By Boer soek ’n vrou se groot reünie het die boere en hul pasmaats weer saamgekuier, maar dit was nie vir almal ’n sprokieseinde nie. Drie van die seisoen se paartjies, naamlik Evert en Lauren, Willie en Cilmari, en Rudi en Hannes het intussen besluit om hul eie rigtings in te slaan.
“Toe ek vir die eerste keer ons tien boere ontmoet, kon ek myself nooit die reis voorstel wat ons saam gaan aanpak nie. ’n Mens dink altyd jy weet hoe die lewe gaan uitdraai, of watter impak liefde op ’n mens se lewe kan hê. Maar om op so ’n manier deel te kon wees daarvan, soveel van die eerste oomblikke saam met hulle te kon beleef … was net onbeskryflik.” Met hierdie woorde het Reandi Grey, aanbieder van die gewilde maatsoekreeks die laaste episode van die 17de seisoen ingelei.

Dit was nie net die laaste episode van die reeks nie, maar ook die eerste keer dat agt van die tien boere wat die aanvanklike kortlys gehaal het, mekaar in persoon ontmoet het. Die bymekaarkomplek was Brenaissance Wyn en Stoet-landgoed naby Stellenbosch. Twee Vrystaatse boere het nie die reünie bygewoon nie. Dit was Christof (38), ’n turksvy- en soutboer van Petrusburg, en Ruan (30), ’n skaap-, bees- en saaiboer van Tweespruit.
Reandi kon nie wag om uit te vind waar die boere met hul pasmaats staan nie…
Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo

“Jy kry ’n boer in al vier hoeke van die wêreld, maar elkeen van ons kniel op dieselfde grond in ons soektog na bietjie produksie, oes, bietjie liefde,” het hy gesê met Lauren styf onder die arm vasgeknyp.
Hy en Lauren het erken dat die afstand vir hulle moeilik is, maar dat hulle maniere soek om dit makliker te maak. Soos byvoorbeeld deur op hul onderskeie fone terselfdertyd na dieselfde fliek te kyk.
Maar, wou Reandi weet, is daar planne om plaas toe te trek? Lauren het glad nie ongeneë gelyk nie terwyl Evert bly glimlag het soos ’n kat wat room gesteel het.
(Evert en Lauren het sedert die verfilming van die finale episode besluit om afsonderlike paaie te stap.)
Lourie (26), is ’n beesboer van Vryburg, Noordwes

Kyk net so vir Lourie. Hy het nie alleen opgedaag nie – en hy glo hy het “die een” gekry, en haar naam is Monya. Sy was een van die briefskrywers, en haar brief en foto het glo dadelik sy oog gevang. Haar brief het boonop elke keer op Eddie en Jeandré, sy makkers wat saam met hom deur die briewe gewerk het, se hopie beland.
Tydens die reünie was die twee reeds twee maande lank in ’n verhouding.
Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas

Ná ’n heerlike kuier saam, is hy en Cilmari steeds bymekaar, en alhoewel beide oopkop is oor die pad vorentoe, wil dit voorkom asof daar ’n toekoms vir die twee saam wink.
Willie het Reandi vertel hulle het mekaar al beter leer ken, en gelukkig, tot dusver, is daar niks waarvan hulle nie van mekaar hou nie. En as ’n bonus dra sy keuse boonop sy ouers se goedkeuring weg.
(Willie en Cilmari het sedert die verfilming van die finale episode besluit om afsonderlike paaie te stap.)
Reinier (29), ’n saai-, bees- en skaapboer van Frankfort, Vrystaat

Die jong boer het op sy eie hinkepink opgedaag, met sy regterbeen stewig ondersteun deur ’n mediese stut. Hy het wel met vier van sy briefskrywers kontak gemaak – en in hierdie stadium gesels hy gereeld met een van die briefskrywers, het hy met ’n baie breë glimlag vertel.
“Ek kan nou nie sê ek is beenaf op ’n meisie nie,” het hy tergend na sy regterbeen verwys en gesê dit was waarskynlik sy gelukbringertjie.
Toe hy ’n voël op versoek van sy pa van onder die dak moes verwyder, het hy sy meniskus geskeur. Maar ten spyte van die pyn en ellende van maande buite aksie wees, was die geluk aan sy kant – die meisie met wie hy gekommunikeer het, het op dieselfde dag by die hospitaal begin werk waar hy sy knie laat versorg het!
Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton

“Lenmarie is die een wat nie wou kom nie,” het Rudi H vir Reandi gesê, maar sy het hom gou reggehelp: “Lenmarie is die een wat nie kón kom nie.”
Wat kykers nie geweet het nie, is dat Lenmarie reeds op die lughawe en op pad na die blitsafsprake was toe sy koue voete gekry het. Deels het sy aan haar intuïsie gehoor gegee, wat ook goed was, want haar dogtertjie het in die hospitaal beland tydens die week wat die plaaskuier by Rudi H plaasgevind het.
“Ek het van ’n klip af geval vir hom. Ek het baie hard geval vir hom,” het Lenmarie aan Reandi erken. Rudi H kon vir geen enkele oomblik ophou glimlag nie en het sy gevoelens vir haar behoorlik met ’n soentjie bevestig.
Lees ook: Boer soek ’n vrou: Wat jy alles oor Rudi H se Lenmarie moet weet
Nicolaas (37), ’n skaap- en saaiboer van Bredasdorp, Wes-Kaap

Hy het gesê hy’s gelukkig – sy hart is gelukkig – en dis lekker om iemand aan sy sy te hê. En hoe dan anders met ’n lieflike nooi soos Chantel?
Die twee het mekaar op die dansbaan ontmoet. Eers het hy met een van Chantel se vriendinne gedans, en toe volg ’n draai om die baan met haar, wat opgevolg is met ’n afspraak, sommer die volgende dag.
Vreemd genoeg het die twee baie gemeenskaplike vriende, maar hulle het mekaar nog nooit voor daardie aand van die dans ontmoet nie.
Bloot toevallig het Chantel (’n opvoedkunde sielkundige) en ’n kollega ’n praktyk in Bredasdorp oopgemaak, nog lank voor die dans. Nou werk die kuiery baie lekker uit.
Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal

Rudi het erken hy het ná afloop van die plaaskuiers tog alleentyd nodig gehad. Hannes het hom daarin ondersteun omdat hy sélf ook by tye alleen wil wees. Dis maar net om balans te vind.
Hulle het ná die Weskusvakansie Gansbaai toe gegaan waar Hannes vandaan kom. Dit het baie gehelp met onderlinge begrip tussen die twee. En ja, hulle sien mekaar om die beurt waar moontlik.
“Tyd sal leer waar ons gaan opeindig,” was Rudi se antwoord op die vraag oor hulle twee se pad vorentoe.
(Rudi en Hannes het sedert die verfilming van die finale episode besluit om afsonderlike paaie te stap.)
Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond

Sowel Pieter as Anzelle was duidelik oor een ding: Hulle doen moeite om hul verhouding oor ’n afstand te laat werk. En hulle doen dit met die grootste vreugde. Die arme Pieter het bloedrooi gebloos toe Anzelle ’n tussenwerpsel gemaak het: “My ma kan net nie wag om kleinkinders te kry nie.” Hy het gou gekeer met: “Dis ’n bietjie vroeg vir daai.”
Sou Anzelle bereid wees om haar werk en vriende prys te gee vir die plaas? Ongetwyfeld. En hoe voel sy oor haar deelname aan Boer soek ’n vrou? Sy het erken sy het nooit gedink sy sal ooit so gelukkig kan wees soos nou met Pieter nie.

Een ding is duidelik, soos Rudi dit opgesom het, en dit is dat vanjaar se boere wel liefde gevind het. Dit hoef nie liefde vir ’n pasmaat te wees nie, maar ook liefde vir jouself. En dit is goed genoeg.
KykNET stel die agtiende seisoen se tien boere op Donderdag 13 November om 20:00 bekend. Volgende op kykNET se werklikheidsreekspyskaart is Kokkedoor: Son & see wat op Donderdag 20 November begin.
Lees ook: Aitsa-musiektoekennings vereer Anton Goosen vir lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek
