kategorieë: Ons menseBekendes

Die mooiste in die heelal

Deur Margaret Gardiner. Vertaal en verwerk deur Hannelie Diedericks.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Wie is Demi-Leigh regtig?

Ek is ’n gewone meisie wat op ’n klein dorpie grootgeword het en lief is vir die buitelewe. Ek het van kleins af groot drome gehad oor die lewe in die stad met sy blink ligte. Ek is baie gesteld op fiksheid, maar is ook mal oor lekker kos en is baie lief vir my honde.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Skoonheid is ’n genetiese toeval. Hoekom is Mej. Heelal ’n titel met ’n verskil?

Mej. Heelal bied ’n reuse-platform wat my in staat sal stel om ’n verskil in vroue wêreldwyd se lewe te maak. Dis presies hoekom ek hierdie titel wou wen.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Wat maak jou mooi?

Ek dink dis my persoonlikheid. Wanneer ’n mens iemand leer ken, word haar skoonheid deur haar persoonlikheid gekomplementeer.

Vertel ons van jou gesin?

My ouers is geskei. Ek is my ma se enigste kind, en my pa en stiefma het twee dogters – ek en my halfsussie.

Wat het jy geswot?

B.Com. Besigheidsbestuur en Entrepreneurskap aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Ek dink besigheid is in my bloed. Albei my ouers is entrepreneurs. Dit is ’n baie interessante veld omdat dit heeltyd verander en ’n mens daarby moet aanpas. Ek onthou ek was vyf jaar oud toe ek my ma geld gevra het om ’n pastei vir middagete te koop. Pleks van een pastei het ek tien gekoop en dit die volgende dag aan die ander kinders teen dubbel die prys verkoop (lag).

Jy het meer as een keer aan die Mej. Suid-Afrika-kompetisie deelgeneem?

Nee, ek het in 2017 vir die eerste keer vir die Mej. Suid-Afrika-kompetisie ingeskryf. Ek dink ek het gewen omdat ek goed voorbereid was. Ek was nog besig met my studie toe ek besluit dat ek eers sou inskryf nadat ek my graad gekry het. Ek wou seker maak dat ek alles gedoen het wat ek wou voor ek inskryf.

Hoe het jy gevoel toe jy as Mej. SA gekroon is? En hoe verskil die proses van die Mej. Heelal-kompetisie?

Die formaat verskil heelwat. Die Mej. SA-veldtog is agt maande lank. Maar ek dink die lang proses het my met my voorbereiding gehelp. My goeie vriende en familie het van die begin af in my geglo – hulle was ekstaties toe ek wen.

Met die Mej. Heelal-beoordeling het jy sommer van die begin af ’n goeie indruk op die beoordelaars gemaak – jy was glo een van hul gunstelinge. Was jy bewus daarvan?

Nee, ek het nie geweet ek is ’n gunsteling nie. Ek het net elke dag daarop gefokus om die beste weergawe van myself te wees, en om elke dag ’n beter mens as die vorige dag te wees.

Wat was die uitdagings en hoogtepunte van die kompetisie?

Dit mededinging was baie straf, maar my grootste uitdaging was om seker te maak dat ek gesond bly en om my energie konstant op ’n hoë vlak te hou. Jy werk lang ure en is 24 uur per dag besig om met die res van die deelnemers mee te ding. Die lang vlug na Las Vegas en die tien uur-tydsverskil het dinge ook nie makliker gemaak nie – aan die ander kant het ek 91 nuwe vriende van oral in die wêreld gemaak. Die kompetisie maak regtig die wêreld vir jou oop en gee jou ’n nuwe perspektief.

Jy is in November gekroon. Wat het daarna gebeur?

Ek het New York toe getrek, die Filippyne besoek en die Golden Globes saam met jou bygewoon! Ek het dele van New York verken. Ek het ook die tyd gebruik om te beplan vir die jaar wat voorlê. Ek het ook ’n paar geleenthede gehad om oor my Unbreakable-veldtog te praat – ek wil die veldtog gebruik om vroue wêreldwyd te ondersteun.

Lees hier oor Demi-Leigh se Unbreakable-veldtog.

Jy bly nou permanent in New York. Hoe lyk jou woonstel?

Dis baie knus en gemaklik met ongelooflike uitsigte oor die stad. Dis vir my ’n veilige hawe – my rusplek weg van bedrywige Manhattan.

Wat was die grootste uitdaging in New York?

Vir seker die koue. Ek het geleer om in lae aan te trek. Solank my voete, hande en kop warm is, is ek oukei.

Wat het jy gedoen toe jy die eerste keer sneeu sien?

Ek het soos ’n tipiese toeris buitetoe gehardloop en heeltemal te veel foto’s en video’s van die sneeu geneem.

Volg jy ’n skoonheidsroetine?

Ek drink baie water – drie liter per dag. Ek gebruik goeie velsorgprodukte – vogroom en oogroom is veral belangrik, en ek probeer soveel moontlik slaap en oefen minstens vier keer per week.

“Drome word net waar wanneer jy daaraan werk”

Watter rol speel die vorige titelhouers in die wedstryd?

Jy het 39 jaar gelede gewen. Almal in Suid-Afrika was baie trots daarop dat ons ’n vorige Mej. Heelal gehad het. Ek dink jy was ’n groot inspirasie vir elke meisie wat deelgeneem het.

Wat het jy as Mej. Heelal geleer?

Ek het geleer dat dit oukei is om nie perfek te wees nie. Dis makliker om met mense te kommunikeer wat eg is. Benut dít wat jou anders maak ten volle. ’n Mens kan jou skoonheid met selfvertroue vier, dit hang nie van ’n titel af nie.

Wat is die grootste verandering wat die titel in jou lewe gemaak het?

Beslis die reis. Ek het nog nooit so baie gereis nie! Asook die verantwoordelikheid om ’n verskil te maak. Ek probeer nie eens meer om by die tydsverskille aan te pas nie. Ek slaap maar net wanneer ek kan. Oefening help baie om vlugvoosheid teë te werk en dis goed vir jou lyf as jy soveel uur moet stilsit. Ek probeer ook om baie water te drink en gesond te eet.

Wat doen jy gedurende ’n lang vlug?

Ek slaap, of ek skryf in my dagboek en dink na oor wat ek gaan doen. ’n Goeie fliek en musiek laat ook die ure verbyvlieg.

Watter pryse het jy met Mej. Heelal gewen?

Die feit dat ek vir ’n jaar in New York kan bly, die wêreld kan platreis, mense ontmoet en plekke besoek wat ek nooit andersins sou kon doen nie. En natuurlik die geleentheid om hierdie platform te kan gebruik vir die dinge wat vir my belangrik is. Dis die grootste prys!

Wat het jy altyd in jou handsak?

Gesigpoeier, lipglans, my beursie, naelvyl, handeroom, oogdruppels en vitamien C-tablette.

Wie is jou gunsteling- Suid-Afrikaanse ontwerpers?

Gert-Johan Coetzee en Anél Botha. Anél het ook my finale uitrusting vir die Mej. Heelal-kompetisie gemaak.

Kan jy die klere hou wat mense vir jou ontwerp het?

Ek kon nie die rok hou wat ek by die Globes gedra het nie, maar ek kry soms geborgde klere. Ek is oukei daarmee om ’n rok net een keer vir ’n spesiale geleentheid aan te trek.

Margaret Gardiner en Demi-Leigh Nel-Peters by die Golden Globes

Hoe het jy die Golden Globes ervaar?

Die Globes was nou een geleentheid waarvan ek gedroom het. Ek het baie geëerd gevoel om langs jou by die rooi tapyt af te loop. Dit was ’n báie spesiale oomblik. Dit was ook vreemd om van my gunsteling-aktrises te sien – mense soos Meryl Streep, Angelina Jolie en Oprah. Maar gelukkig het ek gemaklik gevoel omdat jy by my was. My vriende en familie by die huis het tot in die vroeë oggendure wakker gebly om dit te sien.

Wat was vir jou die hoogtepunt van die aand?

Ek was trots daarop om deel te wees van die Times Up-beweging deur ’n swart rok te dra en saam met vroue wêreldwyd ons afkeer van seksuele molestering en mishandeling duidelik te maak. Dit was baie emosioneel.

Wat was die beste raad wat jy gekry het?

Moenie meegesleur word deur die daaglikse chaos nie. Staan terug, haal diep asem en beleef die oomblik ten volle.

Watter raad sal jy vir jong meisies gee wat groot drome het?

Drome word net waar as jy daaraan werk. Met harde werk en toewyding kan jy enigiets vermag.

Wat is die belangrikste boodskap wat jy vanjaar wil uitdra?

Ek het agt maande gelede, ná ek ’n motorkaping oorleef het, ’n veldtog genaamd Unbreakable in Suid-Afrika van stapel gestuur. Ek wil ek ander vroue help om hulself te kan beskerm sou iets met hulle gebeur. Ek was gelukkig genoeg om die regte opleiding en kennis te hê om so ’n situasie te hanteer. Ek het landwyd werkwinkels aangebied waar ek die opleiding en kennis wat ek het met ander vroue gedeel het. Ek hoop dat ek die Mej. Heelal-platform kan gebruik om meer hieroor te praat omdat geweld teen vroue ’n wêreldwye verskynsel is.

Oor Demi-Leigh se kuier in Suid-Afrika

“My hart is vol vreugde en dankbaarheid. Die week in Suid-Afrika was die beste week van my lewe. Ek het dit glad nie verwag nie en ek is so dankbaar teenoor almal wat my week so spesiaal en onvergeetlik gemaak het. My huis is waar my hart is, en Suid-Afrika sal altyd my hart hê. Ek is so geëerd om ons pragtige reënboognasie te verteenwoordig en om die wêreld te wys wat dit is wat Suid-Afrikaners spesiaal maak.”

Margaret uit Hollywood

Ek staan op die punt van die rooi tapyt by die Golden Globes toe my telefoon lui. Dis Demi-Leigh se assistent wat sê dat hulle by sekuriteit verby is. Hoe het ek hulle gemis? Ek trek my stilettos uit en hardloop terug na die onthaalsaal. My telefoon lui weer: “Ons is hier!” “Waar is hier?” “By die begin van die tapyt.”
Die Golden Globes is ’n reuse-geleentheid in Los Angeles en groot dele van Beverly Hills word heeltemal afgebaken. Bomspesialiste met honde patrolleer die gebied en die gaste moet deur verskeie sekuriteitshekke gaan voordat die limousines die sterre by die punt van die rooi tapyt aflaai.
Ná 39 jaar het ’n Suid-Afrikaner weer die Mej. Heelal-titel verower, en my geskenk aan Demi-Leigh was die uitnodiging na die Golden Globes – een van Hollywood se glansrykste aande van die jaar. Sy is my persoonlike gas en word op die hande gedra nes die A-lys-sterre wat die plek vol staan. Ek het elke moontlike voorsorg getref om seker te maak dat ek hier is wanneer sy opdaag, en nou is daar ’n misverstand! Ek tel die soom van my lang Oliver Tolentino-rok op, my skoene in die ander hand en hardloop terug terwyl die mense vir my lag en sê ek hardloop in die verkeerde rigting. Net voor sekuriteit gaan staan ek, trek my skoene aan en trek my rok reg. En daar reg voor my staan sy. Doodstil tussen die chaos wat haar omring. Ons bars gelyk uit van die lag en gee mekaar ’n drukkie. Ons giggel en lag soos ou vriende. Daar is soveel wat ons vir mekaar wil sê. Ná ’n paar rooi tapyt-
onderhoude is dit duidelik hoekom Demi gewen het. Mense is vinnig om grappies te maak oor skoonheidskoninginne, maar Mej. Heelal verg baie meer as net skoonheid. Jy moet vinnig en uit die vuis kan dink en ’n goeie kop op jou skouers hê. Sy is welsprekend en weet hoe belangrik die platform is wat saam met die titel gaan. Tussen die aand se verrigtinge deur gesels ons land en sand. Ek vra haar uit oor haar aspirasies, haar nuwe lewe en haar familie. En ek vertel haar dat vanjaar haar jaar is. Dit word gou duidelik dat Demi alles met ’n plan aanpak. Sy bly kalm te midde van die storm en is baie gemaklik in die kollig. Haar jaar sal tel. Haar visie en vasberadenheid sal haar goed te pas kom, nog lank nadat sy haar Mej. Heelal-kroon afgehaal het. Sy is óns meisie. Ons Mej. Suid-Afrika. Ons Mej. Heelal.

Margaret Gardiner en Demi-Leigh Nel-Peters by die Golden Globes

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.