyk graag na motorfietswedrenne. Saam met Nika sal hy ander goed doen. Dis nie genoeg om net lief vir jou kinders te wees nie. ’n Pa moet tyd belê en by sy kinders se alledaagse lewe betrokke wees.”

iStock/eclipse_images

Wat navorsing wys

Ek het onlangs die resultate gelees van navorsing deur die Universiteit van Kalifornië wat drie verskillende studies, asook 18 000 mense ingesluit het.

Die doelwit was om die mate van geluk, sielkundige bevrediging, asook die simptome van depressie en stres te meet by ouers wat na kinders omsien.

Die eerste twee studies het onder meer die welstand van pa’s met dié van kinderlose mans vergelyk. Die resultate het getoon dat pa’s baie meer tevredenheid met hul lewe getoon het, baie minder daaglikse konflik en meer positiewe emosies ervaar het, asook minder simptome van depressie.

Die tweede studie het die welsyn van ma’s en pa’s gemeet wanneer hulle hul kinders versorg het, in vergelyking met hul ervaring van ander daaglikse take.

Die navorsingsresultate het getoon dat pa’s gelukkiger was wanneer hulle na die kinders gekyk het as wat die ma’s was. Dieselfde het gegeld wanneer pa’s tyd saam met die kinders deurgebring het.

Vir meer inligting oor Craig en Nikki se boeke, kyk by craigwilkinson.co.za en nikkibush.com

iStock/PeopleImages

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.