kategorieë: Ons menseBekendes

Dowwe Dolla se Margit fnuik tyd

Dis vroegoggend in Proteavallei, Bellville – anderkant Kaapstad se boereworsgordyn.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die tuin voor die huis in Klipkersstraat is groen en bebos. Trixie, die tienjarige gemmerkat, sit in die sonnetjie, besig met smôrens se lyfsorg. Sy lyk soos Garfield; baie vet en baie liefderyk. Sy’t ná ’n jaar blind geword, maar is ongelooflik onafhanklik. Die babakatte, Sokkies en Nutmeg, speel voetjie-voetjie en doen gimnastiek in die boomtakke. Doppie, die driejarige skilpad, strek sy skubbe lui-lui en smul aan die gras, nog nat van oggenddou.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die lig dans in die ruim oopplanwoning met sy groot vensters en talle skuifdeure.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Dis die begin van ’n nuwe dag. “Daar’s nie iets soos ’n gewone dag nie. Elke dag is anders. Daar’s geen roetine nie. Ons is ’n sirkushuis,” vertel die aktrise Margit Meyer-Rödenbeck opgewek. Sy woel al van vanoggend sesuur af om die huis reg te ruk.

Margit en haar man, Jurgen Human (58), ’n elektriese ingenieur en medevennoot in hul restaurantteater, Die Boer, in Durbanville, het gisteraand ’n paar vriende onthaal.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“As dit regtig wild gaan, kom die restaurant tot my redding! Maar ek hou van onthaal; ook van kos maak – wanneer ek tyd kry. Dit is natuurlik helemal ’n ander storie wanneer jy kos móét maak!”

Wanneer sy kos maak, dink Margit altyd aan haar ouerhuis: haar pa, Werner Albrecht Meyer-Rödenbeck, ’n Duitser wat op 19, kort ná die Tweede Wêreldoorlog, na SA geïmmigreer het, haar ma, Retha (’n nooi Rossouw) en ousus Heike.

“Ek en my pa was altyd bondgenote, maar in my tienerdae was ek en my ma nie juis na aan mekaar nie. Gelukkig het ons mekaar in later jare gevind en ons het beste vriendinne geword. Ons het ’n goeie middelklaslewe gehad en het niks geskort nie tot in 2003 toe my pa se staal- en omheiningsmaatskappy gelikwideer is. Hy moes op 68 letterlik van voor af begin. Hy het ’n sukses daarvan gemaak en nou, op tagtig, werk hy nog elke dag. Dit was die hartseerste jaar in my lewe. My ma is ná ’n kankerstryd oorlede. Ek is superdankbaar vir die lesse en maniere wat sy my geleer het.”

Haar ma het altyd net haar kop geskud wanneer sy hoor Margit nooi mense en wil iets nuuts probeer. Dan wou sy weet: “Wat as dit nie werk nie?” Margit se oplossing: “G’n probleem nie – ons kry maar net Kentucky!”

“Kos maak is terapeuties. Ek is wel skuldig daaraan dat ek dikwels eers begin as die eerste mense aankom – en dan raak dit ’n vreeslike jollie gekuier in die kombuis. Ek eksperimenteer graag met interessante geure. Gisteraand het ek vark met Chinese speserye, waatlemoen, gemmer en bronkorsslaai gemaak – ’n resep van Errieda du Toit. Dit was njam! Ek maak wel ook ’n killer broccoli-en-aartappel-sop en ’n vreklekker bobotie.”

Daar is nog ’n paar bottels van gisteraand se wyn oor. Sy klim gou die trappe af na hul wynkelder en bêre dit. “Ek en Jurg het nogal ’n redelike wynversameling hier. Ek was gisteraand baie verantwoordelik, want soms vergryp ek my aan rooiwyn,” skerts sy. “Nie aspris nie; dit gebeur soms net … ” Sy huiwer by die broodbak en vars rolletjies. “Dis my swak! En dêmmit, dan sukkel jy weer om dit af te skud.”

Margit geniet sulke aandjies. “Dan kan ek ná ete board games speel! Almal spot altyd: ‘Wanneer Margit jou vir ete nooi, nooi sy jou eintlik om speletjies te kom speel en jy moet aanhou speel tot sý wen!’ Gelukkig is ek nogal goed met bordspeletjies! Ek kan dag en nag speel en moet my dwing om dit so diep moontlik weg te pak én net vir ’n bederfie uit te haal!”

Sy voer gou die katte en berei Luca, hul sesjarige dogtertjie, se ontbyt en kospakkie voor.

Ná sy die skoolklere stil-stil reggesit het, talm sy by Luca se bed. Luca is nog in droomland, omring deur haar sagte speelgoed en gisteraand se slaaptydstorieboekie op die bedkassie. Sy is lief vir diere, veral katte en pikkewyne.

“As ons pikkewyne kon aanhou, sou ons dit seker gedoen het! Sy het al die diere op die erf se name uitgedink, dié vir haar sagte speelgoed ook. Elkeen van hulle het boonop ’n storie!”

Margit is versot op dié in vitro-baba van hulle. “Tyd en ouderdom was teen my en Jurg vir ’n natuurlike swangerskap. Luca is vir seker eiesoortig. Behalwe dat sy in ’n sirkushuis grootword, is sy ’n mensie wat weet wie sy is en wat sy wil hê. Sy maak reeds op hierdie jonge ouderdom besliste keuses.

“Dis ’n groot geluk dat sy leergierig en nuuskierig is en alles self wil uit-figure. Sy lees en skryf en tel en maak somme. Sy is musiekmal en speel daardie blokfluit dat my ore tuit. Dis die hele dag ’n gesing en gedans. Hoe lekker brêg ek nou! Maar kinders moet speel – die pas is deesdae so vinnig. Sy is onlangs grootskool toe. Glo my, as ek moes doen wat hulle nou in Sub A doen, sou ek weghardloop!

“Ek love kinders se onbevangenheid. Daar is nog nie ’n sogenaamde korrekte manier van doen nie – jy is uniek. En iewers deur die lewe word ons in die drukgang in ’n boksie geplaas.”

Ná sy na Luca se oggendbehoeftes omgesien het, is dit gimnasium toe vir ’n rukkie Margit-tyd: “Ek is nie altyd lus nie maar dis goed vir die lyf én die kop!”

Dis hier waar sy haar teleurstelling en woede oor sosiale vergrype ontlaai. “Die mishandeling en verwaarlosing van die weerloses – kinders, bejaardes en diere – ontstel my. Bedelaars met babas en kinders by ’n verkeerslig maak my die bliksem in. Ek wil die ma skud en die kind wegvat. En padvarke, leuenaars, korrupsie en politici wat ons geld mors en dink ons is dom … ”

Margit sê die kunstebedryf weerhou ’n mens dikwels van ’n gebalanseerde leefstyl. “Kuns en vermaak wórd jou leefwyse. As ek meer tyd vir myself gehad het, sou ek graag ánder vaardighede wou aanleer, soos pottebakkery, ’n wynkursus, sielkunde … Nou sal ek seker maar ’n produksie daaroor moet saamstel en deur my navorsing daardie vaardighede aanleer.”

Margit het immers nog nooit van uitdagings weggeskram nie. Sy het al Kilimandjaro en Macchu Pichu uitgeklim. Vir persoonlike bederfies is daar lees, soms ’n bietjie TV, ’n blaaskansie op hul stoep op Pringlebaai en elke tien dae ’n gesondheidmassering, ’n mani- en pedikuur en diepreinigende velsorg.

“My lyf en my stem is my gereedskap – al die spanning krop in jou spiere op en dit moet verlig word.”

Modebewus is sy glad nie. “Wanneer ek nie uitgaan of my vir ’n geleentheid moet tooi nie, dra ek selde grimering. Natuurlik wil ek darem skaflik lyk, maar ek is glad nie ’n modeslaaf nie – ek verkies ’n tydlose styl en klere waarin ek gemaklik voel.”

Terug by haar tuiskantoor raak Margit weer aan die administrasie waarmee sy vroeër so tussendeur die huisregrukkery begin het. Haar dagboek is vol. Daar’s die nuwe vertoning, #dowwedolla, opvoerings van die pantomime Liewe Heksie: Flower Power, die skryf en vervaardiging van die nuwe Vlooi-produksie, opvoedkundige kinderteater vir Kunstekaap, optredes as geleentheidscompère as Margit én haar alterego, onderhandelings vir ’n moontlike rolprent, en raamwerkvoorbereiding vir ’n nuwe pantomime en 2017 ’n nuwe vertoning saam met Hannes van Wyk.

Tussendeur is daar ook baie stem- en radiowerk, sake-etes, teaterbesoeke én die daaglikse administrasie van die teater-restaurant, Die Boer: vergaderings met verskaffers en kunstenaars, repetisies, nóg administrasie én optredes!

“Dit is hoe ’n redelike normalerige dag verloop – as ek nie op toer is nie. Só ’n dag eindig gewoonlik teen eenuur die volgende oggend. En wanneer ’n dag skeef loop, dan val die wiele af en spat die vonke, want elke dag is propvol uitdagings. As iets verkeerd loop, domino die dag en alles is laat. Ek voel dikwels aljimmers of ek op drie wiele balanseer en moet gedurig vure blus en heluit prioritiseer.”

Margit het onlangs 46 geword. “Tien jaar terug sou ek miskien ’n lang lysie gehad het van wat ek graag anders sou wou hê en aan myself sou wou verander. Nie meer nie. Vroeg in die dertig het ek nie altyd gehou van die mens in die spieël nie, en ek moes hard werk om myself te leer ken én te aanvaar. Deesdae skrik ek wel as ek in die spieël kyk en sien ek is nou ’n tannie: behoede my, nooit! Luca het so twee jaar terug by die KKNK baie punte gekry toe ’n matriek-seun by een van die verkeerstange vir my sê: ‘Ry maar deur, tannie.’ Luca wou weet hoekom hy my ’n tannie noem? ‘Mamma is mos nie ’n tannie nie.’ Ek moet erken ek het nog nooit aan myself as ouer of oud gedink nie; ek voel vir altyd tussen 25 en dertig. Ek is tevrede, dankie!”

Sy is hardwerkend, eerlik, lojaal en gee om vir ander. “Maar dit maak my hardkoppig, eiesinnig en ooranaliserend. Ek sukkel om nee te sê en ek maak myself moeg oor dinge wat ek nie kan verander nie. Ek kan soms heeltemal behep – selfs effens obsessief – raak as iets my pla, of as ek voel iemand is te na gekom. Dan wil ek dit onmiddellik uitpluis en dis is gewoonlik nie die regte tyd daarvoor nie. Ek worstel regtig met onregverdigheid.”

Anders as haar alter ego, Dowwe Dolla, is Margit ernstiger. “Ek is selde ligsinnig; ek is nie ’n grapgat nie. Ek kan wel die humor in dinge sien en ek lag graag; deesdae té min. Ek dink ons is so gejaag en almal ly aan post-traumatiese stres. My werk is ook satiries van aard. Dikwels is ligsinnigheid net die omhulsel om die ernstige te verteer. Ek meen ons het almal ’n verantwoordelikheid om ’n beter wêreld te skep. Ons kán: met deernis, welwillend-heid – én respek: wedersyds!”

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.