EDEN het die Afrikaanse musiektoneel in 2000 tydens Aardklop betree, toe hulle hul debuutalbum If vrygestel het. Die oorspronklike groep het bestaan uit Paulo Azevedo, Johan Vorster, Sean Else en Cornel Driessen. Met hul tweede album, Point of No Return (2003), het hulle hul status as baanbrekers bevestig. Ná Sean se vertrek het Jay du Plessis by die groep aangesluit, en saam met Paulo en Johan het hulle treffer-albums soos EDEN (2006), Knieë Lam (2008) en Dekade (2010) geskep. In 2015 het hulle amptelik afskeid geneem met die album Nooit Oud Raak Nie.
Nou is die legendariese klanke van EDEN weer terug – hierdie keer as ’n drietal bestaande uit Jay du Plessis, Paulo Azevedo en Sean Else.
“Arnold het gevoel dat ons, juis omdat Afrikaans vanjaar sy 100ste bestaansjaar vier, weer daardie nostalgie moes terugbring,” vertel Paulo.
“Ons is almal amper in ons vyftigs en het gedink: kom ons geniet dit net weer,” lag Sean.

Hul eerste amptelike optrede as die “nuwe” EDEN vind plaas by die Afrikaans is 100 Jaar Groot-konsert op 20 September by die DHL-stadion in Kaapstad. ’n Week later, op 27 September, bedank hulle hul aanhangers met ’n gratis optrede by Stoetbul in Pretoria – ’n spesiale geskenk aan die lojale ondersteuners wat hulle deur die jare bygestaan het.
As bonus stel EDEN ook ’n splinternuwe enkelsnit bekend, getiteld “Kom Klop Weer”. Die lied, geskryf deur Marco van Deventer, Georic Lomas, Paulo Azevedo en Bella Coleske, speel slim met titels uit hul vorige treffers.
“Vir enige ou EDEN-aanhanger gaan dit soos ’n reis terug in tyd voel,” sê Jay.
Die musiekvideo, vervaardig deur Eric T Graham en Tehan Buys van ETC Creative, beeld dié nostalgie op ’n humoristiese manier uit. “Dit begin in ’n ouetehuis waar ons stokoud is, en eindig by Stoetbul waar ons weer soos altyd die lewe voluit leef,” verduidelik Paulo met ’n glimlag.
KYK | EDEN – Kom Klop Weer se amptelike musiekvideo
“Kom Klop Weer” is nou op alle digitale stroomplatforms soos Apple Music, Spotify en Deezer beskikbaar.
Lees ook: Vaal Riviera se Rianza: ‘Die lewe hoef nie glansryk te wees om betekenisvol te wees nie’

