kategorieë: Blogs

Die gedagte tél

Hulle sê mens moenie ’n gegewe perd in die bek kyk nie. Maar, as daai perd se eienaar vergeet het om sy bek met Colgate te skrop voor hy hom vir jou present gegee het, kan dit moontlik ’n slegte smaak in die mond laat.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Daar is niks lekkerder as om ’n presentjie, groot of klein, te kry wat pragtig gestrik en gekaartjie is nie. As dit boonop met die oopmaakslag wys die skenker kén jou, is dit sommer dubbeld so lekker.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

My sewejarige is tans in ’n baie vrygewige stadium. Alles wat vir haar mooi en kosbaar is, word na ’n bietjie oorweging en dikwels met ’n strik om in my hand geprop met ’n “Spesiaal vir Mamma!”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

So kry ek daagliks onkruidblommetjies, mooi klippies en ook skulpies wat sy na ons laaste naweek by die see saamgepiekel het. Kleurvolle tekenprentjies en portrette van my is deesdae haar gunsteling om uit te deel. My lêer kosbaarhede word al hoe dikker. Amper soos die tekenportrette se middel en kennebak sedert die afgelope winter…

Maar, soos die “hulle” van die perd hierbo ook sê: Dis die gedagte wat tel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Tog lyk dit soms asof so ’n gedagte lelik ontspoor het.

So het ek in my jonger dae vir jare aaneen skilfersjampoe present gekry. Na die tweede jaar het ek begin twyfel aan my eie gedagte dat ek nie skilfers het nie en potensiële selfbewustheidskompleks en al by my haarkapper ’n tweede mening gaan vra. Sy het my gerusgestel dat ek rêrig-êrig nie skilfers het nie, en ek was dus vrygespreek om die teenskilferpresent weer aan iemand anders te gee. Maar… so nooit as te nimmer in hierdie lewe nie – want, geen kleurvolle lint of vrolike toedraaipapier sal mos nou die gedagte dat jy vir iemand eintlik sê “Lekker verjaar – doen iets aan jou skilfers” kan verdoesel nie?

Gepraat van herwinbare geskenke. ’n Vriendin vertel dat sy jaarliks dieselfde sepie wat sy as deel van ’n Moedersdag-bederfpakkie present gee, weer vir Kersfees kry. Sy het glo al een jaar in khokipen ’n swart spikkeltjie op die sepie se etiket gemaak voor sy dit saam met die Mei-pakkie toegedraai het – en siedaar, op Oukersdag het die gespikkelde sepie weer netjies sy verskyning in Vriendin se kerskous gemaak. Dit is seker maar wat skoonfamilie doen – sepies en skropgoed uitdeel as deel van die titel…?

Maar, dan moet ek darem ook byvoeg dat ek kinderlik opgewonde uitsien na my eie ma en skoonmoeder se verjaardaggeskenk aan my. Hulle weet nou maar een maal hoeveel ’n tuisblyma wat ’n ongereelde vryskut-inkomste verdien, dit waardeer om ’n geldjie te kry wat sy met toestemming net op haarself mag blaas. Dié bederfkoevertjies in November voel sowaar soos krismis!

Oor Kersgeskenke het Nataniël die volgende te sê: “Elke mens op aarde, hoe slim, ryk of vindingryk ookal, het iets nodig – die geheim is om uit te vind wát… Om te koop met verstand, om te beplan, te herkou en weer te beplan. Om rond te vra, uit te vis, wakker te lê, na te lees, na te vors, te bel, dop te hou.

“Ek wil nogsteeds my glas sjampanje in twee slukke leegmaak, só opgewonde om almal gek van afwagting te sien, maar sonder om hul toekoms en hul leefruimte te vernietig. Hierdie jaar staan ek lank voor die rak – ek gee geskenke wat my vriende op hul oudag nog sal gebruik.

“…Die uitdrukking ‘Dis die gedagte wat tel’ word so vieslik deur al die luies misbruik. Uiteindelik begin dit vir my sin maak, dit lui nie ‘Dis net die gedagte wat tel’ nie, dit sê nie, ‘Ek gee jou niks, maar ek dink aan jou’ nie. Dit sê wel, ‘Ontvang my geskenk, ek het lank gedink en seker gemaak en ek gee dit met vrymoedigheid.’”

* * *

Ewentwil, om die regte, deurdagte geskenk by die regte ontvanger uit te bring, verg meestal baie kopkrap, speurvernuf en ’n goeie skoot kreatiwiteit.

’n Goeie gedagte by die gee van ’n “gedagte”, is myns insiens om iets te kies wat sê die persoon was belangrik genoeg vir jou om in ag te neem wie hy of sy is, waarvan hy of sy hou en, belangriker nog, dit moet sê: Ek het hierdie gekies, spesiaal vir jou – met spesifiek JOU in gedagte.

Ek volstaan met ’n lysie van vyf dinge wat ek van mening is eerder gesystap moet word by die kies van perfekte presente:

5. Sokkies. Al is Pa se sokkies so skif op die hakke gedra dat mens sy bloedgroep deur sy enkels kan raai, is sokkies nié ’n opwindende geskenk nie. Boonop is sokkies dekades gelede reeds deel van Interpol, die FBI, CIA, KGB en Skerpioene/Valke/Malema se boomhuisbende se lys van “Mees gesoek”. Soek eerder nog ’n bietjie verder na ’n bedagsame geskenk.

4. Kunsblomme. Al is dit hóé ’n getroue replika – sy gaan nié met jou trou as jy vir haar vir haar verjaardag ’n ruiker laplelies gee nie. Maak vriende met jou plaaslike bloemiste. Plant ’n pakkie kappertjies in ’n pot. Maak nie saak nie – hou dit eg en lewendig.

3. Lyfroom wat jy nog nooit self geruik het nie. Daar is die skrale kans dat dit dalk soos ’n bos verlepte Stink Afrikaners kan ruik en die ontvanger mag moontlik snuf in die neus kry oor jóú smaak (en dit dalk vir jou terugskenk met jou verjaardag).

2. Gepraat van skraal. Al word maermaakpille deur hoeveel wetenskaplikes, “dokters” en tevrede, dog liggewig kliënte onderskryf, maak dit nóóit, óóit ’n goeie geskenk uit nie. Sluk self soveel towergewigsverliespille soos jy wil, maar moet nooit dink dat iemand dit nié as ’n onsubtiele skimp sal sien dat minstens een helfte van julle vriendskap geweeg en té swaar bevind is nie.

1. Tweedehandse gebruiksartikels. Ek het eenkeer ’n driekwart pak halfuitgedroogde afveedoekies vir bababoudjies in ’n pragtige, vrolike, pienk geskenksakkie present gekry. Pasgetroud en beslis nog nie broeis nie, kon ek nie help om te wonder of dit ’n subtiele skimp oor my biologiese klok, of bloot oortollige voorraad is waarvan ontslae geraak moes word nie. Ek skat gebruikte babadoeke, snesies of iets dergeliks sou veel erger gewees het. Maar, al wat daardie ondeurdagte geskenk-gedagte aan my gemoed gedoen het, was om my die Pampers-rak met agterdog te laat bejeën vir nog ’n jaar of vyf.

Nou ja, ek moet ’n geskenk gaan soek vir ’n kinderpartytjie en vermoed die driekwart bottel nuwe oesjaar Sauvignon Blanc is nie heeltemal geskik nie.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Wynproe en stap: Die nuutste ervaring by Blaauwklippen

Woorde en foto’s: Clifford Roberts Ek wil glo dat, soos ek, elke nuwe staptog met…

5 hours Gelede

Ontdek die topervaring waar alles met Club Med ingesluit is

As jy nie die konsep ken nie, stel ons jou graag daaraan bekend: Dis ’n…

8 hours Gelede

Ons Moedersdaggeskenkgids: Kreatiewe geskenke wat wys jy gee om

rooi rose intekening Teken in of hernu jou intekening op die gedrukte weergawe vir net…

12 hours Gelede

Kristen Raath oor haar snaaksste, en vernederendste, oomblik op die stel van Wyfie

Dié toekennings, wat deur Screen International aangebied word, word op 20 Mei 2024 in Cannes, Frankryk, uitgedeel.…

1 day Gelede

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

2 days Gelede

Bronchostop stel nuwe hoesstroop, Bronchostop Nite, bekend

Ons was al almal daar: Jy rol tot twee uur die oggend nog rond van…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.